Nuusbrief: Junie 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertaling van Ons wag op die kaptein deur Elsa Joubert

 

Kort voor die eenjaar-herdenking van die afsterwe van Elsa Joubert, een van Afrikaans se grootste skrywers, kondig PEN Afrikaans met trots aan dat ’n Nederlandse vertaling van Ons wag op die kaptein deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds sal word.
 
Dit volg na deeglike oorweging van aansoeke wat teen die Mei 2021-sperdatum ontvang is.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bevorder die Afrikaanse letterkunde in die buiteland deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.
 
Ons wag op die kaptein is die debuutroman van Joubert, wat op 14 Junie 2020 aan Covid-verwante oorsake oorlede is. Dit sal deur Rob van der Veer vertaal word en na verwagting in November 2021 by Uitgeverij Aldo Manuzio verskyn.
 
Dié klassieke roman is oorspronklik in 1963 gepubliseer en is in 1964 met die Eugène Marais-prys bekroon. Sedertdien is dit in Engels vertaal, vir die verhoog verwerk en in 2005 heruitgegee as deel van Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, se Klassiek-reeks.
 
Pieter Rouwendal, uitgewer by Aldo Manuzio, meld in sy aansoek die hoë literêre gehalte van die roman. Wat tema betref, sê Rouwendal dat rassediskriminasie steeds in byna elke moderne samelewing ’n realiteit is, en dat Elsa Joubert se kragtige roman daarom ook in die Nederlandse media aandag behoort te kry.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.
 
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
 
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/
 
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

 

Ons deel graag die volgende artikel in ons kwartaallikse reeks wat skryfverwante onderwerpe belig. Chase Rhys, bekroonde skrywer, dramaturg en uitvoerende kunstenaar, skryf in hierdie aflewering oor perspektief en dialoog. Die artikel is hier beskikbaar.

Baie dankie aan Chase vir die waardevolle bydrae.
 
Jongste verwikkelinge: Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
 
Ten spyte daarvan dat president Cyril Ramaphosa in 2020 besluit het om nie die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te onderteken nie, maar dit terug te stuur na die parlement vir heroorweging, was daar nie deurgaans tekens dat sy besware ter harte geneem sou word nie.  
 
Daarom was die gebeure by ’n onlangse vergadering van die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ’n welkome en verrassende wending vir onder andere skrywers en uitgewers. Die komitee het aanbeveel dat die Nasionale Vergadering sy vorige aanvaarding van die wetsontwerp as ’n artikel 75-wetsontwerp heroorweeg, en die wetsontwerp na die komitee terugverwys om prosedurele en substantiewe probleme reg te stel. Hierdie aanbevelings is eenparig by ’n parlementsitting op 1 Junie aanvaar.
 
Hierdie verwikkelinge skep weer ruimte vir openbare konsultasie oor die aspekte van die wetsontwerp wat as problematies en ongrondwetlik beskou word. Hopelik sal dit hierdie keer betekenisvolle raadpleging wees wat tot ’n billike en werkbare hersiene Wet op Outeursreg lei.
 
’n Langer proses is nie vir almal blye nuus nie. ’n Kopiereguitsondering vir blinde en siggestremde lesers se toegang tot boeke sal byvoorbeeld nou langer neem om deel van ons kopieregwetgewing te word. Die bestuur van PEN Afrikaans is dit eens dat hierdie kategorie lesers toegang tot boeke behoort te hê onder ’n kopiereguitsondering wat in lyn is met die Marrakesj-verdrag. Dit is ons oortuiging dat daar geen noemenswaardige teenkanting uit skrywers- en uitgewersgeledere hierteen bestaan nie en dat dit uiters jammer is dat visueelgestremde lesers se toegang tot boeke langer belemmer word omdat dit in die moeras van werklik problematiese bepalings verstrengel geraak het. Ons doen ’n beroep op die wetgewer om werk hiervan te maak.  
 
PEN Afrikaans en LitNet Gespreksreeks: Max du Preez

 

PEN Afrikaans en LitNet bied vanjaar ’n reeks gesprekke aan oor die integriteit van inligting, akkurate beriggewing, asook uitdrukkings- en persvryheid.
 
Die veteraanjoernalis Max du Preez beantwoord hierdie keer ‘n aantal vrae. Lees hier wat hy oor vrye spraak geloofwaardige joernalistiek sê.
 
Welkom aan nuwe lede
 
Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende mense wat sedert ons vorige nuusbrief as lede by ons aangesluit het:
 
Erla-Mari Diedericks
Lamé Ebersöhn
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2021
 
Laastens deel ons oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het!
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans