Algemene jaarvergadering 2020: Voorsittersverslag – Marga Stoffer

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering
Woensdag 21 Oktober om 18:00

Dit is ’n plesier om Afrikaanse skrywers, joernaliste, uitgewers en ander taalgenote te kan verwelkom by die agtste algemene jaarvergadering van PEN Afrikaans. Dis die eerste keer wat ons aanlyn vergader – ’n teken van die vreemde tyd waarin ons leef. Terselfdertyd is so ’n aanlyn vergadering ’n wonderlike geleentheid vir enigiemand wat konnektiwiteit het om ons vergadering by te woon – of hulle nou in Parys in Frankryk of Parys in die Vrystaat is. Dus: ek verwelkom alle belangstellendes, waar julle jul ook al in die wêreld bevind.

Bekronings

Ek wil graag, soos gebruiklik, PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan alle skrywers wat sedert die begin van vanjaar bekroon is vir publikasies wat in 2019 (en in sommige gevalle vroeër) in Afrikaans verskyn het. Hulle sluit in:

  • Lodewyk G du Plessis (skuilnaam van oudregter Andries Buys): Helgaard Steyn-prys vir Die dao van Daan van der Walt
  • Johan Myburg: Hertzogprys vir poësie vir Uittogboek
  • Wyle Elsa Joubert: LW Hiemstraprys vir Niefiksie vir Spertyd
  • De Waal Venter: SA Akademieprys vir Vertaalde Werk vir sy vertalings van Pablo Neruda se werk
  • Johan Jack Smith: Eugène Maraisprys vir Zola
  • Zirk van den Berg: kykNET Rapportprys vir Afrikaanse Fiksie én die kykNET Rapport Filmprys, asook die WA Hofmeyrprys vir Afrikaanse Fiksie vir Ek wens, ek wens
  • Theo Kemp: Jan Rabie Rapportprys vir Strafjaart
  • Loftus Marais: Elisabeth Eybersprys vir poësie vir Jan, Piet, Koos en Jacob
  • Fanie Viljoen: MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke vir Die dag toe die draak kom
  • Etienne van Heerden: UJ-prys vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld
  • Ruan Kemp: UJ-debuutprys vir Gedeeltelik bewolk

Die ATKV-pryse word in die volgende paar dae aangekondig.

Sterftes

Sedert ons algemene jaarvergadering in Wellington verlede jaar is verskeie mense wat ’n groot rol in die Afrikaanse boekomgewing gespeel het, oorlede. Ek bring graag hulde aan die volgende mense:

Elsa Joubert, een van Afrikaans se grootste skrywers, is in Junie in die ouderdom van 97 oorlede. Haar bekendste boek, Die swerfjare van Poppie Nongena, word as een van die 100 beste boeke uit Afrika beskou.

Jeanne Goosen, wat veral bekend was vir haar roman Ons is nie almal so nie, is ook in Junie oorlede.

Ampie Coetzee, akademikus en stigterslid van PEN Afrikaans, is verlede week oorlede. Breyten sê so mooi van hom: “Ons gaan probeer lag deur die trane. Want hy was van die son, nie die skemering nie.” Ampie se gedenkdiens vind Sondag in Wellington plaas.

Die geliefde filmregisseur Gerrit Schoonhoven is gister oorlede. Gerrit was baie jare lank op die paneel van beoordelaars vir die kykNET Rapport Filmprys.

Danny Titus, die bekende taalman, aktivis, regsgeleerde en, in die laaste jare van sy lewe, direkteur van kultuur by die ATKV, is in September oorlede.

Dr David Piedt, voormalige direksievoorsitter van die KKNK, is op 27 Julie op 80-jarige ouderdom aan Covid-19 oorlede.

Die bekroonde digter, satirikus, dramaturg en skrywer M.M. Walters is op 28 Julie in die ouderdom van 90 oorlede.

Die digteres en akademikus Gisela Ullyatt is in Augustus oorlede, kort na die verskyning van haar debuutbundel. Sy was 43.

