Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
….
PEN Afrikaans neem met kommer kennis dat outeur Chris Steyn en joernalis Marianne Thamm onderwerp is aan intimidasie en dreigemente ná die publikasie van Die seuns van Bird Island, ’n boek oor ’n beweerde pedofilienetwerk wat in die 1980’s in Port Elizabeth bedryf is en wat na bewering sekere voormalige ministers van die Nasionale Party ingesluit het.
Plaaslike mediaberigte dui daarop dat mede-skrywer Mark Minnie, wat ’n paar dae ná die verskyning van die boek na bewering sy eie lewe geneem het, en Steyn albei bekommerd was oor hul veiligheid en huiwerig was om in die openbaar te verskyn omdat hul dreigemente ontvang het asook anonieme navrae oor waar hul hulself bevind.
Marianne Thamm, ’n gerespekteerde joernalis wat die voorwoord van Die seuns van Bird Island geskryf het, het op Twitter gemeld dat sy onder afknouery en aanlyn-teistering deurloop na die publikasie van die boek.
As lid van PEN International, die wêreld se grootste skrywersvereniging, maak PEN Afrikaans beswaar teen sulke onaanvaarbare pogings om skrywers te intimideer en stil te maak. Die beskerming van die reg op vryheid van uitdrukking – die vryheid om idees uit te druk sonder vrees vir aanvalle, arrestasie of ander vervolging – lê sedert PEN International se ontstaan in 1921 aan die kern van dié organisasie se werksaamhede.
Onder geen omstandighede behoort skrywers vergelding in die vorm van fisieke geweld te vrees nie. Sulke verwerpbare dreigemente het geen plek in ’n samelewing wat vryheid van uitdrukking as ’n grondwetlike reg verskans nie.
Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.