Eerste algemene ledevergadering van PEN Afrikaans 2012: Voorsittersverslag – Fanie Olivier

Dit is regtig lekker om die eerste voorsittersverslag van ons sentrum vandag hier te lewer.

Die verslag is maar kort, want die bestuur was maar net enkele maande doenig sedert PEN Pretoria  op 10 Maart 2012 hergekonsitueer is, met amper sestig lede. In die bestuur was dit veral Naas Steenkamp en die [aanvanklik onwillige] Annari van der Merwe wat verseker het dat ons op koers gebly het.

Op die vergadering is daar besluit dat daar naas ledewerwing voorkeur gegee sal word aan die naamsverandering van die sentrum na PEN Afrikaans. Dit was van die oprigtingsvergadering van die Afrikaanse PEN-vereniging in 2004 die ideaal. Verder het die naam naas ‘n beeld van ‘n streeksentrum ook heelwat bagasie met hom saamgedra.

Baie potensiële lede, oa die groot aantal skrywers wat by die Afrikaanse Skrywersunie aangesluit het, was onwillig om hulle met PEN Pretoria te verbind onder daardie omstandighede.

Die kernbestuur wat gekies is, het ‘n mandaat gekry om die bestuur uit te brei. Die bestuur  het uiteindelik uit die volgende bestaan:  Fanie Olivier, John Miles, Hermann Giliomee, Naas Steenkamp, Floris Brown, Heilna du Plooy, Abraham de Vries en Kerneels Breytenbach.  Almal was daarvan bewus dat dit eintlik net ‘n tussentydse bestuur sou wees en dit is onder hierdie voorwaarde dat Annari van der Merwe ingewillig het om tydelik as werwer en versorger van die lederegister op te tree.

Persoonlik hoop ek dat sy kans sal sien om hiermee voort te gaan noudat die stof gaan lê, die reën geval en die gras begin groei het.

Die bestuur het net een keer formeel vergader, maar via die internet darem voortdurend in kontak gebly. Die kernbestuur [aanvanklik Naas, John Miles en Fanie Olivier, later met Annari en Kerneels Breytenbach daarby] het van die bestuur ‘n mandaat gekry om op te tree soos wat hulle dit sou nodig vind.

Niks kan reg laat geskied aan wat Naas vermag het nie. Hy het vir ons twee borge gekry wat op sy woord alleen bereid was om ‘n totaal van R70 000 te skenk om dit moontlik te maak om ‘n afvaardiging na die 78ste kongres van PEN Internasionaal in Gyeongju in Korea te stuur.

Verder het Naas met onvermoeide drif die steun en later die entoesiastiese ondersteuning van SA PEN gekry, sodat hulle as die ander Suid-Afrikaanse sentrum ons aansoek om naamsverandering daardie ekstra stukrag gegee het wat nodig was by die internasionale kantoor in Londen en natuurlik by die kongres self.

Dit sou ‘n fout wees om nie in hierdie verband die name van Tony Fleischer en Margie Orford ook pertinent  te noem nie. Hulle het ons vriendelik in die Kaap  ontvang en rojaal trakteer by ’n vergadering voor ons vertrek na die kongres. En by die kongres het Margie kort-kort by wyse van spreke kom inloer om ons te verseker dat alles goed [gaan] verloop.

Verder het Naas ook deurentyd met die ASU geskakel en Kerneels Breytenbach oorreed om ook by die bestuur aan te sluit. So is die oorvloei van lede vroeg voorsien en is ’n prosedure daargestel wat dit later maklik sou maak om nuwe lede te verwelkom.

Laastens het Naas ook deurlopend gesorg dat PEN International in Londen presies weet wat met die sentrum hier aan die gang is. Uiteindelik het ons die nuus gekry dat die PEN-hoofkantoor ons naamsverandering aansoek goedkeur en sal voorlê aan die kongres en dat ons uitgenooi word om as Pretoria PEN die kongres by te woon.

Intussen is aansoek gedoen om ons te registreer as ‘n organisasie sonder winsbejag, sodat dit moontlik sal word om ‘n eie bankrekening te open. Die burokratiese rompslomp is daarvoor verantwoordelik dat dit nog nie gebeur het nie. Gelukkig het die Heunis-regsgroep in Somerset-Wes ingewillig om as die bewaker van ons kluis op te tree.