Nina Smit, geliefde skrywer vir die Christelike mark, is in Februarie op 75-jarige leeftyd oorlede. Die skrywer en uitsaaier Cor Nortjé is in Maart op 81-jarige leeftyd oorlede. Ons het ook afskeid geneem van Laurika Henning, medeskrywer van verskeie opvoedkundige titels vir die grondslagfase.

Omgewing en uitdagings

Ons leef in “interessante tye” – soos die ou uitdrukking wat aan die Chinese toegedig word, lui. Die uitdagings vir Afrikaanse skrywers in vandag se Suid-Afrika is groot.

’n Groot aantal Afrikaanssprekendes emigreer. Baie Afrikaanse ouers maak hulle kinders in Engels groot. Al hoe minder besighede gebruik Afrikaans as saketaal. Afrikaans as akademiese taal is besig om te krimp. Die studentegetalle vir Afrikaans as vak aan universiteite daal dramaties.

Intussen: Daar is groot politieke onsekerheid. Dit gaan sleg met die ekonomie, en dit word verder op die spits gedryf deur die koronavirus-pandemie. Ons woon in ’n land waar die kontras tussen ryk en arm skrikwekkend is. Ons is moedeloos oor die geweld en misdaad en korrupsie.

Teen hierdie agtergrond moet en wil skrywers skryf, en wil PEN Afrikaans ’n positiewe bydrae maak tot sy lede, tot ons missie om skrywers te ondersteun en hulle belange te bevorder, en om vryheid van uitdrukking te bevorder.

Een van die uitdagings waarmee skrywers te kampe het is dat daar nie veel ondersteuning van die staat vir die kunste is nie. In Europa en die VSA sal die staat byvoorbeeld vertaalfondse subsidieer en skrywersresidensies befonds. Ons regering het ander prioriteite en dit moet en sal nog lank so bly. Juis daarom is die PEN Vertaalfonds een van ons heel belangrikste jaarlikse projekte. Dit maak dit moontlik dat Afrikaanse skrywers se werk in die buiteland in vertaling verskyn, wat goed is vir die aansien van ons skrywers en belangrik is vir die statuur van Afrikaans as literêre taal. Daar is groot bedrae betrokke by die befondsing van vertalings en ons is baie dank verskuldig aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys hiervoor. Met betrekking tot skrywersresidensies het ons ’n vennootskap met die Jakes Gerwel Stigting om so ’n geleentheid aan skrywers te bied, en ons sal graag nog meer sulke geleenthede wil skep.

T.o.v. kopieregbeskerming bly dit ’n groot uitdaging om die onwettige verspreiding van e-boeke stop te sit. Dit is deurlopend ’n probleem, maar gedurende die grendeltyd toe boekwinkels toe was, het dit hand-uit geruk. Ons reaksie daarop was om Wêreldboekedag te gebruik om ’n bewusmakingsaksie te loods met videos en teks op sosiale media. Dit is baie positief ontvang en het ook goeie blootstelling in die pers gekry. Ons dank aan die media vir daardie blootstelling, en aan die skrywers wat in rekordtyd vir ons uitstekende bydraes gelewer het.

Hierdie probleem is egter nie opgelos nie en op die oomblik is daar weer eens grootskaalse verspreiding van ’n groot aantal Afrikaanse skrywers se boeke. Ons glo dat die verspreiding van roofkopieë nie sal stop voordat die mense wat hulle hieraan skuldig maak krimineel vervolg word nie. Hierdie kwessie raak ons skrywers en hulle inkomste uit hulle skryfwerk direk, en PEN Afrikaans wil saam met die uitgewers wie se boeke so versprei word oorgaan tot regsaksie. Ons sal later, onder “Algemeen” op die sakelys, hieroor wil stem om te peil of ons wel die volle steun van ons lede hierin het.

In die konteks van kopieregbeskerming bly die wetgewing self natuurlik van groot belang. In Suid-Afrika het mense in die skeppende bedrywe – veral in die musiekbedryf – vir lank nie voldoende beskerming vir hulle intellektuele goedere geniet nie. Dit, en die feit dat ons kopieregwetgewing erg verouderd was en nie in harmonie met die internasionale ooreenkomste wat Suid-Afrika onderteken het nie, het dit nodig gemaak om die Wet op Outeursreg te hersien. Ongelukkig voldoen die uiteindelike Wetsontwerp nie aan die verwagtinge en vereistes nie. Soos ons lede weet, het PEN Afrikaans ’n paar jaar gelede ’n baie suksesvolle petisie opgestel om teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te protesteer, aangesien verskeie aspekte van die wetsontwerp uiters problematies is. Die belangrikste beswaar – maar beslis nie die enigste een nie – is dat die Wetsontwerp toelaat dat skrywers se tekste sonder toestemming of vergoeding gebruik kan word vir opvoedkundige gebruik. Oor die afgelope paar jaar het ons bly protesteer d.m.v. voorleggings, briewe, en ook deur ons deelname aan die Alliansie vir Effektiewe Kopiereg, ’n groep organisasies wat mense in die kreatiewe bedrywe verteenwoordig. Dié beweging is nou geformaliseer as die Kopiereg-koalisie van Suid-Afrika, waarvan ons steeds deel is. Die goeie nuus is dat president Ramaphosa die wetsontwerp terugverwys het na die parlement. Daar is egter steeds baie druk deur diegene wat die huidige weergawe van die Wetsontwerp ondersteun, en die risiko bestaan dat hersienings bloot kosmeties sal wees en die Wetsontwerp nie ingrypend verander word nie. Dus: a luta continua en ons sal lede ingelig hou.

Ek het vroeër die lys wenners van vanjaar se literêre pryse opgenoem en wil weer daarna verwys. In 2019 was daar meer diversiteit onder die wenners – ek dink bv aan Chase Rhys en Jeremy Vearey wat toe pryse gewen het. Vanjaar se pryswenners is byna almal wit mans. Dit is iets wat aandag moet geniet. Die gebrek aan vroue is waarskynlik minder van ’n probleem en meer toevallig as die feit dat daar geen bruin en swart wenners is nie. (Maar dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat PEN se navorsing telkens wys dat vroueskrywers minder kritiese aandag as mans kry, hoewel daar baie boeke deur vroueskrywers gepubliseer word.) Die vernaamste rede vir die gebrek aan rassediversiteit is dat daar te min bruin en swart skrywers is wat in Afrikaans skryf en gepubliseer word. Verlede jaar was wat dit betref ’n besonder arm jaar en dit wys in vanjaar se wenners.

Ek is bly om te sê dat daar vanjaar reeds verskeie baie sterk debute verskyn het, in verskillende genres (fiksie, poësie, kortverhale) en by verskillende uitgewers en drukname. Wat verder verblydend is, is dat hierdie publikasies ons letterkunde verder verryk deurdat verskillende streeksvariëteite van Afrikaans verteenwoordig word: ek dink aan Kaapse Afrikaans, Afrikaans uit die Noord-Kaap en die Weskus. Ek hoop dat hierop voortgebou kan word. Hier noem ek ook graag dat verskeie van hierdie debutante aan hulle tekste kon werk tydens die skrywersresidensie wat PEN Afrikaans in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting aanbied.

Die behoefte aan meer diversiteit onder gepubliseerde Afrikaanse skrywers, gekombineer met die beperkings op samekomste gedurende grendeltyd wat dit vir mense onmoontlik gemaak het om kursusse by te woon, is die agtergrond tot ’n onlangse opwindende inisiatief van PEN Afrikaans. Ons is deur PEN International uitgenooi om projekvoorstelle te doen waarvoor ons befondsing sou kon kry. Dit het daartoe gelei dat ons vanjaar drie kursusse aanlyn kon aanbied: twee skryfkursusse en ’n resensiekursus. Ons kon ook vir mense wat nie die kursusfooi kon bekostig nie die geleentheid gee om dit gratis by te woon, solank as wat hulle konnektiwiteit het. Ons kry tot dusver uitstekende terugvoer en hoop dat ons in die toekoms weer soortgelyke kursusse kan aanbied.

Ten spyte van die “interessante tye waarin ons leef” gebeur daar dus opwindende dinge in Afrikaans. Wat ook verblydend is, is dat daar steeds fluks geskryf word in Afrikaans. In 2014 was daar 50 inskrywings vir die KykNET-Rapportpryse; vanjaar was daar 94.  Ek het reeds verwys na die baie debute wat in 2020 verskyn het, en die diversiteit. Die lys boeke wat in Afrikaans gepubliseer word, groei. NB-Uitgewers se Groot Romanwedstryd het vanjaar ’n rekordaantal inskrywings opgelewer, naamlik 95.

Daar is wonderlike organisasies wat hulleself toewy aan die bevordering van Afrikaans, asook die ondersteuning van spesifiek Afrikaanse skrywers. Ek glo dat dit meer as ooit vantevore van die grootste belang is vir al hierdie organisasies om hande te vat en saam te werk.

Uitgewers en skrywersorganisasies moet saamstaan om die verspreiding van roofkopieë van e-boeke stop te sit. Alle partye in die kreatiewe omgewing moet saamwerk om die wetsontwerp op kopiereg in sy huidige vorm teen te staan en moet hulself daarvoor beywer dat nuwe wetgewing tot stand kom wat hul regte beskerm.

PEN Afrikaans het in die afgelope paar jaar lekker en sinvol met verskeie organisasies saamgewerk, en ons sal graag vorentoe ook ander vennote wil vind met wie ons op soortgelyke wyse kan saamwerk. In hierdie konteks wil ek baie dankie sê aan die Jakes Gerwel Stigting, die Woordfees, WOW, die Tuin van Digters, die Kopiereg-koalisie, die ATKV en die Afrikaanse Taalraad.

Afsluiting

Ten slotte wil ek soos altyd ons dankbaarheid uitspreek aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys, vir hulle finansiële ondersteuning wat dit vir ons moontlik maak om ’n aktiewe vereniging met internasionale aansien te wees, en wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak.

Ek wil ook graag ons wonderlike bestuur bedank, wat almal op verskillende maniere groot bydraes gemaak het. Ek is baie dank verskuldig aan ons ondervoorsitter, Danie Marais en ons tesourier, Naomi Bruwer vir hulle harde werk, tyd en ondersteuning. Ons ander bestuurslede – Bernard Odendaal, Carolyn Meads, Charl-Pierre Naudé, Fiona van Kerwel, Izak de Vries, Jolyn Phillips – dra ook almal aktief by tot ons projekte en ek wil vir hulle almal baie dankie sê. Dit is vir my ’n absolute voorreg om met hulle saam te werk, en ek waardeer hulle vrygewigheid met hulle tyd, en hulle volgehoue visie, entoesiasme en integriteit.

Catrina Wessels, PEN Afrikaans se bestuurder, is die persoon wat al die idees en planne waarmee die bestuur vorendag kom, sowel as ’n hele klomp inisiatiewe van haar eie – moet waar maak en uitvoer. Groot dank aan haar vir haar toegewyde en harde werk, waarsonder ons nie veel sou kon bereik het nie.

En laastens: dankie aan die ondersteuning en deelname van ons skrywers. Ek hoop dat PEN Afrikaans dit toenemend sal regkry om die volle spektrum van Afrikaanse skrywers te verteenwoordig, dat ons op ’n sinvolle wyse sal kan bydra tot die belange van alle Afrikaanse skrywers, en dat ons as organisasie kan groei sodat ons ook sodoende meer kan vermag. Baie dankie.

Marga Stoffer