
Vertaling maak wêrelde aan lesers oop – van kinderboeke, fiksie, digkuns tot niefiksie. Die waarde van ’n vertaling lê in die vertaler se vermoë om ’n teks aan die doelteksleser oor te dra sodat dit moeiteloos en met die grootste plesier gelees kan word. Dit is daarom belangriker as ooit om die waarde van vertaling te erken en te vier, en wat is beter as om met die kunstenaars van vertaling te gesels. PEN Afrikaans doen in 2024 ’n reeks onderhoude met vertalers van verskillende genres om meer van hulle liefde vir dié kuns te hoor.
Hierdie keer is die bekroonde en hoogs ervare vertaler Elsa Silke aan die woord. Sy ontvang in 2006 die SAVI-prys vir voortreflike vertaling in die fiksiekategorie vir This Life, haar Engelse vertaling van Hierdie lewe deur Karel Schoeman.
Vertel in een of twee sinne waar jou liefde vir vertaling ontstaan het.
Ek het nog altyd belang gestel in tale en ek is baie lief vir lees. Vertaling is ’n opwindende vorm van kreatiewe skryfwerk.
Het jy nog altyd geweet dat jy vertaling as beroep sou volg?
Glad nie. Ek was jare lank ’n Engelsonderwyser.
Hoe lank is jy al ’n vertaler?
Nadat ek skoolhou vaarwel toegeroep het, het ek ingeskryf vir ’n MPhil in Vertaling by Stellenbosch Universiteit en dit was die begin van my loopbaan as vertaler. Ek is al ongeveer twintig jaar daarmee besig.
Watter genre en taal/tale vertaal jy gereeld en hoekom?
Ek vertaal alles wat lesers van alle ouderdomme graag wil lees, onder andere fiksie, niefiksie, kinderboeke, jeugverhale. Ek was gelukkig om al met ’n groot verskeidenheid tekste te kon werk. Die tale waarin en waaruit ek vertaal, is Engels en Afrikaans.
Wat is jou gunstelingvertaling wat jy tot dusver aangepak het en hoekom?
Dit is byna soos om vir ’n ma te vra wie haar gunstelingkind is. Ek het al wonderlike skrywers se werk vertaal, soos Karel Schoeman, Ingrid Winterbach, Chris Karsten, Christiaan Bakkes, Johan Bakkes, Irma Joubert, Irma Venter, Linda Rode, Michiel Heyns, Wilna Adriaanse, Jan van Tonder, Anoeschka von Meck – die lys gaan aan. Ek dink my gunstelingvertaling is die een waarmee ek besig is op die oomblik wanneer iemand my daardie vraag vra.
Wat is vir jou die belangrikste doelwit van jou vertaling wanneer jy daarmee besig is?
Ek probeer ’n getroue, geloofwaardige weergawe van die oorspronklike teks skep terwyl ek ook die skrywer se stem en kenmerkende styl so akkuraat as moontlik probeer weergee.
Wat, volgens jou, is eienskappe van ’n goeie vertaling?
Die suksesvolle herskepping van die skrywer se stem, verteltrant en persoonlike styl, soos reeds genoem. En ritme is belangrik. Elke goeie teks het sy eie ritme – nie net poësie nie, prosa ook. ’n Goeie vertaler probeer die ritme van die oorspronklike vasvang en weergee. Ek hou van hierdie aanhaling van die skrywer Elmore Leonard: “I’m very much aware in the writing of dialogue, or even in the narrative too, of a rhythm. There has to be a rhythm with it . . . Interviewers have said, you like jazz, don’t you? Because we can hear it in your writing. And I thought that was a compliment.”
As jy nog een taal kon kies waarin jy graag sou vertaal, watter taal sou dit wees?
Ek ken ’n bietjie Frans en ’n bietjie Duits en ek wens ek het genoeg selfvertroue gehad om daaruit ook te vertaal.
Hoekom, dink jy, is vertaling in die algemeen belangrik?
Vertaling verskuif grense. Dit stel wêreldletterkunde en vreemde kulture bekend aan ’n wyer publiek. Russiese en Franse letterkunde, byvoorbeeld, is vir die meeste mense slegs toeganklik omdat dit vertaal is. Mense lees dikwels daardie werke sonder om eers te besef dat dit nie oorspronklik in Engels geskryf is nie.
As jy enige raad aan voornemende vertalers kon gee, wat sou dit wees?
- Voornemende vertalers vind dit dikwels moeilik om geleenthede te kry om te wys waartoe hulle in staat is. Gebruik elke moontlike geleentheid om jouself te bemark.
- ’n Mate van aanleg en aanvoeling is nodig. Maar vertaling is ook ’n vaardigheid wat aangeleer kan word. Die vertaalproses is ’n onophoudelike leerproses. En kennis kom met ervaring.
- Ek dink nie dis moontlik om ’n goeie vertaler te wees indien jy nie wyd en met aandag lees nie – verskillende style, verskillende genres.
- Respekteer die teks en die skrywer. Die vertaler moet bereid wees om dieselfde soort tyd en moeite aan navorsing te bestee as die skrywer. Ek moes al terminologie aanleer en kennis opdoen oor onderwerpe so divers soos leerlooiery, die Poolse opstande, skulpversameling, krieket, drones, vuurwapens, wildvang, geologiese formasies, en so meer.
- Vertaling is ’n praktiese aktiwiteit. Teoretiese kennis is nie verpligtend nie, maar dit help beslis wanneer dit kom by strategie en probleemoplossing. Sommige kwessies wat oor jou pad kom, is universeel en dit help soms om te weet wat ander mense al daaroor te sê gehad het.
- Sorg dat jy altyd ’n hoë standaard handhaaf. Wees betroubaar en moenie spertye mis nie.