Daar is as gevolg van verskeie redes nog op geen lidmaatskapfooi besluit nie en ons inkomste het dus slegs bestaan uit die twee genoemde borgskappe. Vandag staan PEN Afrikaans sonder enige fondse hier by die ledevergadering! ‘n Baie groot taak wag in hierdie verband op die nuwe bestuur: om ledegeld af te smeek en borge te kry vir spesifieke projekte. Soos bv. om dit moontlik te maak om volgende jaar twee afgevaardigdes na die kongres in Reykjavic, Ysland te stuur.

Dit was juis danksy die twee borgskappe wat dit vir die sentrum moontlik was om twee afgevaardigdes [die maksimum] na die kongres te stuur en daar is besluit dat Fanie Olivier [as  tussentydse voorsitter en ‘n soort kollektiewe geheue] en EKM Dido die gelukkiges sou wees. Later het die gedagte opgekom om ook ‘n “participant” te stuur en het die lot op Sonja Loots geval.

Dit was ‘n besondere voorreg om daar te kon wees tussen 8 en 16 September. Omdat ons sentrum se aansoek eers op die laaste dag van die kongres ter sprake sou kom, het dit die drie van ons die geleentheid gegee om in die wandelgange die saak van ‘n naamsverandering deur te trap.

Die President van Pen International, John Raulston Saul, het in sy openingsverwelkoming reeds daarna verwys, iets wat ‘n baie goeie teken was vir soverre dit steun uit die hoofsekretariaat sou aangaan.. Die stemming was dus van die begin af absoluut die teenoorgestelde as by Bled in 2004 toe die aansoek om ‘n  Afrikaanse sentrum die eerste keer gebring is.

Daar was hier en daar afgevaardigdes wat nog iets onthou het van die voorbehoude van destyds, maar die sjarme en oorredingskrag van Sonja en Dido het dit gou besweer. As gevolg van SA PEN se betrokkenheid by ‘n projek saam met die Zambiese PEN en die beraad van Afrika PEN-sentrums in Dakar verlede jaar, waarin Margie Orford skitterend aanwesig was, was dit duidelik dat daar baie begrip was vir ons aansoek. Dit ten spyte van sekere bedenkinge oor die opset rondom die voormalige Pretoria PEN.

Watter bedenkinge daar ook al kon gewees het, het finaal verdwyn toe Dido by die motivering vir ons aansoek voor die bykans 150 afgevaardigdes van die 82 sentrums wat daar was, uit haar hart uit vir hulle vertel het oor hoe Afrikaans nie die taal van wittes is nie.

Toe daar oor die voorstel oor ons naamsverandering gestem moes word, was daar nie ‘n enkele teenstem nie en kon ons met lekkerte ons naamkaartjies verander van Pretoria PEN na PEN Afrikaans.

Die Nederlandse PEN-sentrum het wel buite stemming gebly. Later het hulle kom verduidelik dat hulle onseker was oor die status quo, omdat Dan Roodt hulle einde 2011 genader het om ‘n spreker te kry vir sy sentrum se vergadering. Hulle het toe ‘n bietjie gaan loer op die internet en geskrik vir wat hulle daar raakgeloop het.  Teen daardie agtergrond wou hulle die kat uit die boom kyk, en het eers na die stemming vasgestel wat die werklike toedrag van sake was.

[Dit het ook dan verklaar hoekom hulle maar vir ons drie versigtig was tydens die kongres, in teenstelling met die Vlaamse PEN se mense.]

In ieder geval, die Dietse lug is gesuiwer en daar is geen twyfel  dat ons lekker saamwerkmoontlikhede vorentoe sal hê nie.

Daar is eweneens by my geen twyfel daaroor  dat die PEN-sentra in Afrika wat teenwoordig was, ons sonder voorbehoud  aanvaar het.  Die gesprekke oor toekomstige samewerking binne die PAN [PEN Africa Network] was hartlik en vriendskappe is gesmee wat later baie kan beteken. In hierdie verband kan ons miskien vroeg begin werk aan die moontlikheid om iewers in die nabye toekoms die internasionale kongres in Suid-Afrika saam met hulle aan te bied.

Dit was ’n groot voorreg om te kon deel wees van die kongres, wat saamgeval het met die 90ste verjaardag van PEN International.  Die tema was “Literatuur, Media en Menseregte”. By oop sessies was daar dikwels tot 500 mense aanwesig veral ook om na die Nobelpryswenners Wole Soyinka en Jean Marie le  Clezio te luister.  Ons het gehoor hoe kleiner tale sukkel om gehoor te word en die afgevaardigde van Puerto Rico was nuuskierig oor hoe Afrikaans sy man bly staan in ’n omgewing waar Engels van regering se kant af bevoordeel word, soos by hulle aan die gebeur is.

’n Verstommende verskynsel was die magdom poësiebundels wat weggegee is. Dit is veral die Koreaanse skrywers wat daarvoor verantwoordelikl was, dikwels met 100 eksemplare van ’n teks wat uitgestal word vir die saamvat.

Daar was verskillende werksessies, waarvan die belangrikste seker die een was om ’n PEN-beleidsdokument op te stel rondom elektroniese publikasie en die beskerming van skrywers se regte,  wat uitgeloop het op die Verklaring oor Vrye uitdrukking en digitale tegnologie. Die Verklaring doen ‘n beroep op regerings, maatskappye en individue om nie die inhoud van digitale media te sensureer, beperk of beheer nie en  om menseregte te respekteer, insluitende die reg op vryheid van uitdrukking, onafgesien van nasionale wetgewing. Resolusies rakende die posisie van skrywers en joernaliste in verskeie lande is aanvaar, o.a. Wit-Rusland, Sjina, Kuba, Eritrea, Ethiopië, Honduras, Iran, Meksiko, Sirië en  Viëtnam.

’n Afskrif van die program word interessantshalwe hierby aangeheg. Uiteraard is daar  ’n volledige oorsig oor die kongres op PEN International se webwerf .

PEN Afrikaans kan die borge nie genoeg bedank vir die besondere rol wat hulle gespeel het om die bywoning van die kongres moontlik te maak nie en die vestiging van PEN Afrikaans te verseker. Ons sal hopelik verder vorentoe hulle moontlik ook deur ere-lidmaatskap bedank.

Met Pretoria PEN iets van die verlede, kon diegene met voorbehoude, ook die ASU-lede, dus nou aansluit. Die proses vorder geweldig vinnig, en ons hoop dat die getroues wat nou herwaarts gekeer het ook gaan bly wanneer daar oor lidmaatskapgeld besluit moet word.

Daar is helaas ook slegte nuus. Dan Roodt het met nuwe en onvermoeide ywer PEN Afrikaans geteiken, en vir die oorspronklike drietal [en Annari] ingelig dat hy namens Pretoria PEN hof toe gaan. Nadat hy deur Pen International daarop gewys is dat daar geen so ’n sentrum bestaan nie, het hy met ’n onvoorstelbaar venynige brief vir Fanie Olivier persoonlik aangeval. Hierdie brief het hy na al 140 PEN-sentra gestuur. Woensdag het hy ook sy lede ingelig dat sy litigasie ’n ander koers inslaan: strafregtelike vervolging weens bedrog, onder andere.

Gelukkig het  die individue en PEN Afrikaans niks te vrees nie, omdat die proses waarmee ’n jaar gelede begin is, van meet af aan volkome deursigtig en demokraties verloop het.

Op ’n persoonlike noot: ek wou in Maart al uit die bestuur wegkom, maar het aangebly om te help om die proses tot by die erkenning van PEN Afrikaans deur te voer.  Voor ek groet, moet ek ’n onmeetbaar-groot dankie sê aan John en Pieter wat daardie bitter paadjie van Oktober tot Desember saamgeloop het.  Die klappe en slegsê-dinge wat hulle kant toe gekom het, gaan sit nie sommer in enige een se klere nie.  Ek hoop dat die geskiedenis van die Afrikaanse PEN aan hulle reg sal laat geskied.

Die enigste waarskuwing wat ek wil rig, is dat PEN Afrikaans moet seker maak dat dit nie in die slaggat trap van streekslojaliteite nie. Soos die destydse Skrywersgilde moet ons seker maak dat  ons oor die hele land ewe sigbaar en aanwesig is, en dat ons in ons bestuur ook die internasionale profiel van Afrikaans verteenwoordig.

Dis nie aldag wat ’n ou vereniging in ’n splinternuwe baadjie en met  ’n skoon bladjie voor sy lede kan kom staan nie. Maar hier is ons nou, en ek wens  die nuwe bestuur alles wat mooi en maklik is, toe.  Dis voorlopig net die beursie wat pla:

En, nog ’n keer: aan Naas Steenkamp> jy is ’n staatmaker en woelwater duisend.

Ten slotte, dan, die vermaning namens die nuwe bestuur in A G Visser se woorde:

Die liefdegawe ingesamel
Lyk my besonder skraps en skamel.
In die vervolg mag net die sing
wat Sondags hulle kollekte bring.
Ek hoop my boodskap is nou goed verstaan:
Koster, hef die slotsang aan.

Fanie Olivier

20 Oktober 2012, Stellenbosch