PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds meeste vertalings nog

Werk van Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach, Chris Barnard, Dan Sleigh en Lindie Koorts sal binnekort in vertaling beskikbaar wees.

Die derde sluitingsdatum vir befondsingsaansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat daarop gemik is om die vertaling en buitelandse publikasie van Afrikaanse werke te bevorder, is in November verstreke en het verskeie verdienstelike aansoeke opgelewer.  

Te danke aan die ruim finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sal daar hierdie keer vyf vertalings deur die Vertaalfonds befonds word:

  • ’n Franse vertaling van ’n keur uit Die singende hand en die na-dood deur Breyten Breytenbach
  • ’n Kroasiese vertaling van Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk
  • ’n Nederlandse vertaling van Danda deur Chris Barnard
  • ’n Nederlandse vertaling van 1795 deur Dan Sleigh
  • ’n Nederlandse vertaling van DF Malan en die opkoms van die Afrikaner-nasionalisme deur Lindie Koorts

Éditions Bruno Doucey, ’n gerespekteerde uitgewer van veral poësie, sal ’n Franse vertaling van ’n keur uit Die singende hand en die na-dood deur Breyten Breytenbach publiseer. Die vertaling sal in Frankryk beskikbaar wees, maar ook in Switserland, in België en in Quebec. Die gerekende vertaler Georges Lory sal die vertaling doen. Ander skrywers wie se werk hy na Frans vertaal het, sluit in Antjie Krog, JM Coetzee, Dominique Botha en Deon Meyer.

Uitgeverij Bornmeer Noordboek sal ’n Nederlandse vertaling van DF Malan en die opkoms van die Afrikaner-nasionalisme deur Lindie Koorts publiseer. Hulle beoog om die vertaling in Oktober 2019 op die rakke te hê. Volgens die uitgewer is daar groot belangstelling in dié biografie by beide die akademiese en breër leserspubliek. Hermann Giliomee beskryf die biografie as ’n uitstekende, dikwels boeiende werk. Die vertaler is Dorien de Vries.

Lector d.o.o., ’n relatief jong uitgewery wat op vertaalde fiksie fokus, beoog om ’n Kroasiese vertaling van Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk teen September 2019 die lig te laat sien. Die vertaler Toni Bandov, wat gewoonlik uit Nederlands vertaal, sal in hierdie geval direk uit die Afrikaans werk. Die sneeuslaper is ’n versameling verhale wat ’n besinning oor die skryfkuns as prominente tema het. Dit het aan Van Niekerk in die UJ-prys vir beste skeppende skryfwerk besorg.

Uitgeverij Aldo Manuzio voeg die volgende romans by hul groeiende lys Nederlandse vertalings van Afrikaanse romans: die jeugroman Danda deur Chris Barnard en 1795 deur Dan Sleigh, ’n roman wat volgens Thys Human ’n byna ongeëwenaarde bydrae tot historiese fiksie in Afrikaans lewer.

Dan Sleigh het met 1795 verskeie literêre pryse losgeskryf: die WA Hofmeyrprys vir Afrikaanse fikse, die ATKV-prosaprys en die SALA-romanprys. Dit is ook as die wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Roman-wedstryd aangewys. Die Nederlandse vertaling sal deur Riet de Jong-Goossens en Bert Aquarius gedoen word. De Jong-Goossens het voorheen ook Sleigh se Eilande in Nederlands vertaal.

Michiel Angenent sal verantwoordelik wees vir die Nederlandse vertaling van Danda deur Chris Barnard, een van die klassieke jeugverhale in Afrikaans. Dit sal sy tweede vertaling van ’n jeugroman uit Barnard se pen wees. Die Nederlandse vertaling van Voetpad na Vergelegen het by Uitgeverij Mozaïek verskyn.  

Dit is verblydend dat die PEN Afrikaans Vertaalfonds die vertaling van verskeie genres na verskeie tale kan ondersteun.  Die sentrale doelstelling van dié fonds is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met meer volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: PEN Afrikaans Vertaalfonds

Navrae kan gerig word na: penafrikaans@gmail.com


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.