PEN Afrikaans veroordeel aanval op Karima Brown en mediavryheid in Suid-Afrika

Sedert die aanlyn publikasie van ’n WhatsApp-boodskap van joernalis Karima Brown, wat per abuis na die EFF se WhatsApp-groep vir mediaverklarings gestuur is, het Brown deurgeloop onder skokkende dreigemente en teistering, wat hoofsaaklik op Twitter versprei is deur die leierskap en ondersteuners van die EFF.

Die EFF se mediaverklaring oor die aangeleentheid, gedateer 6 Maart 2019, etiketteer Brown as ’n ANC-verteenwoordiger in stede van ’n joernalis, en bevraagteken haar integriteit en die aard van haar posisie binne eNCA. Dit bevat geen verskoning vir die publikasie van Brown se selfoonnommer op Twitter nie, ’n ernstige skending van haar reg op privaatheid, en veroordeel nie die stortvloed intimidasiepogings, neerhalende opmerkings en dreigemente van geweld waaraan sy sedertdien onderwerp word nie.

Dit is ’n skokkende aanval op me. Brown se reg op privaatheid en haar fundamentele reg op vryheid en sekuriteit van die persoon, maar ook op mediavryheid in Suid-Afrika, soos aangedui deur die Nasionale Redakteursforum in ’n verklaring wat PEN Afrikaans ten volle steun. Hierdie soort gedrag is veral kommerwekkend gegewe die hoë voorkoms van geweld teen vroue in Suid-Afrika.

As ’n organisasie wat vryheid van uitdrukking en mediavryheid verdedig, veroordeel PEN Afrikaans die aanval ten sterkste en ons doen ’n beroep op die EFF-leierskap om dieselfde te doen.