Nuusbrief: April 2024

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Suksesvolle aansoeke vir die PEN dit neer-residensieprogram
 
Sedert ons vorige nuusbrief is die suksesvolle aansoekers vir die Jakes Gerwel Stigting se PEN dit neer-residensieprogram aangekondig. Ons sê ook hier hartlik geluk, veral aan die twee skrywers wat PEN Afrikaans se beskikbare plekke in die skrywershuis sal vul: Anzil Kulsen en Willem Anker. 



Die PEN dit neer-residensieprogram het ten doel om vir skrywers onverstoorde skryftyd in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap te bied.
 
Ons dank aan die Jakes Gerwel Stigting wat dit moontlik maak en aan die deelnemende PEN-kollegas vir die goeie samewerking.

Wenners van Akademiepryse aangekondig
 
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas die wenners van die gesogte Akademiepryse vir 2024 aangekondig.
 
Baie geluk aan die wenners! Ons noem graag veral die volgende:
– Nicola Hanekom ontvang vanjaar die Hertzogprys vir Drama vir Mirre en aalwyn. Dit is die tweede keer dat sy die Hertzogprys, die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld, ontvang. Die prys word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken.

– Die Eugène Maraisprys vir Poësie word toegeken aan Pieter Odendaal vir sy tweede digbundel, Ontaard.

– Die CL Engelbrechtprys vir Taalkunde gaan aan prof. Eleanor Cornelius vir Gewone taal: ’n Oorsig wat “as pionierswerk beskou [kan] word”. Dit bevorder “nie net die veld van gewonetaalstudies nie, maar verteenwoordig ook ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling en verryking van die Afrikaanse taallandskap.”

– Die Elsabé Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur word vanjaar toegeken aan Zandra Bezuidenhout vir Lampie.

– Die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur word toegeken aan Antjie Krog en Ingrid de Kok (skrywers) en Fiona Moodie (illustreerder) vir Vetplantfeetjies.  

Lees hier op Netwerk24 en hier op LitNet meer oor die volledige lys pryswenners.
 
Wenners aangekondig: NB-Uitgewers se 2023 Jeugboekpryse

 

NB-Uitgewers het onlangs die wenners van hul jeugromanwedstryd aangekondig. Van harte geluk aan die wenners in die twee kategorieë, naamlik:
– ’n Tiener- of jongvolwasseneverhaal vir lesers ouer as 13 jaar: Die wenner is Sandy Schoeman met Chakalaka uit ’n blikkie
– ’n Kinderverhaal vir lesers 8 – 12 jaar oud: Die wenner is De Wet Hugo met Die doodgelukkige bure

Die wentitels word onderskeidelik deur Tafelberg en Human & Rousseau uitgegee en verskyn teen die einde van 2024.
 
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

 
Hoe skryf ‘n mens oor oorlog? Ons het vir Francois Smith gevra en deel met groot graagte sy reaksie. Klik op hierdie skakel en lees hierdie jongste artikel in ons artikelreeks, Die wêreld van die skrywer.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in April 2024
 
Baie geluk aan ons lede wat in April nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Dit sluit in: nuwe boeke deur Irma Venter, Nathan Trantraal, nuwe uitgawes van twee van Rudie van Rensburg se spanningsromans en Jaco Barnard-Naudé se debuutdigbundel.    

 
Ten slotte:
By hierdie skakel is die kopieregkenner André Myburgh se mees onlangse uiteensetting van die stand van sake met die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg.  

Ons deel ook graag die inligting oor die ATKV se Digskool wat volgende maand in Sutherland sal plaasvind, met Bernard Odendaal en Danie Marais as aanbieders.



Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans