Nuusbrief: November 2018

Beste lede en ondersteuners van PEN Afrikaans

Jamal Khashoggi

PEN Afrikaans betreur saam met PEN-sentrums wêreldwyd die skokkende dood van die bekende Saoedi-joernalis Jamal Khashoggi, wat op 2 Oktober die Saoedi-Arabiese konsulaat in Istanboel besoek het om dokumentasie te bekom met die oog op sy voorgenome huwelik aan Hatice Cengiz, en nie weer gesien is nie. Die regering van Saoedi-Arabië het intussen erken dat Khashoggi vermoor is, maar beweer dat daar nie van owerheidskant enige betrokkenheid by die moord was nie.  

Khashoggi se laaste rubriek, wat postuum in The Washington Post verskyn het, heet “What the Arab world needs most is free expression”. Die stuk is hier beskikbaar.

PEN Afrikaans roep saam met duisende stemme vanoor die wêreld vir ’n onafhanklike ondersoek na die dood van Jamal Khashoggi.

George Orwell het gesê: “Freedom of the press, if it means anything at all, means the freedom to criticise and oppose.” Laat ons hierdie vryheid koester, beskerm en ten sterkste beswaar maak wanneer dit onredelik aan bande gelê word.  

In ’n bydrae op LitNet bevestig Herman Wasserman dat dit ’n gevaarlike tyd is om ’n joernalis te wees. Gevaarligte flikker ook hier in Suid-Afrika, waar die organisasie Freedom House se klassifikasie van Suid-Afrika se vlak van mediavryheid afgeneem het van “vry” na “gedeeltelik vry”. Wat Suid-Afrika betref, eindig die verslag tog op ‘n positiewe noot.

Die toekoms van Rhodes Universiteit se Departement Afrikaans en Neerlandistiek

PEN Afrikaans het in Oktober met kommer kennis geneem dat die toekoms van die Departement Afrikaans en Neerlandistiek van Rhodes Universiteit in gedrang is. Soos ander besorgde partye het ons ’n brief aan die universiteit gerig waarin ons gevra het dat hulle herbesin oor die dreigende opheffing van dié departement. Ons skrywe kan hier afgelaai word.

Anton Vorster het in kommentaar onderaan Yves T’sjoen se LitNet-artikel die bemoedigende nuus gedeel dat die skrywes uit verskillende oorde daartoe gelei het dat ’n nuwe gesprek met die universiteitsbestuur begin het. Ons sal die saak volg en ons lede op hoogte hou.


SALA vereer topskrywers

Die South African Literary Awards (SALA) is op Dinsdag 6 November tydens ’n prysfunksie by Unisa oorhandig. Hierdie pryse word deur the wRite Associates in samewerking met die Departement Kuns en Kultuur toegeken en vier jaarliks die uitblinkers in die Suid-Afrikaanse literêre landskap.

Afrikaanse skrywers wat toekennings ontvang het, is:

  • Nicole Jaekel Strauss, mede-ontvanger van die Nadine Gordimer-kortverhaalprys vir haar bundel As in die mond
  • Jaco Jacobs, wat die prys vir kinder- en jeugfiksie met Marilyn Honikman deel
  • Dan Sleigh, wat die romanprys vir sy historiese roman 1795 ontvang het
  • Hermann Giliomee, wat vir sy lewenswerk vereer is.

 Baie geluk aan al die wenners! ’n Volledige lys is hier beskikbaar.

Uitnodiging na die bekendstelling van Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

Dit is lekker om ons lede uit te nooi na die bekendstelling van ’n boek deur een van ons bestuurslede.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé is in ‘n resensie beskryf as ‘n “manjifieke prosadebuut” en ‘n “knallend vermaaklike en slim boek”. Die skrywer sal op 1 Desember met Louis Esterhuizen, digter, teksversorger en ook ‘n PEN Afrikaans-lid, in gesprek wees. Ons hoop om jul daar te sien.

Ons nooi ook graag ons opbetaalde lede om voortaan nuus oor jul nuwe boeke, boekbekendstellings of ander gebeurtenisse met ons te deel sodat ons dit by ons nuusbrief kan insluit. Maak asseblief seker dat jul nuus ons teen die einde van elke kalendermaand by penafrikaans@gmail.com bereik.  

PEN Afrikaans Vertaalfonds: aansoeke ingewag

Die volgende sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds is 15 November. Buitelandse uitgewers kan tot dan aansoek doen vir befondsing om ‘n boek wat oorspronklik in Afrikaans verskyn het, te vertaal met die oog daarop om dit uit te gee.

Volledige inligting oor die Vertaalfonds is hier beskikbaar.

Wat elke skrywer moet weet: selfpublikasie

Dave Henderson, stigter van myebook.co.za, gee in hierdie maand se artikel ’n oorsig oor selfpublikasie. Hy verduidelik watter opsies aan skrywers beskikbaar is en gee praktiese wenke. Die stuk is hier beskikbaar.

Baie dankie aan Dave vir die insiggewende en toeganklike uiteensetting.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in November 2018

Oudergewoonte sluit die nuusbrief af met die lys van nuwe Afrikaanse publikasies wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het!

Die publikasielyste vir November kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans