Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
In hierdie eerste nuusbrief van 2021 wens ek julle graag namens die bestuur van PEN Afrikaans ’n voorspoedige jaar toe. Mag dit met julle goed gaan ten spyte van die moeilike omstandighede waarin ons ons steeds bevind.
Lees verder vir, onder meer, ’n uitnodiging om aansoek te doen vir ’n skrywersresidensie,’n spesiale PharosAanlyn-aanbod vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans, ’n huldiging van Margot Luyt, die eerste in ’n nuwe reeks onderhoude in samewerking met LitNet, die aankondiging van ons nuwe tesourier, inligting oor fakture vir ledegeld 2021 en ’n hartlike welkom aan die nuwe lede wat onlangs by ons aangesluit het.
Afrikaanse skrywers uitgenooi vir maand se skrywersverblyf
DIe Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans nooi vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uit om aansoek te doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Die doel met hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Die fokus van die residensieprogram is veral gemik op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.
De historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers met die nodige dissipline en motivering om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.
Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 28 Junie tot 23 Julie 2021, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.
Alle genres sal oorweeg word.
Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 19 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet bestaan uit:
- ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak
- ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
- ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
- ’n Brief van ’n uitgewery wat daarin belangstel om die aansoeker se werk uit te gee of vir publikasie te oorweeg, sal sterk in die kandidaat se guns tel.
Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude met kortlyskandidate sal plaasvind op 16 April. Die suksesvolle aansoeke sal in die week van Wêreldboekedag (23 April) aangekondig word.
Die inligting is hier op ons webwerf beskikbaar.
In memoriam: Margot Luyt
PEN Afrikaans betreur die afsterwe van Margot Luyt, een van ons erelede sedert 2016. Erelidmaatskap is aan haar toegeken vir haar uitsonderlike bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse woordkuns. Deur haar werk by RSG het sy talent geslyp, geleenthede geskep en gedigte en kortverhale landswyd in mense se huise laat weerklink. Ons bring aan haar hulde deur Frieda van den Heever se afskeidswoorde aan Margot Luyt te deel. Baie dankie aan Frieda. Luister hier na die huldigingsprgram op RSG se Vers en klank.
Ek groet jou, Meluytjie
Ek onthou een van my eerste radiodramas met ’n emosionele toneel. Die trane loop oor my wange terwyl ek die toneel doen en sy stop my en sê: “Skat, dis baie mooi om na te kyk, maar jou gehoor is blind.” Sy kon sê “Skat, sotto voce”, met ‘n glimlag en ‘n soet stem net nadat sy haar humeur verloor het. En so het ons almal ander dinge van Margot wat ons gaan mis. Ek is aan die een kant verlig dat sy nie nou die era van maskers in die radio-ateljee hoef mee te maak nie. Margot en maskers sou nie saamwerk nie. ’n Eerlike vertolking was heeltemal te hoog op haar lys.
Ek het by Margot se roudiens gesê dat ek dink sy het dikwels agter woorde geskuil. Dit het nie eintlik gegaan oor woorde nie, maar oor mense. Woorde was ’n brug na mense en soms ’n muur om haarself te beskerm. Ek het haar Meluyt genoem en as sy hardkoppig was, Meluytjie. Die kind in haar was altyd teenwoordig – al beskryf meeste mense haar as “lewensgroot” of “larger than life”, selfs as ma, as ouma, veral saam met Graham en ook as regisseur. Sy het ’n paar maande gelede vir my gevra om ’n kennisgewing te maak en te gaan hang bo die ingang van P2 (waar sy Vers en Klank en Kortom opgeneem het) en P4 (die drama-ateljee by die SAUK). Dit moes lees: “Margot is vir julle baie lief.” Gerig aan al die akteurs en stemkunstenaars wat op die beste van dae maar skrikkerig vir haar was. So skrikkerig dat hulle nie wou foute maak nie en óf ’n mini-ineenstorting sou kry óf die beste werk van hulle lewe doen.
Sy is dikwels beskryf as ’n perfeksionis, maar dit was nie omdat sy gedink het sy is perfek nie. Sy was deeglik bewus van haar eie tekortkominge en sy het aanhou stoei met die engel. Haar mank heup het haar egter nie verhoed om die trappe aan te hou klim nie. En ons moes saamklim!
Dis nie net Margot se “sterkvrou-geit” nie, maar ook haar weerloosheid, wat ons almal beter gemaak het as wat ons was … haar gees leef voort in die ateljee. En dan bly daar seker niks anders oor om te sê nie as: “Mag dit met ons almal goed gaan.”
PEN Afrikaans en LitNet loods reeks onderhoude
PEN Afrikaans en LitNet gaan ’n reeks gesprekke aanbied oor die integriteit van inligting, akkurate beriggewing, en uitdrukkings- en persvryheid.
Lees die eerste gesprek hier. Herman Wasserman, professor van mediastudies aan die Universiteit Kaapstad, is aan die woord oor disinformasie. Hy brei uit oor die impak daarvan, faktore wat daartoe bydra en praktiese maniere om dit teë te werk.
Spesiale aanbod: PharosAanlyn
Lede van PEN Afrikaans is by uitstek woord- en taalmense en hoef dus nie oortuig te word van die waarde van woordeboeke nie. Baie dankie aan Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, wat ’n spesiale aanbod aan opbetaalde lede van PEN Afrikaans beskikbaar maak.
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kan tot 31 Maart 2021 vir PharosAanlyn via e-pos kontak by sales@pharosonline.co.za om ’n 15%-afslag koepon te kry. Dit sal geldig wees vir enige PharosAanlyn-subskripsie vir die jaar. Navrae kan aan dieselfde e-posadres gerig word.
Kyk by hierdie skakel na die verskillende aanbiedings waaruit lede kan kies: Enkelgebuiker – PharosAanlyn
Voorleggings ingewag: Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie 2021
Digters of hul uitgewers word uitgenooi om in te skryf vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie 2021.
Die prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die prys word slegs vir ’n werk met ’n ISBN toegeken wat gedurende die twee jaar voor die jaar van beoordeling verskyn het. Dit wil sê, vir die 2021 Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie kom bundels in aanmerking wat in 2019 en 2020 gepubliseer is.
Die sluitingsdatum vir voorleggings is 1 Maart. Die kortlys sal teen 15 Junie bekend gemaak word en die wenner sal op 1 Julie aangekondig word.
Navrae kan gerig word aan Ronel de Goede (Foster), sameroeper van die pryskomitee, by rf@sun.ac.za.
Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede
Fakture vir 2021 se ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word.
Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:
- Anthony Penderis
- Dianne Du Toit Albertze
- Elmarie Viljoen-Massyn
- Hannes Visser
- Heléne van der Westhuizen
- Henning Janse van Vuuren
- Lydia Gittens
- Zelda Mans
Nuwe tesourier
Ná ses jaar as PEN Afrikaans se tesourier het Naomi Bruwer aan die einde van 2020 die tuig neergelê, maar bly aan as ’n lid van die bestuur. Namens die res van die bestuur: baie dankie aan Naomi vir die groot werk wat sy deurgaans so goed verrig het. Die oudit verlede jaar was veral ’n buitengewone werkslas, met die impak van Covid-19 wat tot ellelange vraelyste en bykomende stappe gelei het. Dankie vir jou tyd, deeglikheid en integriteit, Naomi.
Izak de Vries is deur Marga Stoffer benoem om as tesourier oor te neem, ’n voorstel wat tydens ’n bestuursvergadering op 21 November 2020 deur die bestuur gesteun is. Izak het die aanstelling aanvaar en is met ingang 2021 ons nuwe tesourier. Baie dankie vir die bereidwilligheid, Izak, en by voorbaat dankie vir die samewerking.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Kyk gerus ook hier na ons oorsig van Desember 2020 se boekstories.
Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2021
Die stewige lys van nuwe Afrikaanse boeke wat in Januarie en Februarie verskyn het, voorspel goeie dinge vir ’n jaar vol boeke. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans