![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Aankondiging van wenners: Kyk hoe ver het ons gekom ![]() PEN Afrikaans het op 8 Junie 2024 ’n kortverhaal- sowel as ’n gedigskryfkompetisie in samewerking met die aanlyn platforms LitNet en Versindaba aangekondig. Hierdie kompetisie met die breë tema “Kyk hoe ver het ons gekom” is geloods as deel van die viering van Afrikaans Amptelik 100 en kon ’n werklikheid word danksy ’n ruim borgskap van Kruger Internasionaal. Die tema kon vanuit enige invalshoek en in enige variëteit van Afrikaans benader word en dit was verblydend om te sien hoe kreatief daarmee omgegaan is in die 188 kortverhaalinskrywings en 231 gediginskrywings wat die kompetisie gelok het. Inskrywings is deurlopend gelees en gekeur en, ná besluitneming oor die publiseerbare gehalte, al dan nie, is die kompetisie-inskrywings aanlyn gepubliseer: die gedigte op Versindaba en die kortverhale op LitNet. Vanuit hierdie poel het ’n beoordelaarspaneel in elke kategorie pas die wenners aangewys. Ons dank aan die keurders en beoordelaars op wie se kundigheid ons kon reken. Heilna du Plooy het die keuring van die kortverhale behartig en die beoordelaarspaneel het bestaan uit (alfabeties volgens van): Frederick Botha, Lynthia Julius en Deborah Steinmair. Daniel Hugo was die keurder in die gedigte-afdeling en die beoordelaarspaneel het bestaan uit: Danie Marais, Jolyn Phillips en Alfred Schaffer. Dit is ’n plesier om die wenners in die onderskeie kategorieë aan te kondig. Die prysgeld in beide inskrywingskategorieë beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner. Kortverhale Eerste plek: “Bargoens” deur Gerda Taljaard Tweede plek: “Al die voëls het neste begin” deur Charl-Pierre Naudé Derde plek: “En vergewe ons ons wonde” deur Mercia S Burger ![]() ![]() ![]() Oor die wenverhale sê die beoordelaars die volgende: “Op kreatiewe wyse word ‘Bargoens’ ’n bemoeienis met Afrikaans as taal se komvandaan. Die verhaal is ’n betowerende uitbeelding van Afrikaans se kreoolse agtergrond, ’n eertydse kombuistaal wat geminag was, maar weldra die gesofistikeerde woordeskat ontwikkel het wat tot uiting kom in hierdie poëtiese en fyn geskakeerde verhaal,” sê Frederick Botha. Hy vervolg: “Onder die tema van Suid-Afrikaanse oorlewering gee ‘Al die voëls het neste begin’ erkenning aan die koloniale geskiedenis waaraan Afrikaans haar ontstaan te danke het.” Deborah Steinmair sê oor die derdeplekwenner: “‘Vergewe ons ons wonde’ is universeel-menslik en terselfdertyd slaan dit subtiel op Afrikaans se geskiedenis, waar Standaard-Afrikaans haar eie bloedverwante stief behandel het. Dit spreek oor verwydering en berou. Die karakterisering is uitstekend en die vertelstem treffend en sonder smuk.” Gedigte Eerste plek: “my taal, no ghap” deur Keith Oliver Lewis Tweede plek: “evolusie” deur Gerda Taljaard Derde plek: “’n oorsprong” deur Ilse van Staden ![]() ![]() ![]() Wat die drie wengedigte vir die beoordelaars laat uitstaan het, is dat al drie op verskillende maniere daarin slaag om die kompleksiteite van taal en kommunikasie te belig sonder om ’n eenduidige betekenis aan die leser te dikteer. In Ilse van Staden se “’n oorsprong” en Gerda Taljaard se “evolusie” word taal nie vanuit ’n spesifieke kulturele perspektief bekyk nie, maar meer afstandelik binne ’n groter antropologiese konteks beskou. Hierdie gedigte vang iets vas van die oerbehoeftes waaraan taal gestalte gee, maar kyk ook na taal as ’n tweesnydende en ontoereikende tegnologie. Die wengedig, Keith Oliver Lewis se “my taal, no ghap” wat grootliks in Kaaps geskryf is, verwoord pyn en ’n verskeurdheid binne die groter taalfamilie deur vaardig gebruik te maak van registerwisseling, woordspel en meerduidighede. Deur Kaaps, Standaard-Afrikaans en taalkundige terminologie naas mekaar te stel word die geskiedenis, magstrukture, identiteite, leefwêrelde en ongelykhede wat met verskillende variëteite van Afrikaans verstrengel is, treffend verken. By implikasie het ons al ver gekom, want ons kom van ver, maar ons het nog ’n lang pad om te loop. PEN Afrikaans wens die wenners hartlik geluk en bedank die deelnemers en ons medewerkers vir die positiewe deelname ter viering van Afrikaans en Afrikaanse skryfwerk. Lees en deel gerus hierdie persverklaring hier en sien ook Netwerk24 se aankondiging van die wenners hier. In memoriam: Johann de Lange (1959 – 2025) ![]() (Foto: Netwerk24) Johann de Lange sê in ’n onderhoud op Versindaba: “[D]ie dood, ons sterflikheid, [is] een van die heel groot temas in die poësie, dit is die een ding wat almal van ons regoor die wêreld verenig: dat ons gebore is, liefhet & hoop, & dat ons sal sterwe.” Die nuus van sy skielike dood was besonder hartseer tyding om te kry. Hy was nie net een van die voorste Afrikaanse digters nie – hy is onder meer met die Hertzogprys bekroon – maar het homself ook onderskei as uitstekende vertaler en redakteur. Wat laasgenoemde betref kan sy aandeel as eindredakteur van die AVBOB-poësieprojek, I Wish I’d Said, uitgesonder word. Hierdie veeltalige poësieprojek, met die dood as sentrale tema, het ’n enorme reikwydte gehad, deur die jare meer as 100 000 gediginskrywings opgelewer en blootstelling gegee aan talle digters en gedigte in ons land se inheemse tale. De Lange was egter veral bekend om sy eie groot digterskap. Hy het die Hertzogprys vir poësie ontvang vir sy bundel Die algebra van nood. “Sover dit sy vers-tegniese vaardighede as digter aanbetref, is talle kritici dit eens dat Johann de Lange nie sy gelyke in Afrikaans het nie,” meld die beoordelaars Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen in die commendatio vir die toekenning van die 2021 ATKV-Woordveertjie vir poësie aan De Lange, vir sy bundel Die meeste sterre is lankal dood. “Ek het elke bundel van hom aangeskaf en my bewondering vir hom het deurentyd gegroei. Hier was ’n digter met ’n ongelooflik wye belangstellings- en kennisveld,” skryf Henning Pieterse onder meer in sy aangrypende huldeblyk aan De Lange op Versindaba. Hans Pienaar skryf in ’n huldiging op LitNet: “Natuurlik was die digkuns allerbelangrik vir Johann, maar nie belangriker as die lewe self nie. Sy soeke was altyd na die plesier en bevrediging wat die lewe self soveel beter kan verskaf.” Ons eer sy nagedagtenis en dink met deernis aan almal wat hom sal mis. Lees sy ATKV|LitNet-Skrywersalbum hier. Die wêreld van die skrywer ![]() Nathan Trantraal se artikel, die jongste aflewering in ons artikelreeks waarin daar kwartaalliks ’n nuwe artikel oor ’n skryfverwante onderwerp verskyn, is hier beskikbaar. Ons het hom gevra om te skryf oor grafiese romans en visuele storievertelling van dié aard. Hoe is dit om sulke tekste te skep? Baie dankie aan Nathan vir die treffende artikel. Die stories van Afrikaans ![]() Almal wat Afrikaans praat, ken ’n storie oor waar hulle en die taal vandaan kom, maar die stories is so uiteenlopend soos die mense wat die taal geskep en gevorm het. Soos Ready D van Die Brasse Vannie Kaap dit stel: “Afrikaans is energie. Afrikaans is kwaai. Afrikaans is Khoi. Hy’s Nederlands. Hy’s Malei. Hy’s mens. Afrikaans is die grond. Afrikaans is die stof, en Afrikaans is deel van wie ons is. Hy gaan nêrens nie.” Die nuwe dokumentêre reeks Die stories van Afrikaans, wat op Sondag 27 April op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, vier en verken al hierdie aspekte in agt boeiende episodes. Met ryk argiefmateriaal en meer as honderd gesaghebbende stemme sny dié reeks die spore van die fassinerende ware verhale van die karakters, botsings, liefdes en langpaaie wat die taal deur vier eeue gebrei het en aan die Afrika-grond bind – van die smeltkroes aan die Kaap waar drie kontinente ontmoet het tot in die onstuimige hede waar daar ewe veel opgewondenheid as kommer rondom die taal is. Lees die volledige persverklaring en kyk die amptelike voorskou hier. Kortlyste aangekondig: Akademiepryse 2025 Baie geluk aan al die skrywers wie se name op die kortlyste vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prestigeryke letterkundige pryse van 2025 pryk. Vanjaar is dit die tweede jaar dat die kortlyste van die Akademie se letterkundige pryse vooraf aangekondig word. Die pryse dien veral as erkenning en aansporing vir Afrikaanse skrywers om gehaltewerk in hul moedertaal te lewer. Altesaam 116 inskrywings is vir die vier boekpryse ontvang. Die name van onder andere die veelbekroonde skrywer Jaco Jacobs is op die kortlys vir die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur, terwyl ‘n paar vorige wenners van die Hertzogprys weer vanjaar op die kortlys is vir dié gesogte prys, te wete SJ (Fanie) Naudé (2019 en 2022), Ingrid Winterbach (2004 en 2013) en Etienne van Heerden (1989 en 2010). Die kortlyste vir 2025 se boekpryse is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer: ALBA BOUWERPRYS VIR KINDERLITERATUUR Watermeisie: Akwa se reis deur Marissa Badenhorst (Tafelberg) Geldwolfie deur Jaco Jacobs (Protea Boekhuis) Die spinnebotte slaan toe deur Marga Jonker (Tafelberg) Felina Kat geheime agent deur Louise Smit (Human & Rousseau) Die dodelikste donuts in die heelal deur Cecilia Steyn (Human & Rousseau) Kinders van die gode: die profesie van die bloedpêrel deur Antoinette Venter (Protea Boekhuis) Springboekie deur Fanie Viljoen (LAPA) SCHEEPERSPRYS VIR JEUGLITERATUUR Vuur: Is dit die einde? deur Hannes Barnard (LAPA) Toe als groen was deur An-Mari do Carmo (Luca – LAPA, Penguin Random House) Kompleks deur Louis Pretorius (LAPA) Waar jakkalse huil deur Elrien Scheepers (Tafelberg) Chakalaka uit ’n blikkie deur Sandy Schoeman (Tafelberg) Die lewe se vuil houe deur Fanie Viljoen (LAPA) EUGÈNE MARAISPRYS VIR PROSA Amma deur Charmaine Africa (Tafelberg) Die gawe van groen deur Elmarie Dercksen (LAPA) Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks (Kwela Boeke) Die onsigbare deur PJO Jonker (Tafelberg) HERTZOGPRYS VIR PROSA Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé (Human & Rousseau) Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau) Gebeente deur Etienne van Heerden (Tafelberg) Decima deur Eben Venter (Penguin Random House) Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach (Human & Rousseau) KEURDERS: Die keurders is die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: Thys Human (voorsitter), verbonde aan die Noordwes-Universiteit; Marni Bonthuys, dosent by die Universiteit van Wes-Kaapland; Marius Crous van die Nelson Mandela Universiteit; Valda Jansen, joernalis en vryskutskrywer; Bettina Wyngaard, regsgeleerde en skrywer; Amanda Marais, Universiteit Stellenbosch; Teneal Apollis, Universiteit van Pretoria en Sonja Loots, Universiteit van Kaapstad. Die wenners word op Vrydag, 25 April 2025 bekendgemaak. Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in April 2025 Baie geluk aan ons lede wat in April nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – In die lig van haar onlangse aftrede, salueer ons graag vir Marga Stoffer wat op ’n betekenisvolle en impakryke loopbaan in die uitgewersbedryf kan terugkyk. Dit sluit termyne op PEN Afrikaans se bestuur in, sowel as twee termyne as voorsitter. Ons beste wense vergesel haar! Lees in hierdie onderhoud meer oor Marga se loopbaan. – Anzil Kulsen het ons vrae beantwoord in die jongste Taalgenoot – Herfs 2025. Klik hier om die tydskrif aanlyn te lees. – Hartlik welkom aan die volgende lede wat sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit het: Ingrid Jones, Ruhan Fourie en Sandy Schoeman. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |