Om oor oorlog te skryf – Francois Smith

(Foto: Willem van der Berg vir Platteland)

Hoe skryf ’n mens oor oorlog? Ek vermoed die lot om hieroor te skryf het op my geval omdat ek ’n hoogs opgeleide soldaat is, nie soseer oor ek ’n oorlogskrywer is nie. Ek bedoel, nie een van my boeke gaan eens oor oorlog nie! Goed, dit is seker nie heeltemal waar nie –  Kamphoer het sowel die Anglo-Boereoorlog as die Eerste Wêreldoorlog as agtergrond. Maar net as agtergrond!

Toe Kamphoer nog net ’n manuskrip was, moes ek op ’n dag daaroor gaan gesels met Dan Sleigh, wat een van die keurders daarvan was. Ek dink dit was sy voorstel dat ons dit doen in ’n kroeg-restaurant met die naam Boer & Brit, wat deel was van die Alphen-hotel in Constantia. Ek het gedink dit is maar net om klein jakkalsies uit die wingerd te verdryf, maar toe kom Dan met ’n taamlik ernstige beswaar: Vir ’n oorlogboek het dit darem net te min gevegstonele.

Wat?

My boek is tog nie só ene nie! Maar, Dan, wou ek protesteer, dit gaan nie oor dáárdie soort oorlog nie! Ek het egter op my tande gebyt, vir die rekening gevra en erg in die wiek geskote daar weggeswalk.

En dit het my bly pla, Dan se kritiek. Hoogs opgeleide soldate is maar dunvellig. Moet ek nou rêrig in my boek bomme laat bars en masjiengewere laat kletter? Dit was hoeka nooit my plan om oor die Boereoorlog te skryf nie. Dink net aan die hoon van my voormalige kollegas by Die Burger se kunsredaksie, almal gebore kolonialers wat as hulle die woord ABO gehoor het die vinger in die keel gedruk het. Dan moes ek maar die ander wang draai, die Vrystater wat stories oor die oorlog met moedersmelk ingekry het en grootgeword het op ’n plaas waar jy nog die fondament van die afgebrande opstal kon sien, en in my pa se geweerkluis was die dagboek van ons oupagrootjie wat krygsgevangene op Ceylon was, en saam met daardie dagboek ook die bebloede toue waarmee die einste oupa se neef se hande vasgebind is toe hy voor die Kakies se perde uit aangedryf is van sy plaas Driekop vlak duskant Rouxville na die konsentrasiekamp op Aliwal. Ag, en toe onthou ek ook hoe ek my eendag bloedgrondig vererg het in ’n geselskap wat gestop het by ’n monumentjie waar daardie Aliwal-konsentrasiekamp se kerkhof was en een van dié geselskap, ’n vrou met sulke pragtig fluitende s’e, gesis het: “How fascist!” Nou nog voel ek die ergernis soos bystekies in my nek en hoe ek wou rondgryp na besembostak, na knopkierie, na die eerste en beste ysterklip waarop ek my hande kon lê, maar tja … soos by Dan het ek toe maar net stom daar bly sit en anderpad gekyk.

Oor jou sentimente jeens oorloë moet jy liewer swyg. Of was dit Dan se kritiek wat my gepla het?

Maar daar is tog maniere én maniere om oor oorlog te skryf, dink ek toe. Vat nou maar Alexander Strachan – dit is eintlik die een wat oor oorlogskryf moet sê – en ek dink toe spesifiek aan die keer toe ek hom ontmoet het, jarre tevore, in die tyd toe ek nog as ingenieur by die WNNR gewerk het en ’n kollega gehad het wat ’n eks-Rekkie was. Nie sommer die gewone veld-Rekkie nie, maar een wat saam met kolonel Mad Mike Hoare die Seychelle binnegeval en twee maande daarvoor in die tronk gesit het. Kom ons noem dié Rekkie maar Leonard Peacock – dit was so ’n Engelsrige naam, maar hy was ver van Engels. Toe dié Leonard hoor ek stel belang in boeke en skrywers en so, vra hy my op ’n kol: “Ken jy vir Zander Strachan?”

“Nee,” sê ek, “maar ek ken sy boeke.”

Leonard het Paul Revere gerook en my so deur die wit slierte aangekyk. “Ons Rekkies wil vir Zander donner,” sê hy vir my.

Ek dink toe nog oor die naam “Zander”, want ek ken hom net as Alexander en kan nie glo dat iemand wat juis die Rekkies op die literêre mêp gesit het nou so in onguns kon verval het nie. Hy het immers gesorg dat die uitdrukking “so dronk soos ’n korporaal op ’n militêre begrafnis” op die lys idiome gekom het wat matrieks vir die eindeksamen moet leer. “Hoekom?” vra ek.

“Want hy het baie kak oor ons geskryf.”

Ek sê: “Nooit.” En toe Leonard woordeloos sy sigaret in ’n bierblikkie tip, sê ek: “Het jy ooit gelees wat hy geskryf het?”

Dit het ek ook maar heel versigtig gevra, want ek het geweet hierdie Leonard is ’n gevaarlike man. Hy het al baie mense doodgemaak. En nie in kontakte waar jy paniekerig dekking slaan en net skiet, skiet, skiet en ná die tyd dink dat jy miskien iemand raakgeskiet het nie, maar so lyf teen lyf, lem oor die keel, loop teen die kop. Nie dat hy daarmee te koop geloop het nie; mens het dit net so tussen die lyne afgelei, en dit is juis omdat hy so min daaroor gepraat het dat ek geweet het wat hy ook al oor die oorlog kwytgeraak het die waarheid is. Ek was toe pas klaar met diensplig en kon ’n GV-storie op ses myl herken. (GV op sy Engels uitgespreek, menende Grensvegter, die titel van een van daardie fotoverhaalboekies wat in die tyd voor televisie in Suid-Afrika gewild was en ikonies geword het van absurd oorgeromantiseerde weermag-anekdotes deurspek met die woord “terr”.) Leonard Peacock was kennelik nie een vir GV-stories nie en dit is daarom dat ek gedink hy sal dalk ’n Wêreld sonder grense lees en … wel, anders dink oor Zander en die Rekkies.

“Hoekom lees jy dit nie?” sê ek toe, maar steeds baie, baie versigtig.

’n Dag nadat ek die boek vir hom geleen het, stamp Leonard vroegoggend my kantoordeur oop en smyt ’n Wêreld sonder grense op my lessenaar neer.

Ek kyk hom woordeloos aan.

“Wil jy vir Zander ontmoet?” vra hy.

Ek knik.

“Hy suip elke Vrydagmiddag hier bo in die Oyster Bar,” sê Leonard. Die Oyster Bar was in die 1980’s ’n gewilde uithangplek in Lynnwoodweg, Pretoria-Oos. “Ek sal jou gaan voorstel,” sê hy.

Toe weet ek, sonder om te vra, dat daar maniere en maniere van oorlogskryf is en dat Zander die regte manier beet het. Maar wat is hierdie manier nou? Ek het vermoed dit het in die eerste instansie daarmee te make dat dit nie ’n GV-storie is nie, tweedens dat jy weermagtaal doodsekuur moet gebruik. In daardie tyd het daar heelwat sogenaamde Grensliteratuur verskyn, onder meer ’n bundel kortverhale met die titel Forces Favourites, waarin ek dié verhale wat die weermag-idioom nie honderd persent reggekry het nie terstond tot die septiese tenk genaamd GV verdoem het. Zander kry die idioom reg, dit is punt een. Verder romantiseer hy nie oorlog nie, allermins. Sy verhale is sonder fanfare, sonder ’n triomfantelike boedlustigheid, om die waarheid te sê sonder ’n verlustiging van watter aard ook al, en dan les bes sonder om ooit spoor te sny op die akker waar manne van seuns gemaak word.

Maar beteken dit dat die enigste manier om oor oorlog te skryf, is om téén oorlog te skryf? Dis maklik om te sê wat oorlogliteratuur nié moet wees nie, maar kan ’n mens sê wat dit wel moet wees, dit wil sê wat dit … goed maak? Dis tog ’n vraag waarmee ek sedertdien dikwels in die werk van studente in kreatiewe skryfkuns gekonfronteer word: Hoe skryf ’n mens oor oorlog?

Hoe skryf ék oor oorlog?

Dit is die ding wat my daardie nag, die nag nadat Dan Sleigh vir my gesê het my boek kort ’n veldslag, laat rondrol het. Hy verstaan net nie my boek nie, het ek geredeneer. Ek is nie daardie tipe skrywer nie. Punt.

Maar toe ek die volgende oggend opstaan, was die onrus nog met my. Ek het langtand voor my rekenaar gaan sit en die manuskrip oopgemaak. Moet ek regtig nou ’n gevegstoneel skryf? En waar moet dit inkom?

So het ek sit en staar. Lank. Sit en kyk en kyk en kyk. En ná ’n nog langer ruk kom daar iets tussen die suwwe stringe letters na my aangekruip. ’n Gewaarwording. Dit is nie regtig ’n gevegstoneel wat kort nie, dit was net Dan se woord vir iets wat skort, en daardie iets, die tekortkoming, is nie oorlog nie, dit is net iets soos oorlog, iets wat die beelde, die ritmes die sinsverbystering van oorlog het. En ek het ’n toneel begin skryf wat so na as moontlik aan ’n gevegstoneel is as wat ek kon kry, en daardie byvoeging, is ek vas oortuig, was ’n verbetering.

Dit alles kom by my op toe ek gevra word om te skryf oor hoe jy oor oorlog moet skryf. En ek onthou vir Dan en ek onthou sy boeke, en dit val my op dat van die gedeeltes van sy boeke wat ek die beste onthou, tonele van uiterse geweld is. Soos die stuk in Eilande waar iemand (’n slaaf?) van ’n oorvol reddingsboot gestamp word en sy hand wat aan die boot se rand klou met ’n roeispaan afgeslaan word, en dan – en dit is wat ek veral onthou – ’n oorlogstoneel in Afstande.

In Afstande se eerste skermutseling tussen die Grieke en die Persiërs, dit is sowat 400 jaar voor Christus, volg die verteller die bevelvoerder van ’n Griekse regiment van seshonderd, die Onsterflikes, deur die chaotiese maling van ’n skermutseling, en daar, in die middel van hierdie sinsbenewelende geswerm, is die sin wat my na al die jare nog bybly; plotseling kom dit, wanneer jy verwag dat hierdie bevelvoerder onsterflik alles voor hom, ook die Persiese koning, gaan platvee, net dan, wanneer jy dit die minste verwag, kry jy hierdie sin: “Maar in die swaai van sy arm steek ’n Ethiopiër met ’n borsplaat van swart olifantvel hom met ʼn bamboeslans onder sy oog dat die versplinterde punt soos vyf oop vingers agter sy kop uitbars.”

Net dit. En dit is asof dit jóú soos daardie bamboeslans tref. Waarom? Waarom werk dit? Omdat dit ’n sin is wat fantasties lyk en klink. Dit is so ’n uitsonderlike sin omdat elke woord daarin nie net deur die betekenis daarvan gekies is nie, maar ook deur die geluid daarvan, deur hoe die woorde fisiek lyk (kort, lank) deur die sinsposisie en die invloed daarvan op die sinsritme. Kyk byvoorbeeld na die gesis en geskuur van s- en v-klanke. Vra jou af waarom die haas pleonastiese woord “swart” daar is. Dit is omdat daardie a-klank die geweld van die laaste woord, die klapgeluid daarvan, antisipeer. Hierdie sin máák dus sy oorlogsgeraas terwyl hy dit sê, en dan ook met die grootste presiesheid van detail.

Daarom nog ’n vraag: Is die woord “bamboes” om die feitelike akkuraatheid daarvan gekies, of om die klankwaarde daarvan? Beslis albei. Die vyf vingers van die versplinterde bamboes laat jou letterlik die oë toeknyp omdat daardie beeld enersyds van die dooie lans ’n mensehand maak, andersyds omdat die v-alliterasie soos die pyle elders in die toneel dwarsdeur die sin suis.

In die paragraaf waaruit hierdie sin kom, is daar boonop ’n vegter met ’n “ysterbruin visskub-harnas”, en benewens die geskal van basuine (nie trompette nie!) wapper die gevegstoneel vol wimpels, baniere en vaandels, nie vlae nie – die woord “vlag” kom uit ’n woordeskat wat te kort skiet.

En dus is die eerste reël wat jy oor oorlogskryf by meester Sleigh leer, die een waarvoor hy die woord “veldslag” gebruik het, dat jy moet weet dat sinne ook kan oorlog máák: deur hoe hulle lyk en hoe hulle klink, deur die ritme daarvan, deur hoe sinne verras en skok en sus en walg omdat hulle lig en donker, gil en stilte, lewe en dood in swart op wit langs mekaar op ʼn bladsy laat kom lê en sidder.

Die tweede reël is “the naming of parts”.

“Ou maat,” het Dan Sleigh lank gelede vir my gesê, op die stoep van ’n kroeg-restaurant met die naam Boer & Brit. “As jy oor daardie oorlog wil skryf, moet jy weet wat om die Britse soldate se skoeisel te noem. Dis nie kamaste nie, dis windsels,” het hy gesê en beduie hoe daardie kakiekleurige skimme in my broeierige verbeelding lang stroke wit verband van die borand van die stewel tot net onder die knie opgebind het.

Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die generale.