Nuusbrief: Oktober 2014

1.

Dis met groot plesier dat ek vandag kan aankondig dat Danie Marais hom by PEN Afrikaans aansluit in die pos van Bestuurder. Ek het enkele maande gelede genoem dat ons só ’n pos wil skep sodat daar daagliks na ons sake omgesien kan word – en veral dat die projekte wat ons beoog, van die grond kan kom.

Danie is by die luisteraars van Smile-radio goed bekend, asook by die lesers van By en wyle Insig, waar Danie oor die jare sy liefde vir die Afrikaanse boek kon uitleef. Hy het ondertussen ook naam gemaak as digter van heerlik spontane verse.

Die geesdrif waarmee hy sy werk by genoemde publikasies behartig het, asook sy onverskrokke nuk om nuwe maniere van dinge doen te beproef, het ons soektog na finansiële steun makliker gemaak. Ons dank aan die Dagbreektrust wat ons met styl oor dié hekkie gehelp het.

Ek het Danie gevra om ’n paar paragrawe te skryf om homself bekend te stel. Hy doen dinge nie half nie! Danie skryf:

Ek is om verskeie redes opgewonde om by die bestuur van PEN Afrikaans betrokke te raak. Hierdie opgewondenheid berus enersyds op al die nuwe moontlikhede wat die digitale wêreld aan ’n taal- en skrywersgemeenskap bied; andersyds op die feit dat daar geruime tyd al by my en vele ander kommer bestaan oor bepaalde leemtes wat in die Afrikaanse skryfwêreld ontstaan het – leemtes wat PEN Afrikaans kan help aanspreek.

Wat ek in die vooruitsig stel, is ’n webruimte/blog in diens van alle Afrikaanse skrywers en joernaliste wat ’n knooppunt word vir inligting oor en besprekings van skrywers en boeke. Met ander woorde, ’n webruimte waar enige lid van PEN ’n profiel kan hê wat enige belangstellende in sy/haar werk vinnig in al die regte rigtings sal stuur – dit wil sê na plekke op die internet waar resensies, onderhoude en inligting, in geskrewe vorm of as potgooie of videogrepe beskikbaar is.

PEN Afrikaans wil nie net die vakuum vul wat deur die Afrikaanse Skrywersgilde gelaat is nie, maar ook stelselmatig projekte van stapel stuur wat daartoe bydra om taalruimtes wat bedreig word te verruim, te versterk of aan te vul. Ek is dus sowel begaan oor die argiveringswerk van NALN as die krimpende moontlikhede vir die beoefening van Afrikaanse kuns-, kultuur- en boekjoernalistiek van gehalte.

Die plan is egter nie om funksies te probeer verrig wat reeds deur organisasies en/of maatskappye soos die ATKV, Media24, Solidariteit, die Afrikaanse Sakekamer, AfriForum ens behartig word nie. PEN Afrikaans staan in die diens van almal wat skryf in Afrikaans. Ons wil egter graag saamwerk met enige groep of instansie wat ’n belang in die voortbestaan, bevordering en gebruik van Afrikaans as geskrewe taal het, mits daardie groep of instansie ook inklusiwiteit en nie-rassigheid as beginsels ondersteun.

Ek sien dit dus as een van die primêre doelwitte van die bestuur om te werk daaraan dat wit, bruin en swart Afrikaanse skrywers ewe tuis voel by PEN Afrikaans.

Om Afrikaans te bevorder, soos ons dit wil doen, is nie ’n vasklou aan enige lewensbeskouing of verlede nie. Dit is ’n strewe wat berus op die oortuiging dat enige taal soos enige mens iets het om te sê en dat daar ruimtes nodig is waarbinne gepraat, geskryf en daarmee ook geluister en gelees kan word.

Ek vind dit daarom verblydend dat PEN Afrikaans geregistreer is as NRO wat nie op winsbejag ingestel is nie. Globalisering het ons immers gewys dat die mark geen vriend van verskeidenheid is nie – in elke winkelsentrum van die Kaap tot by Beitbrug oorheers dieselfde kettings en produkte.

By PEN Afrikaans hoef ons egter nie te vra of iets gewild gaan wees of geld gaan maak nie. Ons moet net wonder of ’n bepaalde projek of besluit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en lesers strek. 

Diegene wat met hom in verbinding wil tree, kan dit doen by die selfoonnommer 083 325 3433 of skryf aan danie.marais@gmail.com.

2.

Stilweg het ’n krisissituasie vir Afrikaanse boeke ontwikkel. Die voortdurende poskantoorstaking wat in verskillende permutasies sedert 2012 voortgesleep het, het nou ontaard in ’n baie ongesonde invloed op die Afrikaanse boek.

Volgens Nielsen Bookscan, die mees betroubare barometer van werklike boekverkope in Suid-Afrika, het Leserskring 25% markaandeel in die Afrikaanse mark, m.a.w. gemiddeld een uit elke vier Afrikaanse boeke wat verkoop, word deur Leserskring verkoop.

Nie alle genres verkoop ewe goed by Leserskring nie – digkuns is, by wyse van voorbeeld, nie bo-aan hul verkopelys nie – maar selfhelp-, kook- en kinderboeke, asook uiteraard volwasse fiksie verkoop baie goed aan die lede van dié boekklub.

Leserskring is vanjaar 35 jaar oud, en het verskeie resessies goed deurstaan. Dit het ook goed bly vaar ná die koms van mededingers soos Kalahari en ander e-handelaars.

Daardie handelaars verkoop steeds deur die bank minder as ’n tiende van die Afrikaanse boeke wat Leserskring verkoop, vertel me. Eloise Wessels, Uitvoerende Hoof, Media24 Boeke.

“Die poskantoorstakings is egter besig om dié besigheid verskriklik te knou op alle vlakke,” sê me. Wessels. “Werwingstukke/insetsels in tydskrifte wat deur die poskantoor versend word, kom nie by hulle bestemmings uit nie. Dit is dus ‘n enorme vermorsing van geld én raak Leserskring se ledegetalle baie negatief.

“Katalogusse moet volgens wet deur die poskantoor versend word, maar dié kom nie by lede uit nie en dit affekteer weer omset onstettend sleg.”

Die lede wat hulle pakkies deur die poskantoor kry (baie verkies nou koeriers en instansies soos PostNet, maar dis nie oral moontlik nie) se pakkies gaan verlore of word nooit afgelewer nie, nog ‘n enorme vermorsing van geld.

“Ons doen alles wat ons kan om wal te gooi en innoverend te dink en doen, maar die voortslepende poskantoor-stakings is besig om dié ikoniese Afrikaanse instansie en die enkel grootste kanaal vir Afrikaanse boekverkope stadig maar seker ‘n nekslag toe te dien.”

Ek het Leserskring nog altyd beskou as een van die betroubaarste bondgenote wat die Afrikaanse skrywer het. Ek sal nooit vergeet hoe dit gevoel het die dag toe dié boekklub 80 000 eksemplare van ’n Afrikaanse kookboek bestel het nie. Ek is ewe bewus van die belangrike rol wat hulle gespeel het in uitgewers se pogings om kleuters en peuters lief te maak vir boeke.

Dit sal vir alle Afrikaanse skrywers ’n ramp wees as hulle deur stakende poskantoorwerkers gestuit word in die uitvoer van hul taak.

3.

Ek heg weer by hierdie brief ’n opgaaf van die jongste algemene publikasies in Afrikaans aan.

Hartlike groete,

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

Klik hier om die Excel-legger af te laai: Nuwe Afrikaanse boeke – Oktober 2014