Nuusbrief: Augustus 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Die afgelope maand was moeilik vir menige. Die derde vlaag van Covid-19 was hier. Geweld en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng het die land geruk.

In die lig daarvan deel ons hier ‘n gedig deur Finuala Dowling wat verlede maand geskryf en op sosiale media versprei is. 



Sien Dowling se Instagram-profiel vir die oorspronklike plasing.

PEN-VIDA-telling
 
VIDA: Women in Literary Arts is ’n VS-gebaseerde literêre organisasie wat daartoe verbind is om die stand van sake rakende geslagsverteenwoordiging in die uitgewers- en resensiewese te ondersoek en te boekstaaf. Dit word gedoen deur ’n jaarlikse telling wat aandui hoeveel manlike skrywers gepubliseer, geresenseer en bekroon word, teenoor hoeveel vroulike en nie-binêre skrywers dieselfde platforms, publisiteit en erkenning kry. In die proses is daar al groot geslagsongelykheid in die literêre wêreld (primêr in die VSA) blootgelê.
 
Vanjaar is PEN-sentrums wêreldwyd deur PEN International genooi om ’n bestekopname te doen van geslagsverteenwoordiging onder wenners van literêre pryse. Elke PEN-sentrum kon tot 10 letterkundige pryse identifiseer wat prominent is in die betrokke taalgebied en die data vir daardie pryse se wenners van 2016 – 2020 deurgee.
 
PEN Afrikaans het, soos versoek, inligting oor 10 literêre pryse se wenners oor die afgelope vyf jaar deurgegee.

Die pryse is:
ATKV Woordveertjies: Poesië
ATKV Woordveertjies: Prosaprys
Jan Rabie-Rapportprys: Debuut- of tweede prosawerk
kykNET-Rapportprys: Fiksie
kykNET-Rapportprys: Niefiksie
Media24 Boeke literêre pryse: WA Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie
SA Akademieprys: Eugène Maraisprys
SA Akademieprys: Hertzogprys
UJ-Pryse: Debuutprys
UJ-Pryse: Hoofprys  

Die resultate wys dat 68.6% van die bekroonde boeke deur mans geskryf is en 31.4% deur vroue. 
 
Ons het ook ’n breër telling gedoen van wenners van literêre pryse waarvoor Afrikaanse boeke in aanmerking kan kom. In sommige gevalle is die pryse nie uitsluitlik vir Afrikaanse boeke nie. Vanaf 2016 – 2021 (sover) is wenners van letterkundige pryse 58.6% manlik, 37.6% vroulik en 3.8% van wenpublikasies het óf ’n regspersoon as outeur óf meerdere redakteurs en/of samestellers wat die toeskryf aan ’n spesifieke geslag sou problematiseer.
 
PEN International sien die PEN-VIDA-telling as ’n manier om prakties uiting te gee aan die PEN International Vrouemanifes, want uitsluiting op grond van geslag kom neer op ’n vorm van sensuur.
 
Hier is die skakel na die manifes – gepaste leesstof met dié dat ons pas Nasionale Vrouedag gevier het: 
https://pen-international.org/who-we-are/manifestos/the-pen-international-womens-manifesto
 
Kortlyste aangekondig: kykNET-Rapport-boekpryse

 
Die kortlyste vir die kykNET-Rapport-boekpryse vir Afrikaanse fiksie en niefiksie wat in 2020 verskyn het, is pas bekend gemaak. Vier boekpryse ten bedrae van R750 000 altesaam is op die spel: die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans) en niefiksie onderskeidelik, die kykNET-Rapportprys vir die mees verfilmbare boek (fiksie of niefiksie) en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.
 
Die kortlyste is:
 
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
Skepsel deur Willem Anker (Queillerie)
Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché (Human & Rousseau)
Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith (Tafelberg)
 
KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE
Stilspraak: Strijdom van der Merwe en landkuns deur Carina van der Walt (African Sun Media)
Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981, saamgestel deur Stephanie Vos en Stephanus Muller (Protea Boekhuis)
’n Enkele verhaal: Die jag op ’n reeksverkragter deur Deon Wiggett (Penguin Random House)  

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM
Wolk deur Hannes Barnard (Lapa)
Middernag deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
Weerlose meganika deur Anton Roodt (Tafelberg)
 
JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERK (ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE)
As die Cape Flats kon praat deur Brian Fredericks (Human & Rousseau)
Weerlose meganika deur Anton Roodt (Tafelberg)
Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith (Tafelberg)  

Baie geluk aan die benoemdes! Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.
 
PEN Afrikaans se kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
 
PEN Afrikaans het ’n voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg voorberei en aan die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid gestuur as deel van hierdie ronde openbare raardpleging oor ’n wetsontwerp wat vir skrywers, uitgewers en die groter skeppende bedrywe van groot belang is.
 
Dit bly ons oortuiging dat ons lede se regte en vermoë om inkomste uit hul werk te verdien, ingrypend afgewater sal word indien daar nie nie wysigings aan die wetsontwerp gemaak word nie.
 
Ons voorlegging is hier beskikbaar.
 
Mondelinge voorleggings voor die Portefeuljekomitee vind hierdie week virtueel plaas.
 
Skryf in: US Woordfees se kortverhaalbundel 2022


Dit is tyd vir die sewende US Woordfeeskortverhaalbundel. Die vorige bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.
 
Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfeesvennoot, borg weer in 2022 die prysgeld van R30 000 wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die res van die skrywers wat in die bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Daar sal ongeveer 25 verhale vir die bundel gekies word en die spertyd vir inskrywings is 30 September 2021 om 16:00.
 
Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal in November vanjaar in die media bekend gemaak word. Die wenverhaal sal eers in 2022, tydens die bekendstelling van die bundel, aangekondig word.

Die volledige inligting is hier beskikbaar.
 
Die skryf van verhale: ’n Aanlyn kursus
 
Tydens die aanlyn skryfkursus wat Marita van der Vyver verlede jaar vir ons aangebied het, stuur Kobus Burger die volgende terugvoer wat ons hier met sy toestemming deel:
 
“Ek is dalk bietjie voortydig, maar ek wil PEN Afrikaans bedank vir hierdie wonderbaarlike skryfkursus wat julle aanbied. Marita se leiding is so teer, eerlik en opreg; en sy is geensins hovaardig of beterweterig nie. Dit voel asof ’n mens saam met ’n vriendin kuier wat jou jou op jou beste wil laat lyk vir jou Groot Dag. Ek geniet die fasilitering, die inhoud, die aanbieding en die struktuur. Daar is ’n fyn balans tussen net inligting of wenke oordra en maniere om die wenke self toe te pas en terug te neem na jou eie werk.”
 
Ons is bly om hierdie jaar die kursus te kan herhaal – hierdie keer met Jolyn Phillips as gasspreker.
 
Aansoeke vir hierdie skryfkursus, die enigste aanlyn kursus wat ons vanjaar aanbied, sluit 31 Augustus. Daar is nog ’n paar plekke beskikbaar en belangstellendes kan motiveer indien hul vir ’n beurs vir gratis bywoning in aanmerking wil kom.  Die kursusfooi is R750 en die kursus vind oor drie Saterdae via Zoom plaas.

 

Op daardie noot deel ons graag ’n volgende podsending wat uit ons aanlyn kursusse van verlede jaar saamgestel is. Luister hier na die eerste podsending van die kursus wat Marita van der Vyver saam met gasspreker Chase Rhys aangebied het. In hierdie episode is Marita aan die woord.
 
ILB se wêreldhardopleesdag vir dié wat aan Covid-19 gesterf het
 
Die Internasionale Literatuurfees in Berlyn [ILB] doen ’n beroep op individue, skole, universiteite, kulturele instellings en die media om op 5 September 2021 deel te neem aan ’n voorleesinisiatief ter erkenning van diegene wat in die pandemie gesterf het. Meer as vier miljoen mense wêreldwyd is aan Covid-19 dood, maar tog bly die statistieke dikwels abstrak. Siekte, dood en hartseer het grootliks onsigbaar geword weens Covid-beperkings. Baie mense sterf alleen, agter geslote deure, en daar is dikwels geen manier waarop familie en vriende afskeid kan neem nie. As hulle dit doen, is dit op ’n afstand of in ’n digitale omgewing.
 
Ons dink aan stemme uit die Afrikaanse letterkunde wat deur die virus stilgemaak is, soos Elsa Joubert en Rosa Smit.
 
Literatuur kan ’n rol speel om uiting te gee aan pandemie-ervaringe en die isolasie op te hef, meen die ILB. Voorlesings kan enige plek plaasvind. Enigeen wat ’n voorleesinisiatief wil reël om hierdie dag te herdenk sal meer inligting op die ILB se webwerf vind.

Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Ons maak spesiaal vermelding van die volgende onder die RSG-inhoud:
 
Onder die Skrywers en Boeke-podsendings is daar ’n gesprek (in twee dele) met een van ons stigterslede, die digter en akademikus Fanie Olivier.
 
Luister onder die Vers en klank-podsendings na Frieda van den Heever se huldiging van Petra Müller, wat op 25 Junie vanjaar oorlede is. In haar bundel Die aandag van jou oë skryf dié Hertzogpryswenner onder meer oor die verlies van ’n geliefde, in hierdie geval haar man, Wilhelm Grütter. Met die afsterwe van Leon Kruger, Frieda se man, so kort vantevore, is hierdie program onnadoenbaar aangrypende luisterstof wat iets van die krag van woorde weergee. Ons innige meegevoel aan Frieda en haar gesin in hierdie moeilike tyd.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2021
 
Ons sluit oudergewoonte op ’n positiewe noot af: met die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans