
Die jongste verteenwoordigende, literêr-historiese antologie in Afrikaans het in 2008 verskyn. Dit is sewentien jaar gelede. Het ons steeds ’n Groot Verseboek nodig? Het ons reeds ’n Poskaarte sedert 2000 nodig?
I
Aan die einde van 2025 is die eerste kwarteeu van die eeu waarin ons leef, verby. Dit is 25 jaar ná die millenniumwending – ’n gebeurtenis wat vir al hoe minder mense ’n eerstehandse ervaring was. Babas wat in daardie oorgangstyd, tyd van bestekopname, aflê en vernuwing gebore is, is nou ten minste 25 jaar oud en op pad na hulle dertigs. Niemand onder hulle het eerstehandse kennis van die eeuwending nie – en daarom waarskynlik ook nie van die ontwikkelinge en deurbrake rondom verteenwoordigende versamelings waaraan hierdie tydperk in die Afrikaanse poësie gekenmerk word nie. Die aanloop tot die millenniumwending, versterk deur die demokratisering ná 1994, is in die Afrikaanse poësie ’n tydperk van opmerklike aktiwiteit en bestekopname.
Ná nege uitgawes van Opperman se Groot Verseboek (1951–1983) verskyn binne vier jaar rondom die millenniumwending (1997–2000) vier uitsonderlike versamelings wat die blik op die Afrikaanse poësie verruim met uitgebreide versamelings waarin bestaande keuses in antologieë uitgedaag, uitgebrei en aangevul word, en waarin uiteenlopende benaderings en ordenings gevolg word: Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (Foster en Viljoen 1997), Die Afrikaanse poësie in duisend en enkele gedigte (Komrij 1999); Sy sien webbe roer (Spies 1999) en Groot Verseboek 2000 (Brink2000)– met die baanbrekende versameling SA in poësie / SA in poetry (Van Wyk e.a. 1988) uit 1988 as onbetwisbare voorloper.
Besprekings van die aard en bydraes van hierdie antologieë is geredelik beskikbaar, en wie die resepsie daarvan nalees, kry ook die polemieke onder oë wat in reaksie op die versamelings ontstaan het, en die groepe ten gunste van ’n bepaalde keuse of versameling, en ook daarteen. In vergelyking met die redelik skrapse inleidings tot Opperman se Groot Verseboeke is die verantwoordings in hierdie antologieë ook kenmerkend langer en deursigtiger, word benaderings en keuses oorhoofs gemotiveer. Hierin, tesame met die resepsie van hierdie bakenverskuiwende versamelings, wat natuurlik ook die polemieke daarrondom insluit, lê nie net ’n ryk geskiedenis van die Afrikaanse poësie nie, maar ook van poësiekritiek en literêr-teoretiese perspektiewe, van kanonisering.
Enige nuwe en verdere keuse of versameling uit Afrikaanse poësie behoort hiervan kennis te neem en deur posisionering en verantwoording daarop uit te brei. Dit vorm ook die agtergrond vir hierdie bydrae. Hierby moet ook navorsing verreken word soos Bernard Odendaal (2001) se ondersoek na die veelheid tematiese bloemlesings in Afrikaans aan die einde van die twintigste eeu (1986–2000) en H.P. van Coller (2006) se artikel oor die kanoniserende funksie van bloemlesings, waarby ook beknopte geskiedenisse van bloemlesings in Afrikaans ingesluit is. En dan is daar André P. Brink (2001) se lesing oor bloemlesings Groot Verseboek: kanon of haelgeweer en sy uitgebreide en insigryke inleiding tot die 11de uitgawe van Groot Verseboek (Brink 2008). Brink (2001) herinner ons aan die oorsprong van antologieë en wys ook uit hoe die eerste antologie deur die loop van eeue hersien en uitgebrei is: ’n durende proses ingegee deur ’n veranderende veld.
Eietydse gesprekke oor antologieë in Afrikaans vind noodwendig plaas teen die agtergrond van hierdie geskiedenis – maar hoef nie daardeur beperk te word nie. Die interessante vraag, die uitdaging aan almal wat in die Afrikaans poësie werk, daarby betrokke is, bly die vraag oor hoe om Afrikaanse poësie van die 21ste eeu aan die woord te stel, onder die aandag te bring, in kaart te bring – en daarom, wesenlik: hoe om dit te bestendig, toegang daartoe te bewerkstellig, dit te bewaar.
By die herlees van Brink (2001, 2008) se twee besondere bydraes (en dit is my aanmoedigende oortuiging dat almal wat bloemlesings as handleiding of vertrek- of verwysingspunt gebruik, alle poësielesers, hierdie stukke behoort te bly lees) besef mens dat die geskiedenis van bloemlesings, die benadering van hersiening en uitbreiding by literêr-historiese bloemlesings, in Afrikaans nie verander het nie. Wat wel verander het sedert 2001 (ná die eeuwending, ná Groot Verseboek 2000) en ná 2007 (tot waar die verteenwoordiging van Groot Verseboek uit 2008 strek) is al die nuwe bundels, en ook al die nuwe digters, wat die Afrikaanse poësie betree het. ’n Hele korpus poësie waarvoor ons nog nie ’n bron, of ’n paar bronne, het wat toegang vergemaklik, oorsig en verteenwoordiging gee nie. Brink (2001) verwys na “die eksponensiële groei van die Afrikaanse poësie” tussen 1980 en 2000: “meer as vier honderd bundels in twintig jaar”. In my navorsing rondom poësie publikasies van die 21ste eeu, ná 2000, stem die getal, interessant genoeg, min of meer ooreen: in die eerste kwarteeu van 21ste eeuse poësie in Afrikaans (2001–2025) verskyn ongeveer 450 nuwe bundels.
Bloemlesings, van enige aard en aanbod, vorm die ruggraat en senustelsels, die hartklop en bloedvloei, die lugweë van ’n poësie: dit is wat uitgekies word, waaraan ’n poësie geken en voor onthou word, dit is wat (herhaaldelik) opnuut onder die aandag gebring word, in kollektiewe geheues en intertekstuele verwysings opgeneem word, dit is wat persepsies van daardie poësie in stand hou en moontlik maak. Hierdie keuses (in ’n verskeidenheid bloemlesings) is wat uit die virtuele argief, daardie omvattende biblioteek van alle Afrikaanse gedigte (wat nie bestaan nie) versamel, soms herontdek, en aangebied word. Die ryk en uiteenlopende tradisie bloemlesings in Afrikaans is eksemplare van die Afrikaanse poësie, dit vorm die persepsie van wat die Afrikaanse poësie is. Dit is ook waarom antologieë altyd polemies sal bly, en waarom dit onmisbaar is. Geen keuse is onskuldig nie, alle keuses beïnvloed, het agentskap, word ondersteun, word teengestaan – dit is skering en inslag van die aktiwiteit van bewaring en aanbod. ’n Bepaalde ruiker gekies binne parameters van doel, opset, omvang en aard. ’n Tematiese kollig, ’n herkanoniserende perspektief, ’n illustrasie van ’n diskoers in die poësie, ’n snit, ’n kiekie (“snapshot”), ’n voëlvlug – ’n hommeltuigvideo. Die onteenseglike werklikheid is, dat sonder keuses, sonder versamelings, die leser op soek na ’n indruk van 21ste eeuse Afrikaanse poësie, na ’n (eerste, of uitbreidende) kennismaking, voor ’n virtuele rak van ongeveer 450 digbundels te staan kom. ’n Rak waar al die titels dalk nog teruggevind kan word (via die resepsie of bibliografieë), maar die gedigte self nie meer gelees kan word nie: omdat die werklike bundels nie meer aangekoop kan word nie, nooit deel van biblioteke se versamelings geword het nie of reeds uitgedun is.
II
In reaksie op die 100 Gewildste Afrikaanse gedigte (in 2012 gepubliseer na aanleiding van ’n lesersopname waarin 1300 gedigte geïdentifiseer is) skryf Bibi Slippers (2012) op LitNet oor die gewildheid van treffersparades en om af te tel tot by die een uitgesonderde beste, en gebruik die beskrywing “100-bedonderd”. Die probleme met hierdie soort “lysies” maak (my mooiste, beste, die gewildste) terwyl dit terselfdertyd beslis onderhoudend en gewild is om na treffersparades te luister, word goed deur Slippers se beskrywing ondervang. Soos ons immers pas gesien het met die lysies op verskillende fronte, oor verskillende onderwerpe wat opgeduik het, versamel is, aangevra is in die jaar waarin die status van Afrikaans as amptelike taal se eeufees herdenk is. Alhoewel dit ’n mynveld kan wees, kan treffersparades, die “beste” uit ’n jaar, en daarby verkieslik ook dit wat ons opgeval het as merkwaardig, onvergeetlik, heuglik, opspraakwekkend, gewild, of ontwrigtend ’n baie goeie vertrekpunt wees. Daardie lysies (tien gunsteling digbundels, of wat lê op jou bedkassie) wat ons in Desembervakansies herinner aan wat goed en interessant was, wat snaaks of onaanvaarbaar, wat agterweë gelaat is, het effens uit die mode geraak, of verskyn dalk net minder gereeld as wat ek my kan herinner. Die baie nuttige poësiekronieke wat rondom die tagtigerjare in die poësiekritiek verskyn het, het egter wel grootliks verdwyn.
Aan die einde van die jaar doen mens tog graag bestekopname, iets wat immers ook, ’n paar dae later, met die begin van ’n nuwe jaar, nuwe planne en oogmerke beïnvloed. As ek dan teen die middel van Desember van 2025 wenslysies mag maak vir bloemlesings en die Afrikaanse poësie en bloemlesings, hoe sou dit lyk?
- Al daardie versamelings wat rondom die millenniumwending verskyn het en wat ’n inleiding of oorsig, ’n kompendium van die Afrikaanse poësie aanbied, word aanvaar as ’n betroubare en verteenwoordigende keuse uit Afrikaanse poësie van die twintigste eeu.
Bedoelende: Gedigte uit hierdie eeu hoef voorlopig nie weer besoek, versamelings bygewerk en uitgebrei te word nie. Die Afrikaanse poësie uit die vorige eeu is besonder goed, verteenwoordigend en met besondere verskeidenheid in benadering en ordening gebloemlees. Wanneer ’n “nuwe” “Groot verseboek” (verteenwoordigende keuse met literêr-historiese oogmerk) onderneem word, ’n nuwe keuse uit Afrikaanse poësie, hoef dit nie nogmaals ’n keuse uit 20ste eeuse poësie in te sluit nie. ’n Volgende snit uit, ’n voëlvlug oor Afrikaanse poësie kan op die eietydse fokus: Afrikaanse poësie van ons tydsgewrig, eeu – nie Digters van Dertig nie, nie beelde … sedert 1960 nie, maar van die 21ste eeu; aan die begin van die derde millennium. Iets wat, uiteraard soos wat die eeu vorder, en soos wat die aard van literêr-historiese antologieë is, telkens hersien en bygewerk moet word.
Die betoog is nie hier teen ’n verteenwoordigende keuse wat toegang bemiddel tot eksemplare van die Afrikaanse poësie nie, dit is wel teen een omvattende “van aanvang tot hede”-projek en aanvurend ten gunste van ’n Groot Poskaarteboek. Dit is 17 jaar sedert die Brink Groot Verseboek in 2008 verskyn het – met gedigte tot en met 2007. Dit beteken dat vir die onlangse byna twee dekades se poësie (18 jaar, 2007–2025) geen antologieë bestaan waarin ’n oorsig, of verteenwoordiging van enige aard aangebied word nie. Vir ’n 21ste eeuse versameling is ons ongeveer 450 bundels se gedigte en 25 jaar agter. Dat dit (nog) nie gebeur het nie, kan aan ’n reeks faktore of omstandighede toegeskryf word, en is nie die fokus hier nie. Dat dit noodsaaklik is, beteken dat dit die wenslysie moet haal:
- Poskaarte: Afrikaanse poësie van die 21ste eeu
Waarom? Waarom sou mens aanhou keuses maak? Die grootste motivering vir versamelaars – en dit is ook iets wat mens byna sonder uitsondering by bloemlesers hoor – is die liefde vir die poësie, onlosmaakbaar vervleg met die antologie se vermoë om teks by lesers uit te bring. Elke gedig wat iewers opgeneem word, kry ’n volgende kans op ’n langer lewe, is ’n geleentheid om iewers ’n leser (opnuut) te bereik en moontlik na daardie digter, of in die breë, na die poësie, (terug) te lok. (Finansiële oorweging by hersirkulering is nie te ontken nie, Brink (2001) verwys hier na Opperman se epigrammatiese opsomming van ter wille van “die saak” of “die sak”, maar dit is nie my fokus hier nie.)
My wenslysie sluit daarom voorts ook in dat ons in ons bloemlesende aktiwiteite meer oplet na en geïnspireer word deur internasionale tendense, of dat al die baie kreatiewe idees uit ons eie geledere (sien byvoorbeeld Andries Bezuidenhout soos aangehaal deur Slippers 2012) werklik boeke word.
- Geannoteerde bloemlesings eietydse poësie – soos Komrij (2004) se In liefde bloeyende vir 21ste eeuse Afrikaans.
- Dagboeke (almanakke) – in vele veelkleurige klede: dit hoef nie te bly by uitgewers wat uit hul argiewe publiseer nie, soos Faber & Faber se reekse (https://www.faber.co.uk/product/9780571395699-faber-poetry-diary-2026)
- Bloemlesings rondom poësiepryse – soos die Griffin Poetry Prize (ingestel in 2000) se jaarlikse antologieë (sedert 2014: https://griffinpoetryprize.com/anthology/2024/ ); of dié van die Forward Prize (https://forwardartsfoundation.org/book/the-forward-book-of-poetry-2026/).
- ’n Bloemlesing-van-bloemlesings:
Die ryk tematiese bloemlesingskat van Afrikaanse poësie is ’n werklikheid – en gewild. Die moontlikhede vir tematiese bloemlesings is legio, en Odendaal (ibid.) se opname van die stand hiervan teen die einde van die twintigste eeu, kan met goeie gevolg uitgebrei word. As ons die projek van ’n verteenwoordigende korpus poësie “van alle” Afrikaanse poësie, kan agterlaat, dit as voldoende verteenwoordig tot en met die twintigste eeu kan beskou (waarmee latere herbeskouings en kanonveranderende of -verrykende versamelings nie uitgesluit word nie) moet ons steeds die onontkenbare funksie wat ’n eietydse verteenwoordigende versameling, die sogenaamd literêr-historiese bloemlesing moet inneem, erken en moontlik ook herbedink. Waarom, byvoorbeeld, kan ’n aantal bloemlesings nie die rol speel van ’n verteenwoordigende snit nie? ’n Rak bloemlesings as bloemlesing. Of ten minste voedingsbron vir ’n meer omvattende antologie van 21ste eeuse Afrikaanse poësie. Hier het ons reeds voorbeelde vir vertrekpunte met die uitgebreide argief van Johann de Lange se breinkind met die AVBOB-poësieprojek, die feesmaal van Merang (Cochrane en Roux 2025), Alfred Schaffer (2024) se versorging van die DW B-nommer O se boloke / bescherm ons, Maskers en mure (Hugo en De Jongh 2021), Elias P. Nel (2022) se Woordenaars, flikker-gram (Taljaard 2024) saamgestel via ’n Versindaba-kompetisie; en die huldigingsgedigte vir Wilma Stockenström Nogmaals vir die bysiende leser (Hambidge en Taljaard 2025).
Verder kan tematiese versamelings wat in die 21ste eeu verskyn het, ondersoek word vir die 21ste eeuse gedigte wat daarin opgeneem is, soos Frieda van den Heever (2023) se Die lewe is ’n asem lank, en Vers en vrou (De Wet 2020). En dit is afgesien van die keuses uit digterskappe soos wat in NB se reeks met nuwe versamelings uit die oeuvres van “hulle” gevestigde digters verskyn het – soos dié oor Breyten Breytenbach se liefdesgedigte (Charl-Pierre Naudé, 2019), Antjie Krog (Karen de Wet, 2020), Elisabeth Eybers (Ena Jansen, 2021) en Adam Small (Ronelda Kamfer, 2022); en verskeie ander keuses en vertalings uit enkeloeuvres, soos Johann de Lange (2010, 2017) se versamelings uit die werk van Lina Spies (Die skyn van tuiskoms) en Wilma Stockenström (Die stomme aarde), die keuses uit die werk van Joan Hambidge (2004, 2011): Visums by verstek en Die buigsaamheid van verdriet, en in 2025 Atrium die keuse uit die oeuvre van Marlise Joubert (2025).
Om mee af te sluit, ’n paar wense-van-ganser-harte, meer as net hartewense:
- Lankgekoesterde persoonlike gunstelingwens: ’n Versameling uit dekades se kontrakanon in Toast Coetzer en kie se Ons Klyntji’s (https://klyntji.com/ons-klyntji) (Toast, jy weet jy wil en kan – anders steek ek my hand op!)
- Dat die struikelblokke en versperrings rondom kopiereg sinvol opgelos en verwyder word. Sonder dat digters sonder vergoeding gedigte moet wegteken (soos met Komrij se Nederlandse uitgawe, soos met tematiese versamelings hier te lande waarvan mens weet, en ook nié weet nie). Waarskynlik sal dit verband hou met die oopbreek van “monopolieë” op kopiereg. Wat ook ’n reusestruikelblok is vir die skep van digitale versamelings. (Vergelyk byvoorbeeld Kerneels Breytenbach, 2023.)
- Dat Afrikaans poësie ’n digitale teenwoordigheid kry (begin by die hier en nou, die 20ste eeu kan later bygewerk word) soos Poetry Foundation (bedienerkoste vs drukkoste?) (https://www.poetryfoundation.org/), of soos die idee (nog nie voltooi nie, maar hopelik ook nog nie heeltemal opsy geskuif nie) van die Nederlandse Poëzie Encyclopedie (https://www.nederlandsepoezie.org/jl/index.html).
- Dat die voorbeelde van trefferlyste, leeslyste, gunstelinge (soos op Facebook, Instagram en Substack) wat inderdaad klein bloemlesings-in-die-kleine is, ernstig opgeneem word as insette om te oorweeg vir antologieë.
- Dat die verbasende verskeidenheid en hoeveelheid aktiwiteite waar poësielesers en -kenners keuses maak, uit argiewe gered en bestendig word, soos byvoorbeeld:
- Dekades se opnames van die radioprogram Vers en klank (van Daniel Hugo tot Margot Luyt, Frieda van den Heever en Sophia van Taak) en ook 25 jaar van FMR (Fine Music Radio) se Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha.Die Hui-dig versamelings (tans nog beskikbaar via stromingsplatforms soos Spreaker, Spotify en Apple Podcasts; en ook sosiale mediaplatforms soos Instagram en Facebook): vergelyk byvoorbeeld https://www.instagram.com/hui_dig. Lusmakers, as jy dit nog nie beluister het nie: “Pers gedigte”, “Gedigte wat met die maan gepla is”, of “Gedigte vir die nuwe normaal” (https://podcasts.apple.com/za/podcast/episode-30-gedigte-vir-die-nuwe-normaal/id1455484265?i=1000476164727)Die (voor-)finale rondtes en wenners van Ruk en Rym, en die room van Wêreld
- Gedigte en digters op die voorgrond geplaas in studies oor die poësie – soos in Mathilda Smit se navorsing oor “Poësie op die podium”.
- Mini-versamelings en tematiese belangstellings soos wat dit na vore kom in musiekproduksies oor die poësie; en veral ook programme by kunstefeeste, soos Bibi Slippers se poësieprogramme by die Woordfees (slegte seks en goeie gin, verskeie beeldgedigte projekte, ook buite die Woordfees soos die gedigte oor Lucian Freud se windhond); en soos ook die temas en bydraes by die Tuin van Digters, ter illustrasie: “buite die boek” (2018) en “wanatoe” (2025).
- Dat belangstelling in jaarlikse poësiekronieke weer sal herleef en dat dit ’n vertrekpunt, of ten minste ’n voedingsbron, kan wees vir poësie jaarboeke: gedigte uit 2025.
Die poësie sal bly, die liefde, die voorliefde vir die poësie ook. Om ’n ruiker gedigte bymekaar te haal en aan te bied, moet onmisbaar bly.
Geseënde Feestyd – voorspoedige nuwejaarslysies!
Karen de Wet
Universiteit van Johannesburg
Bronnelys
Breytenbach, B. en Charl-Pierre Naudé (samest.). 2019. Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde. Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, K. 2023. Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging onder redaksie van Karen de Wet – ’n LitNet Akademies resensie-essay. LitNet, 1 Februarie. https://www.litnet.co.za/petra-muller-die-skerpgevylde-oomblik-n-huldiging-onder-redaksie-van-karen-de-wet-n-litnet-akademies-resensie-essay/ [12 Desember 2025]
Brink, A.P. 2001. Groot Verseboek: kanon of haelgeweer. Agtste D.J. Opperman-gedenklesing. LitNet, 30 Mei. https://www.litnet.co.za/groot-verseboek-kanon-of-haelgeweer/ [12 Desember 2025]
Brink, A. P. (samest.). 2000. Groot Verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.
Brink, A. P. (samest.). 2008. Groot Verseboek Deel 1, 2, 3. Kaapstad: Tafelberg.
Cochrane, N. en A. Roux. (reds.) 2025. Merang. Gansbaai: Naledi.
De Wet, K. (samest.). 2020. Vers en vrou. Kaapstad: Human & Rousseau.
Foster, R. & Viljoen, L. (samests.). 1997. Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg, Human & Rousseau.
Hambidge, J. 2004. Die buigsaamheid van verdriet. Pretoria: Protea.
Hambidge, J. 2011. Visums by verstek: ’n Keur uit die reisgedigte van Joan Hambidge. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, J. en M. Taljaard. (reds.). 2025. Nogmaals vir die bysiende leser: Gedigte ter ere van Wilma Stockenström. Gansbaai: Naledi.
Hugo, D. en F. de Jongh. (samests.). 2021. Maskers en mure. Oudtshoorn: Turksvy.
Jansen, E. (samest.). 2021. Immigrant: ’n Keuse uit die werk van Elisabeth Eybers. Kaapstad: Human & Rousseau.
Joubert, M. en Karen de Wet (samest.). 2025. Atrium: gedigte 1970–2025. Pretoria: Protea.
Komrij, G. (samest.) 1999. Die Afrikaanse poësie in duisend en enkele gedigte. Amsterdam: Bert Bakker.
Komrij, G. 2004. In liefde bloeyende: De Nederlandse poëzie van die twaalfde tot en met die twintigste eeuw in 100 en enige gedichten. Amsterdam: Bert Bakker.
Krog, A. en Karen de Wet (samest.). 2020. ’n Vry vrou: gedigte van Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau.
Nel, E.P. (samest.). 2022. Woordenaars: ’n Versameling nuwe Afrikaanse gedigte. Gansbaai: Naledi.
O se boloke / bescherm ons. DW B nommer 4, Desember 2024. https://www.dwb.be/dw-b/nummers/dw-b-2024-4-o-se-boloke-bescherm-ons. [12 Desember 2025]
Odendaal, B.J. 2001. Bestekopname: Strategiese funksies van tematiese poësiebloemlesings in die Afrikaanse literêre veld in die tydperk 1986–2000. Stilet 13(1):51–68.
Slippers, B. 2012. 100-bedonderd. LitNet, 12 Desember. https://www.litnet.co.za/100-bedonderd/ [12 Desember 2025]
Small, A. en Ronelda Kamfer (samest.). 2022. Die maan is swart: Gedigte van Adam Small. Kaapstad: Kwela.
Spies, L. 1999. (samest.). Sy sien webbe roer. Kaapstad: Human & Rousseau.
Spies, L. en Johann de Lange (samest.). 2010. Die skyn van tuiskoms. Kaapstad: Human & Rousseau.
Stockenström, W. en Johann de Lange (samest.). 2017. Die stomme aarde: ’n keur. Kaapstad: Human & Rousseau.
Taljaard, M. (samest.). 2024. flikker-gram. Gansbaai: Naledi.
Van Coller, H.P. 2006. Die saamstel van bloemlesings as kanoniserende strategie. Nederlandse letterkunde 11(2):166–188.
Van den Heever, F. 2023. Die lewe is ’n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting. Kaapstad: Tafelberg.
Van Wyk, J., Pieter Conradie en Nik Constandaras. (samests.). 1988. SA in poësie / SA in poetry. Pinetown: Owen Burgess-uitgewers.