Nuusbrief: Oktober 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Wenners van die ATKV-Woordveertjies aangekondig


In ’n tyd waar sosiale interaksie aan bande gelê is deur die Covid-19-pandemie, het boeke die ideale geselskap geword. Ongeag ’n uitdagende jaar het die uitgewersbedryf daarin geslaag om puik boeke die lig te laat sien.

“Dit is vir die ATKV ’n voorreg om uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Die voorafgaande kalenderjaar is een wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word en ons glo dat die wenners van die ATKV-Woordveertjies bygedra het om ’n moeilike tyd meer draaglik te maak,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.

Die wenners is soos volg:
Vanjaar word Willem Anker vir Skepsel (Queillerie) vereer met die ATKV-Prosaprys.
Die Prys vir Spanningslektuur is toegeken aan Die versoeking van Thomas Maas – Chris Karsten (Human & Rousseau).
Die wenner van die Prys vir Niefiksie is Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949 – 1981 – Stephanus Muller & Stephanie Vos (Protea Boekhuis).
Die Prys vir Poësie gaan aan Die meeste sterre is lankal dood – Johann de Lange (Human & Rousseau).
Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is toegeken aan Eleanor Cornelius vir Gewone Taal: ’n Oorsig (2020). Uitgegee deur: SUN PReSS.
Die Prys vir Romanses: Liefste rooikop – Elize Davies (Romanza).
In die kategorie vir Prys vir Liefdesroman is die wenner Kanaän – Sophia Kapp (LAPA Uitgewers).

Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die leerders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

 Voorleeskategorie: Graad RR – 1
Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Moenie die melk vergeet nie
Illustreerder: Linki Brand (LAPA Uitgewers) – Magriet die stadshoender  

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3
Skrywer: Andre Trantraal (LAPA Uitgewers) – Keegan en Samier: Die sokker-fiasko
Illustreerder: Tumi K. Steyn (Pan Macmillan SA) – Minki in die middel  

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5
Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Oupa Zombie
Illustreerder: Theodore Key (Pan Macmillan SA) – Oupa Zombie  

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7
Skrywer: De Wet Hugo (Human & Rousseau) – Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10
Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Offers vir die vlieë

Ons sê hartlik geluk aan al die wenners!
 
Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.
 
Program bekend: Tuin van Digters 2021

 
Op 22 en 23 Oktober vind Tuin van Digters weer by die Breytenbachsentrum op Wellington plaas. Dié fees, wat bekend staan as die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word hierdie keer vir die tiende aaneenlopende jaar gevier en die Nederlandse digter Alfred Schaffer word vanjaar daar vereer.
 
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kan die fees weer gratis bywoon en ons sien uit daarna om ’n paneelbespreking oor die vertaling van poësie daar aan te bied. Vertaler en dosent Marius Swart sal met Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout en uitgewer Nèlleke de Jager oor hierdie onderwerp praat. Die gesprek vind Saterdag om 17:00 in die Akkoordtent plaas.
 
Klik hier vir die volledige feesprogram.

PEN-gesprek tydens die Week van het Nederlands 2021

 
Die Week van het Nederlands is van 2 – 9 Oktober gevier en die program het ’n gesprek tussen verteenwoordigers van drie PEN-sentrums ingesluit, naamlik PEN Vlaanderen, PEN Nederland en PEN Afrikaans.
 
Alfred Schaffer het ’n gesprek gelei met Alicja Gescinska (PEN Vlaanderen), Sophie Zijlstra (PEN Nederland) en Izak de Vries (PEN Afrikaans). Die gesprek, en ’n samevatting daarvan, is hier beskikbaar.

Izak de Vries het PEN Afrikaans ook verteenwoordig by ’n interessante gesprek waartydens besin is oor Fries, Kaaps, Nederlands, Afrikaans en wat ons van mekaar kan leer. Kabous Meiring het met Jelle Krol (Frysk Tresoar), Ernst Bruinsma (Afûk), Conrad Steenkamp (Afrikaanse Taalraad) en Izak de Vries (PEN Afrikaans) gesels. Luister dit gerus hier.
 
Belangrike inligting oor PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering
 
Dit is vanjaar veral belangrik dat ons ’n kworum by ons algemene jaarvergadering teenwoordig sal hê omdat daar ’n nuwe bestuur verkies word, wat uiteraard vir ons as organisasie van groot belang is. Die vergadering vind aanlyn plaas – op 19 Oktober om 18:00 via Zoom. Bevestig asseblief bywoning by penafrikaans@gmail.com om die skakel te ontvang. 
 
Almal is welkom, maar slegs opbetaalde lede sal stemgeregtig wees. Vul asseblief ’n volmagvorm in om ’n ander lid te magtig om jou stem waar te neem indien jy nie die vergadering kan bywoon nie. Laai die vorm hier af en stuur die voltooide vorm na die e-posadres hierbo. Dit is belangrik dat ons ’n rekord hiervan het.
 
Die agenda vir die vergadering kan hier afgelaai word en klik asseblief hier vir die notule van 2020 se algemene jaarvergadering.
 
Verkiesing van nuwe bestuur: besonderhede van verkiesbare kandidate
 
Namens PEN Afrikaans bedank ek eerstens die uittredende bestuur vir twee jaar se goeie samewerking. In die besonder ’n woord van opregte dank aan Naomi Bruwer, wat sedert PEN Afrikaans se totstandkoming ’n bestuurslid was en nie net vir kontinuïteit gesorg het nie, maar meer as haar deel gedoen het as tesourier van die organisasie en altyd beskikbaar was om andersins te help dink en doen.
 
Marga Stoffer en Danie Marais het beide twee termyne as onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van PEN Afrikaans gedien. In hierdie tyd het PEN Afrikaans skrywers se stemme laat hoor teen die bedreiging van hul regte, veral die afwatering van outeursreg. Ons werksaamhede het ook uitgebrei tot waar dit nou ’n aantal vaste punte op die jaarprogram het: twee sluitingsdatums vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, ’n skrywersresidensie vir ons lede in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en kursusse wat daarop gemik is om skrywers en resensente verder te bemagtig en toe te rus. Marga en Danie, ons bedank en salueer julle vir jare se werk en noue betrokkenheid.
 
Weens ander verpligtinge sal hulle nie weer tot die posisies van voorsitter en ondervoorsitter verkies kan word nie, maar Danie sal wel as bestuurslid verkiesbaar wees.
 
Dit is ’n plesier om hier besonderhede van al die verkiesbare kandidate te deel.
 
Die bestuur moet volgens ons grondwet uit ’n minimum van sewe (7) en ’n maksimum van tien (10) lede bestaan – insluitend die voorsitter en ondervoorsitter. Die kandidate onder (in alfabetiese volgorde) sou dus almal tot die bestuur verkies kon word.
 
Carolyn Meads
Herverkiesbaar
Carolyn Meads is fiksie-uitgewer by Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers. Sy was voorheen redakteur by Queillerie, en ook by Umuzi. Sy het nagraads Afrikaans en Nederlands asook joernalistiek studeer. Haar loopbaan het in die boekjoernalistiek begin en sy was onder meer die besturende redakteur van die literêre webtuiste Books LIVE voordat sy die skuif na die uitgewerswese gemaak het. Enkele van haar kortverhale is al gepubliseer.
 
Danie Marais
Herverkiesbaar
Danie Marais is ’n digter, musiekresensent en rubriekskrywer. Hy werk tans by die Woordfees as koördineerder van publisiteit en die filmfees. Hy is voormalige bestuurder en uittredende ondervoorsitter van PEN Afrikaans. Sy debuutbundel In die buitenste ruimte verskyn in 2006 en word met drie pryse bekroon: die Eugène Marais-prys 2007, die UJ-Debuutprys 2007, die Ingrid Jonker-prys 2007. Daarná verskyn Al is die maan ’n misverstand (2009), Solank verlange die sweep swaai (2014) en die rubriekbundel Pruimtwak & Skaduboksers (2015). In 2015 word die Cordis Trust se Orde van die Beiteltjie aan hom toegeken vir sy deurlopende ywer in die bevordering van areas van die Afrikaanse woordkuns.
 
Dibi Breytenbach
Nuwe benoeming (benoem deur Carolyn Meads, gesekondeer deur Izak de Vries)
Dibi Breytenbach is as skrywer bekend vir spanningsromans. Daar het al twee drieluike uit haar pen verskyn. Die eerste bestaan uit Heiliger, Saliger en Vrediger, en die tweede uit Dowe gode, Blinde gode en Stom gode. Sy is ’n regsgeleerde met meer as twintig jaar ervaring in die strafregstelsel, waar sy veral by kindersake betrokke is.
 
Fiona van Kerwel
Herverkiesbaar
Fiona van Kerwel is projekbestuurder van die Woordfees se WOW-projek (Woorde open wêrelde). Om leerders en opvoeders se horisonne te verbreed, bied WOW in skole en gemeenskappe kreatiewe programme aan wat gerig is op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste.
 
Izak de Vries
Herverkiesbaar
Izak de Vries is ’n skrywer, fotograaf en joernalis. As skrywer is hy veral vir sy kortverhale bekend. Bundels uit sy pen is: Kom slag ’n bees (1998) en Byna liefde (2008). Hy het al Afrikaanse letterkunde doseer, as redaksionele bestuurder by LitNet gewerk en het uitgebreide ervaring in die uitgewersbedryf: as uitgewer, uitgewerskonsultant en later ook bemarkings- en kommunikasiebestuurder. Tans is hy weer aan LitNet en susterwebwerf Voertaal verbonde.
 
Mercy Kannemeyer
Nuwe benoeming (benoem deur Catrina Wessels, gesekondeer deur Jolyn Phillips)
Mercy Kannemeyer is ’n skrywer, teatermaker, regisseur, navorser, meningsvormer en gespreksfasiliteerder. Sy lewer meningstukke en resensies vir onder meer LitNet, Vrye Weekblad, Taalgenoot, Stilet en Klyntji. Kortverhale uit haar pen is in verskeie bloemlesings opgeneem. Sy werk tans aan haar debuutkortverhaalbundel.
 
*******
 
VOORSITTER (een kandidaat vir een vakature)
Bernard Odendaal is ’n digter, letterkundige en direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy debuutbundel Onbedoelde land verskyn in 2007, waarná ’n rubriekbundel in 2016 die lig sien (Woorde hul stories sien ken) en sy tweede digbundel Nootvat. Kwashaal. Stapel in 2021 verskyn. In 2015 ontvang hy ’n ATKV-SA Akademie-prys vir gehaltenavorsingsartikels in Afrikaans.
 
ONDERVOORSITTER (een kandidaat vir een vakature)
Jolyn Phillips is ’n digter, skrywer, akademikus, musiek- en teatermaker. Sy ontvang in 2018 die NIHSS-prys vir beste fiksie vir haar debuutkortverhaalbundel, Tjieng Tjang Tjerries, en die UJ-Debuutprys vir haar Afrikaanse digdebuut, Radbraak. Hierná volg haar bundel Bientang (2020), waarvoor sy die Eugène Maraisprys ontvang. Sy doseer Afrikaanse metodiek, letterkunde en vertaalteorie aan die Universiteit van Johannesburg.
 
Ons is dankbaar vir die verkiesbare kandidate se bereidwilligheid. Die stemming vind virtueel tydens ons algemene jaarvergadering op 19 Oktober plaas.
 
Podsendings

Die laaste van ons reeks podsendings wat uit aanlyn kursusse van 2020 bestaan, is nou aanlyn beskikbaar vir enigeen wat wil luister.

Klik hier vir die tweede episode wat saamgestel is uit die aanlyn kursus oor die skryf van jeugverhale wat Anzil Kulsen en Jan Vermeulen aangebied het.

Kry die volledige stel opnames op ons YouTube-kanaal.

Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2021
 
Ten slotte deel ons graag ’n lys van nuwe Afrikaanse boeke wat vandeesmaand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans