Nuusbrief: April 2020

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Woorde vir die grendeltyd

In ’n video wat onlangs wyd gesirkuleer is, deel verskeie Afrikaanse skrywers op Marion Erskine se uitnodiging hul gedagtes oor die uitdagende tyd van inperking en sosiale afsondering wat ons tans beleef. Klik hier en luister gerus na die bemoedigende boodskappe, praktiese wenke en woorde uit hul binnekamers.

Marita van der Vyver stel dit raak wanneer sy sê: “Onthou: dis net jou lyf wat ingeperk word, nie jou brein of jou verbeelding nie. Kom ons gebruik hierdie tyd van fisieke inperking om ons verbeelding te bevry. Kom ons hou aan lees, hou aan skryf en hou aan dink.”

In die gees hiervan het ons ’n paar van ons lede uitgevra oor wat hulle tans lees en hoe hulle dit ervaar. Hier is Lynthia Julius, Jaco Fouché en Azille Coetzee se antwoorde.

Uitgewers reageer op die koronapandemie

Lees gerus “Uitgewers benoud maar moedig in die aangesig van korona” oor plaaslike uitgewers se reaksie op die koronapandemie en die staat van inperking wat daarmee saamgaan. Die gebrek aan verspreiding en verkope van gedrukte boeke is natuurlik ’n groot ontwrigting wat uitgewers noodsaak om hul publikasieprogramme aan te pas.

Sterkte aan die uitgewers en skrywers wat hard gewerk het aan publikasies waarvan die gedrukte eksemplare nie nou die leserspubliek kan bereik nie.

Tog voorsien verskeie uitgewers steeds lesers van leesstof. Die afgelope tyd is die volgende inisiatiewe rondom e-boekaanbiedings bekend gestel:

Ses skrywers gekies vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans kondig met trots die suksesvolle aansoekers aan vir die skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied.

Die fokus van die residensieprogram is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

“Ons aanvanklike beplanning was om die suksesvolle aansoekers op Internasionale Boekedag (23 April) aan te kondig, maar in hierdie tyd van inperking en beproewing is dit belangrik om ook goeie nuus onverpoosd te deel. Ons is baie opgewonde oor die sterk aansoeke en die uitgelese groep skrywers wat vanjaar van die verblyf gebruik gaan maak,” sê Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting.

Die volgende ses skrywers is as suksesvolle aansoekers aangewys:

  • Andre Trantraal
  • Beyers de Vos
  • Olivia M Coetzee
  • Sarie Nell
  • Valda Jansen
  • Veronique Jephtas

Die skrywersverblyf sal die skrywers in staat stel om vanaf 1 tot 27 Julie 2020 aan ’n manuskrip te slyp in die prentjiemooi Paulethuis in Somerset-Oos. Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

“Dit is vir PEN Afrikaans wonderlik om weer hierdie skrywersverblyf aan ons lede te kan bied. Baie dankie aan die Jakes Gerwel Stigting wat sulke gulde geleenthede vir skrywers moontlik maak,” sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans. “Hier is opwindende skryfprojekte oor ’n verskeidenheid genres in die pyplyn en begaafde skrywers wat die konsepte tot volvoering kan bring. Ons hoop dat die skrywers hul verblyf op Somerset-Oos baie sal geniet en ten volle sal benut.”

Indien dit weens die koronapandemie nodig blyk om die datums van die skrywersverblyf aan te pas, sal dit in oorleg met die suksesvolle aansoekers so gereël word.

Rig asseblief navrae aan Theo Kemp by theo@jgf.org.za

Wenners van die UJ-pryse aangekondig

Die wenners van die UJ-pryse, wat jaarliks uitsonderlike Afrikaanse boeke in twee kategorieë (debuutwerk en andersins) vereer, is bekend. Daar is vanjaar 83 titels vir die UJ-pryse ingeskryf, waarvan 18 debute is.

Die wenner van die 2020 UJ-debuutprys is Ruan Kemp, skrywer van Gedeeltelik bewolk.

Die wenner van die 2020 UJ-prys is Etienne van Heerden, skrywer van die “ambisieuse” roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Baie geluk!

UIT DIE KEURVERSLAE:

Die biblioteek aan die einde van die wêreld
“Van Heerden ondersoek in sy indrukwekkende jongste roman ’n aantal aktuele kwessies – die onlangse studenteproteste in Suid-Afrika (#FeesMustFall en #RhodesMustFall en die daaraan verbonde landskap van onderstrominge en selfs konkelary in die eietydse politiek), maar terselfdertyd die groter globale bedreiging van die deurentydse monitering van landsburgers deur middel van tegnologie. Dié aktuele gegewe word verder geskakeer deur ook die tematiek van Afrikanerwees en die posisie van Afrikaans in te voer.

Die karakteropstelling en -inkleding is kompleks, en sorg vir ’n haas panoramiese blik op die diversiteit in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing, en hulle soms problematiese interaksies. Van Heerden plaas die soeklig op hierdie soort diversiteit en onderlinge spanninge deur die karakters wat hy in die Vertaalseminaar byeenbring – van die liberale Engelse dosent, deur die jong swart aktivis Thuli en tot by Ian as ouer Afrikaner wat hom in die grysland van Afrikaneridentiteit bevind.”

Gedeeltelik bewolk
“… een van die verrassings én hoogtepunte van 2019. Hy werk voort in die tradisie van die grensroman (wat al sedert die tagtigerjare deur heelwat outeurs verken is), maar eerder as ’n  blote vertelling oor die hooffiguur se wedervaringe in die ou SAW en die Grensoorlog, is hierdie ’n vernuftige inkyk in die psige van ’n jongman wat onherroeplik deur die ervaring geskaad is.

Die roman wat aan die hand van sielkundige begrippe gestruktureer is, beeld die hooffiguur se reis deur die wêreld van sielkundige terapie en institusionalisering aan.  Sy reis deur ’n toestand van toenemende patologie word sonder handskoene, met skrynende humor, eerlikheid en onmiddellikheid aangebied, en boonop is die teks deurvleg met ’n aantal intertekstuele verwysings – waaronder die ikoniese Griet skryf ’n sprokie. Uiteindelik is dit nie net die verhaal van ’n individu nie, maar van kollektiewe skade wat deur ’n hele generasie Suid-Afrikaanse mans gely is.”

“… (wat in) die 289 bladsye aangebied word, … is niks minder nie as ’n vuishou in die maag; gril, gru; en ’n mengsel van humor en skerpsinnigheid”

Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

In hierdie aflewering van ons artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” vertel Carolyn Meads, fiksie-uitgewer by Kwela Boeke en bestuurslid van PEN Afrikaans, meer oor boeke in Kaaps uitgee. Sy skets ook die historiese agtergrond en steek by skrywers kers op.

Die artikel is hier beskikbaar.

Skryf ‘n luisterdrama en wen R100 000

Netwerk24 nooi skrywers om weer vanjaar ’n luisterdrama vir hul luisterdrama-kompetisie in te skryf. Die luisterdrama moet in die formaat van ’n radiodrama geskryf word en die wendrama sal deur Netwerk24 opgeneem en beskikbaar gemaak word.

Die kompetisie sluit 31 Julie om middernag en ‘n stewige kontantprys van R100 000 is op die spel.

Klik hier vir meer besonderhede. 

Europese Unie maan teen ondertekening van Wysigingswetsontwerp op Outeursreg 
‘n Afvaardiging van die Europese Unie het op 20 Maart in ‘n brief oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg gewaarsku teen die aanvaarding van die veelbesproke wetsontwerp. Die brief, wat aan dr Cassius Lubisi van die presidentskantoor gerig is, wys onder andere op die regsonsekerheid en ramspoedige ekonomiese uitwerking wat ondertekening van die wetsontwerp sal hê:

“The European Commission […] remains concerned about the overall coherence of the current Bill. In particular, we once again regret the foreseen introduction in the South African copyright regime of provisions relating to fair use in combination with an extensive list of broadly defined and non-compensated exceptions. This is bound to result in a significant degree of legal uncertainty with negative effects on the South African creative community at large as well as on foreign investments, including the European ones.”

Die brief is hier beskikbaar.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in April 2020

Dit is ‘n plesier om oudergewoonte af te sluit met die gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Die publikasielys, wat om voor die hand liggende redes minder uitgebreid as gewoonlik is, kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke die lig laat sien. Ons is hier om dit saam met julle te vier.  

Laastens wens ons ook die wenners van die Toyota US Woordfees se Woordtrofees 2020 hartlik geluk. Hierdie toekennings is op 7 April tydens ‘n regstreekse uitsending op Facebook bekend gemaak. Die volledige lys wenners is hier beskikbaar.

Baie sterkte verder in hierdie tyd. Laat ons moed behou, uitreik na ons medemens, en aanhou lees en skryf.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans