Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Jakes Gerwel Stigting en PEN-skrywersresidensie Sedert ons vorige nuusbrief het aansoeke gesluit vir die residensie wat PEN Afrikaans en die Jakes Gerwel Stigting vanjaar weer saam met PEN South Africa aanbied. Baie dankie vir die belangstelling en sterk aansoeke. Die suksesvolle aansoekers, asook die internasionale deelnemers van ander PEN-sentrums, sal binne die volgende paar weke aangekondig word. Hou ons sosialemedia-platforms en nuusbrief dop. Intussen deel ons graag hier Danie Marais se indrukke van sy tyd by die Paulet Huis tydens ’n onlangse residensie wat die Jakes Gerwel Stigting saam met Passa Porta aangebied het. Danie begin sy stuk so: “Die beste manier om te sê wat die verblyf in die Paulet Huis vir my beteken het, is om te verduidelik waar ek was teen die tyd toe ek vir dié Jakes Gerwel-skrywersresidensie in die Oos-Kaap aansoek gedoen het. Die middeljarige vasvalpunt wat ek bereik het, was een waar hope ander skrywers voor my alleen in ’n stil hoekie aan ’n kombinasie van die sorge van die lewe en spesifieke persoonlike ontoereikendhede wou beswyk onder die oortuiging dat die berg na ’n volgende boek onbestygbaar is.” Klik hier om dit verder te lees. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg word provinsiaal oorweeg Baie dankie aan Izak de Vries wat tydens die Oos-Kaapse openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg ’n mondelinge voorlegging namens PEN Afrikaans gelewer het. Die voorlegging is goed ontvang deur die komitee; dit is ook skriftelik ingedien en op ons LitNet-portaal gepubliseer. Klik hier om dit te lees. Inskrywings ingewag: US Woordfeeskortverhaalbundel Die Woordfeeskortverhaalkompetisie en -bundel het al ’n instelling op die literêre kalender geword. Dit is tans oop vir inskrywings. Daar sal ongeveer 25 verhale vir die bundel gekies word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Die skrywer van die wenverhaal wen prysgeld van R30 000. Hoewel die bundel die feestema as titel sal hê, hoef skrywers dit nie as tema vir die verhaal te gebruik nie. Die tema van die verhaal word geheel en al aan die skrywer oorgelaat. Inskrywings sal tot 17:00 op 31 Mei 2023 aanvaar word. Klik hier vir die volledige kompetisieriglyne. VivA-Uitgewers stel eerste publikasie bekend Op Moedertaaldag vroeër vanjaar het VivA (die Virtuele Instituut vir Afrikaans) aangekondig dat daar voortaan ook ’n uitgewery onder die VivA-vaandel bedryf sal word. VivA-Uitgewers is pas amptelik geopen met die bekendstelling van hul eerste publikasies, Aanlyn 1 en Aanlyn 2, beide versamelings kortverhale waarin die bydraers gevra is om oor die tema “aanlyn” te skryf. Meer inligting oor dié publikasies is hier beskikbaar. VivA-Uitgewers fokus op publikasie in digitale formate, spesifiek e-boeke en luisterboeke, en beoog om ’n heenkome vir sowel gevestigde as opkomende skrywers te wees. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in April 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Daar is onder andere ’n groeproman waaraan verskeie van ons lede saamgeskryf het: Op pad na Grysberg, saamgestel deur Stefaans Coetzee. Ten slotte: – Luister gerus na ’n onlangse episode van Skrywers en boeke waarin aanbieder Ilse Salzwedel by ons voorsitter, Bernard Odendaal, aanklop oor die bewaring van ouer skrywers se literêre werk. Bernard is vanaf 40:00 aan die woord. Klik hier om na die episode te luister: https://omny.fm/shows/skrywers-en-boeke/skrywers-en-boeke-12-april-2023 – Baie welkom aan Francois Lötter en Jaco Visser wat sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit het. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |