Oor kontakte en verbintenisse – Henning Pieterse

“Die wêreld van die skrywer” is PEN Afrikaans se artikelreeks waarin skrywers uitbrei oor temas wat met die praktyk van skryf te doen het. In hierdie artikel beantwoord bekroonde digter, vertaler en letterkundige Henning Pieterse die vrae: In watter mate is plaaslike en/of internasionale kontakte vir skrywers van belang? Watter impak het verbintenisse met uitgewerye, skrywersorganisasies asook individuele vriendskappe met ander skrywers op skrywersloopbane?  

In twee van sy briewe uit 1966 aan die destyds 18-jarige Ingrid Winterbach skryf Etienne Leroux onder meer die volgende:

“Toe ek 18 was het ek nie die verbeelding gehad om vir ‘gedistingeerde skrywers’ te skryf uit pure verveeldheid nie. Ek wens ek het, maar hulle was destyds sulke clots en sulke grand old men en die vroueskrywers was só dêm lelik.”

En: “Jy moet jou nooit laat mislei deur skrywers nie […] – hulle is romantiese clots en verwaande runts wat slegs by geleenthede bestaan want hulle kan die gewone gang van lewe nie duld nie en hulle maak almal om hulle ongelukkig weens hulle selfsug en hulle is parasiete en hulle word rasend mal as hulle oud word.”

Vanuit eie ervaring en op grond van Leroux se stellings, beveel ek lesers oor die algemeen aan: vermy die skrywer, lees eerder sy/haar boek(e). Daar is uiteraard vele aangename uitsonderings wat die “mens agter die boek” betref. En die vroueskrywers deesdae is beslis nie “dêm lelik” nie (as hulle ooit was!).

Deur die jare het ek die voorreg gehad om ’n aantal plaaslike en internasionale skrywersbyeenkomste te kon bywoon waar ek buitengewone digters en skrywers ontmoet het wat my denke oor skryf beïnvloed het. Van hierdie skrywers het lewenslange vriende geword. Ek deel graag ’n paar van hierdie ervarings.

Die Afrikaanse Skrywersgilde-byeenkomste het gewoonlik gesorg vir vermaaklike insidente en insigte, soos byvoorbeeld die geleentheid by Wits in 1985 toe Dan Roodt vir Nadine Gordimer aangevat het omdat sy nie Afrikaans verstaan nie, maar baie (meestal negatief) te sê het oor die Afrikaner en die Afrikaanssprekende. Tydens dieselfde geleentheid het Wilma Stockenström ’n begeesterde kongresganger se vraag oor wanneer sy die naaste aan die natuur voel, beantwoord met: “Wanneer ek op die toilet sit.” In die laat-tagtigerjare het dit my opgeval dat al hoe meer kulturele kommissarisse en politieke analitici (veral vanuit COSAW – die Congress of South African Writers) – die woord voer en die werklike skrywers effens op die agtergrond staan.

Die laaste Gilde-byeenkoms was in 1992 by Maselspoort buite Bloemfontein. In ’n fratsongeluk sterf die kortverhaalskrywer Henk Wybenga en die aand word daar ’n waak vir hom gehou. ’n Pyprokende en swart-oogklap-draende dame waag dit om op “Henk se stoel” te gaan sit en spring byna tot teen die dak toe dit vir haar uitgewys word. Regdeur die kongres dra Nic Swanepoel gedigte voor in sy pragtige, diep stem.

In 2001 word ek genooi na Poetry International se 32ste jaarlikse fees in Rotterdam. Dit word ’n dol week met ’n vol program, baie kuier en min slaap. Tydens die fees werk ek saam met onder meer Bei Dao, Armando Uribe en Xhevahir Spahiu aan vertalings van die Nederlandse digter Jan Hendrik Leopold. Ek leer geweldig baie, veral by Bei wat die verwikkelde sintaksis van Leopold oënskynlik maklik vertaal – in Mandaryns. Die werkswinkel-leiers – Dick van Halsema en die Nederlandse digter René Puthaar– laat ons daagliks tussen die hope woordeboeke sweet. Hierdie ervaring het my deeglik voorberei op vertaalwerk wat ek later sou onderneem. Ek ontmoet verskeie uitstaande digters, onder meer die Fries Tsjêbbe Hettinga wat skryf in die moedertaal nie genoeg kan beklemtoon nie, Alexei Poerin wat Shakespeare se sonnette pragtig in Russies vertaal het, Bart Moeyaert, jeugboekskrywer en later stadsdigter van Antwerpen en Leo Vroman, die grand old man van die Nederlandse letterkunde. Die spanning tussen die Israeliese digter Shimon Adaf en die Palestynse skrywer Tamim al- Barghouti is die hele week tasbaar. Tydens die afsluitingsfunksie oorhandig Zolani Mkiva, destydse imbongi, ’n prys aan Tamim. Vele wenkbroue lig. Wiens brood men eet …

Die naweek voor hierdie fees lees ek saam met onder meer Adam Zagajewski, Anna Enquist, Matthew Sweeney en Dirk van Bastelaere voor by die “Dichters in het Elzenveld”-geleentheid in Antwerpen. Ek het ’n keelontsteking en kug en proes maar deur my beurt. Na die tyd kuier ek heerlik saam met Eddy van Vliet. Dit is die eerste keer wat ek ’n skouburg volgepak sien met poësieliefhebbers wat redelik duur betaal om na ’n handvol digters te kom luister.

Ek woon in Oktober 2005 die British Council-geborgde “Beyond Borders”-letterkundefees in Kampala, Uganda by. Die hele week is ek die enigste “wit” skrywer by die kongres en, soos Deon Maas aan die slot van Witboy in Afrika, is ek verwonderd oor die feit dat ek nie verkwalik word vir my velkleur búíte Suid-Afrika, maar ín Afrika, nie. Ek het die voorreg om onder meer Anthony Appiah, Taban Lo Liyong, Shimmer Chinyodya, Véronique Tadjo en Mohamed Djibril Sisay te ontmoet. Véronique lewer ’n verreikende sleuteltoespraak waartydens sy onder meer vra wat dit behels om ’n “Afrika-skrywer” te wees te middel van voortsnellende globalisering. Sy bepleit die gebruik van inheemse Afrikatale om ’n leeskultuur te bevorder. In die loop van ’n paar werkswinkels skryf die groep ’n kollektiewe gedig, “Sing like a river”, in 16 Afrikatale.

Tydens ’n rondetafelgesprek by die Makerere Universiteit is die ingeligtheid van die studente indrukwekkend – die gehalte van die gesprek is baie beter as enige plaaslike “studente-diskoers” wat ek al in Suid-Afrika gehoor het. Die digter Timothy Wangusa word byvoorbeeld vlymskerp aangevat oor sy verbintenis met Idi Amin, sonder die brandstigting en algemene vandalisme wat “diskoers” op plaaslike universiteitskampusse kenmerk.

Gedurende hierdie week sterf Milton Obote, oud-president van Uganda, in Suid-Afrika en sy lyk word Kampala toe gestuur. Een aand tree ’n Ugandese dame my by ’n funksie aan en bedank my hartlik “omdat Suid-Afrika so goed vir Obote gesorg het.” Hy was ’n goeie mens, beklemtoon sy herhaaldelik. Ek vra versigtig: “Was Obote nie verantwoordelik vir die dood van 300 000 tot 500 000 mense tydens sy twee ampstermyne nie (volgens Amnesty International)?” “Nee,” antwoord die dame beslis, “hy het net 30 000 mense doodgemaak, teenoor die 500 000 wat Idi Amin doodgemaak het, daarom was hy ’n goeie man”.

In 2006 word ek genooi na PEN International se jaarlikse kongres in Zagreb, Kroasië. Daar gaan ’n nuwe wêreld vir my oop – skrywers en digters uit veral Kroasië, Serwië, Bosnië-Herzegovina, Macedonië en ook uit Israel, Hongarye en Italië. Ek kuier saam met digters soos Miroslav Kirin, Vojislav Karanovič, Asher Reich en Paolo Ruffilli en dan veral met Antonije (Nino) Žalica, wie se aangrypende narratief oor die beleg van Sarajevo my steeds bybly. Nadat ek my referaat gelewer en gedigte voorgelees het, is dit vraetyd. ’n Kroasiese digter staan op en vra statistieke oor die Suid-Afrikaanse moordsyfer. Ek waag ’n skatting – op daardie stadium ongeveer 19 000 moorde per jaar? Die Kroaat word doodsbleek en sê: “In vier jaar van oorlog met Serwië is daar 11 000 mense dood [in die negentigerjare]. Julle bevind jul in ’n burgeroorlog.”

Tydens hierdie kongres, soos ook al by voriges, begin drie dinge my pla: daar is te veel kommentators en te min skrywers wat die woord voer; daar word te veel gepraat oor skryf, in plaas daarvan om te skryf; ’n mens begin dieselfde gesigte weer en weer sien en dieselfde stories oor en oor hoor. Ek het toe al besef dat ’n mens, selfs as heel middelmatige skrywer, ’n bestaan uit literêre feeste wêreldwyd kan maak. Die probleem is egter dat jy dieselfde sienings herhaaldelik gaan hoor. Toe ek ’n bekende Russiese kinderboekskrywer vir die derde keer meemaak, het ek besluit om nie verder deel te neem aan hierdie sirkelgang nie.

Plaaslik het ek die voorreg gehad om voor te lees tydens die “Verslantern”-program van die KKNK, asook by die Aardklop-fees, en kon sodoende breë Suid-Afrikaanse digtalent hoor. Die “Bekgevegte” – waarvan ons meer as 80 landswyd aangebied het, ook by die KKNK, Aardklop, Woordfees en Versindaba – regverdig ’n eie storie. Ek was jare lank deel van die Bekbreker-span saam met Leon de Kock en Johannes van Jerusalem. In die geselskap van digters soos Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Ronnie Belcher, Charl-Pierre Naudé, Ronel Nel, Anton Krueger, Eugene Ashton, Jiggs en René Bohnen, leer ek die spesifieke uitdagings van “podiumpoësie” ken en kry nuwe respek vir rappers.

’n Plaaslike hoogtepunt was die Dansende Digters-fees by Spier in 2014. Om ’n week onder leiding van Breyten Breytenbach en met die knap organisasie van Dominique Botha te kon konfereer, voorlees en kuier, was ’n sonderlinge voorreg. Ek leer Duo Duo, Ilya Kaminsky (’n dowe digter uit die Oekraïne/VSA), Hans van de Waarsenburg, Homero Aridjis, Mxolisi Nyezwa, Ingrid de Kok, Nimrod en die Senegalese rap-duo Vendredi Slam ken in die loop van ’n paar intensiewe dae. Tydens een werkswinkelsessie op die plaas Kersefontein sit Breyten en krap vinnig iets op ’n stuk papier. Hy gee die teks vir my aan: ’n perfekte gedig, net daar geskryf. Jou bliksem! dink ek; ek sal mý kop aansienlik meer moet stut en hamer om so ’n gedig te kan fabriseer.

Wat het ek geleer uit al hierdie byeenkomste en feeste? Dat alle digters tot ’n kleiner of groter mate waansinnig is – merendeels in die goeie sin van die woord. Ek is blootgestel aan digterlike tradisies en kulture waarvan ek nog net vaagweg gehoor het. My vertaalstrategieë en –tegnieke is geslyp in werkswinkels.

Dus: woon gerus enige van hierdie tipe skrywersbyeenkomste by – veral werkswinkels –  maar oppas om te verval in herhaling en ’n blote gepratery, in plaas daarvan om by die basis te bly: skrýf.


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.