Nuusbrief: Mei 2023

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Suksesvolle aansoeke: Jakes Gerwel Stigting en PEN-skrywersresidensie
 
Baie geluk aan die skrywers wat gekies is vir die 2023 Jakes Gerwel Stigting en PEN-residensie! Dit is ’n plesier om die aankondiging hierby in te sluit. Dit is ook hier op ons webwerf beskikbaar. Ons wens die skrywers ’n produktiewe en vreugdevolle skrywersresidensie toe.
 


Oor minder as ’n maand sal die suksesvolle aansoekers vir die 2023 Jakes Gerwel Stigting en PEN-skrywersresidensie die Stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap betree vir drie weke waartydens hul slegs op hul skryfwerk kan fokus. Die gekose inwoonskrywers is vanjaar: Gaireyah Fredericks en Tertius Kapp (PEN Afrikaans), Zubeida Jaffer en Kirsten Dean (PEN Suid-Afrika), Temwani Mgunda (PEN Malawi) en Christoph Nix (PEN Duitsland).  
 
“Die enigste ware instrument wat ’n skrywer het, is sy of haar eie geleefde ervaring. Dus, hoe meer ervaring, hoe meer blootstelling, hoe beter is die doek waarop die skrywer werk. Hierdie projek gee nie net aan skrywers ononderbroke skryfruimte nie, maar ook ’n ruimte waar die interaksie en uitruil van idees tussen skrywers van regoor die wêreld moontlik gemaak kan word. Skrywers word vriende by Paulet-huis, en vriende in ander dele van die wêreld kan net voordelig wees! Dit is ’n leerervaring vir alle skrywers – om uit mekaar se agtergronde, geskiedenisse te leer,” sê die Jakes Gerwel Stigting se uitvoerende direkteur, Theo Kemp.
 
Vir prokureur/professor/outeur/teatermaker Christoph Nix (PEN Duitsland) is dit belangrik om by sy huisgenote te leer: “Ek wil by julle leer. My Afrika-romans is immers ’n vermoede, geskryf deur ’n persoon uit ’n land met ’n koloniale geskiedenis. My emansipasie was die rebellie van 1968 en die stryd teen rassisme en apartheid. So, ek sien uit na die gees van Gert Johannes Gerwel, as ’n intellektuele tuiste van linkses.”
 
’n Behoefte aan tyd om op haar skryfwerk te fokus, is wat die veteraanjoernalis, skrywer en aktivis Zubeida Jaffer na die verblyf gelok het en sy is “verheug” om dit in ’n ander deel van die land deur te bring en nie in die buiteland nie.
 
“Dikwels as ons meer ervaring opdoen, deel ons dit met mense uit die noorde wat bevoorreg is. Nie dat ek sulke geleenthede verwerp nie, maar ek dink wel ons moet terugploeg in mense van die suide. Hierdie verblyf help ons om presies dit te doen – om in Somerset-Oos tyd te spandeer en om met plaaslike skrywers te skakel.”
 
“Jakes Gerwel het ons trots gemaak deur sy belegging in ’n klein dorpie waarvoor hy so lief was. Ons moet almal die voorbeeld volg van die ontwikkeling van kreatiewe instellings in plaaslike gemeenskappe. Dit kan net gemeenskapslewe verryk,” sê Jaffer.
 
Die geleentheid om “idees uit te ruil met medeskrywers” ​​het skrywer Tertius Kapp, wat aan sy eerste roman gaan werk, gelok om aansoek te doen vir die residensie. Hy hoop ook om tyd te neem om “krities na my kreatiewe metodes te kyk”.
 
Gaireyah Fredericks, wie se versameling kortverhale by Kwela Boeke gaan verskyn, hoop om “nuwe ervarings en vars kennis” in te win, en om ingelig, verfris en verkwik terug te keer. “Om dié opportunity te gekry et was beyond. Et isse gift en ek kannie wag ommit te unwrap ie,” sê sy.
 
Die jong digter Kirsten Dean, wat tydens die residensie aan haar digbundel gaan werk, verduidelik: “As skrywers kan dit baie moeilik wees om werk, finansies, ander verantwoordelikhede en ons verantwoordelikhede as skrywers te navigeer.” Sy het daarom die oproep vir aansoeke gesien as ’n “seëning van my hoër mag en die skrywersgode” en sien uit daarna “om tyd in en met die wêreld van skryf deur te bring”.

Na drie jaar waartydens die skrywersresidensie eksklusief aan lede van PEN Afrikaans beskikbaar was, is daar in 2022 ’n nuwe bladsy omgeslaan toe PEN Suid-Afrika en PEN Nederland genooi is om deel te neem.
 
“Ons het vooraf lang gesprekke oor die uitbreiding van die residensie gehad, want ons wou getrou bly aan prof. Gerwel se geweldige liefde vir Afrikaans. Geen spreker van enige taal leef egter in isolasie nie, en daarom is die uitbreiding nie ’n bedreiging nie. Dit plaas eerder Afrikaans in die groter konteks van die land, die vasteland en die wêreld. Ek sien hierdie verblyf as ’n verrykende ervaring vir nie net die Afrikaanse skrywers nie, maar alle skrywers,” sê Kemp.
 
Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans, onderskryf hierdie punt deur te sê dat die byeenbring van skrywers van verskeie PEN-sentrums rondom Paulet-huis se eetkamertafel ’n vergestalting is van beginsels wat in die PEN-handves vervat is, veral “geloof in letterkunde as gemeengoed tussen mense, in gedeelde menslikheid en wedersydse respek tussen skrywers van oraloor”.
 
“Gegrond op terugvoer van verlede jaar se verblyf, waartydens die minlike Nederlandse digter Emma Crebolder as die eerste internasionale gas verwelkom is, blyk dit dat dié uitbreiding van die residensie ongetwyfeld verrykend is. Dit bied ook ’n wonderlike geleentheid vir plaaslike skrywers van PEN Afrikaans en PEN Suid-Afrika om vir ’n langer tyd ruimte en gedagtes te deel, en in ’n minder formele en gestruktureerde omgewing as byvoorbeeld ’n paneelbespreking of ander literêre feesgeleentheid,” sê Wessels.
 
Die deelnemende skrywers se biosketse is as volg:
 
Christoph Nix (PEN Duitsland) verwerf ’n PhD in beide regte en teaterstudie. Hy is die skrywer van verskeie romans en ’n reeks spanningsverhale wat in Afrikalande soos Uganda, Togo, Burundi en Malawi afspeel. Benewens sy fiksiewerke, is Nix die skrywer van talle meer akademiese publikasies in regte en teaterstudie.
 
Gaireyah Fredericks (PEN Afrikaans) behaal ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns (Rhodes Universiteit), nadat sy gegradueer het in Afrikaans en Nederlandse Letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy is ’n selfgepubliseerde skrywer en werk tans aan haar eerste bundel kortverhale wat die Afrikaanse Moslemkultuur verken en by Kwela Boeke sal verskyn.
 
Kirsten Dean (PEN Suid-Afrika) verwerf haar Honneurs in Engelse Letterkunde en MA in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy werk aan haar eerste digbundel en besin oor die lewe met haar fisiese gestremdheid (Linkerhemiplegie). uHlanga Press stel daarin belang om hierdie jong en dapper digter se werk te publiseer.
 
Temwani Mgunda (PEN Malawi) het al talle werke gepubliseer en is een van Malawi se mees prominente kontemporêre skrywers. Sy gedig “The Slums of Mbayani” het die 2022 African Writers Award in die poësiekategorie gewen. Mgunda werk as streekredakteur by die Londen-gebaseerde China Dialogue. Hy sal sy kortverhaalbundel, A Bitter Harvest: A Collection of Short Stories, tydens sy verblyf by Paulet-huis voltooi.
 
Tertius Kapp (PEN Afrikaans) werk hoofsaaklik in film en teater. Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en het ’n BSc-honneurs in Fisika en ’n MA in Kreatiewe Skryfwerk. Hy is bekroon met die gesogte Hertzogprys vir sy teaterwerk. Tydens die verblyf sal hy aan sy eerste roman werk.
 
Zubeida Jaffer (PEN Suid-Afrika) is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis, skrywer en aktivis. Haar werk het aan haar talle plaaslike en internasionale toekennings besorg. Dit sluit die Muslim Views Achiever-toekenning sowel as die Medalje vir Voortreflike Diens aan Joernalistiek van die Universiteit van Missouri in die VSA in. Sy werk tans aan ’n geskiedkundige roman oor die lewe van Charlotte Maxeke.
 
 
PEN Afrikaans oor die onregmatige verspreiding van Truth to Power
 
Hier onder is ’n verklaring wat die bestuur van PEN Afrikaans op 15 Mei uitgereik het oor die onregmatige verspreiding van Truth to Power, André de Ruyter se verslag van sy drie jaar by Eskom. Dit is ook hier op ons webwerf beskikbaar vir verdere verspreiding.

 

PEN Afrikaans verneem met leedwese dat die PDF-weergawe van Truth to Power deur André de Ruyter skynbaar geredelik op die sosiale media gedeel word.
 
Om ’n onwettige kopie van ’n boek aan te stuur, is diefstal.
 
Die verspreiding van roofkopieë neem kos uit die monde van skrywers en werkers in die uitgewersbedryf. Dit is baie ironies dat ’n boek wat handel oor korrupsie en diefstal nou na bewering op groot skaal gesteel word.
 
PEN Afrikaans wil dit baie graag op almal se harte druk dat ’n PDF van ’n boek onder geen omstandighede aan iemand anders gestuur mag word nie. Deur dit te doen, stel die deler haarself/homself bloot aan vervolging. Die deler is in hierdie geval ewe verkeerd as die steler.
 
Dit is ook ironies dat PEN Afrikaans tans veg teen die staat se nuwe wetgewing wat tot ernstige misbruik van ’n skrywer se regte kan lei.
 
Eskom kan totaal in duie stort, so word soms beweer. Ditto met die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf. Druk van die staat en grootskaalse boewery deur gewone mense op straat, mag lei tot ’n totale uitwissing van ons land se boekebedryf.
 
Moet asseblief onder geen omstandighede ’n PDF van ’n boek op jou selfoon hou, of aanstuur nie.
 
Diefstal en korrupsie is nie ’n grap nie.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2023
 
Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte: Dankie aan RSG vir die geleentheid om vanoggend oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te praat. ’n Podsending van die onderhoud is hier beskikbaar.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans