Nuusbrief: Mei 2019

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Perspektiewe op die Ghoemas, Afrikaans, borgskappe en sensuur

Die bestuur van PEN Afrikaans het die verwikkelinge rondom die Ghoemas gevolg en volg sedertdien die reaksies daarop. Dit is verblydend dat daar knap en helder-beredeneerde meningstukke daaroor verskyn het. Dié stukke is in teenstelling met sosialemedia-kommentaar wat plek-plek aanvallend en verwerplik is. Dit is duidelik dat ’n senuwee raakgeboor is deur die onttrekking van “Die land” in die kategorie vir beste musiekvideo nadat MultiChoice, die hoofborg van die toekennings, gedreig het om as borg te onttrek. Die rede hiervoor is Steve Hofmeyr, met wie se politieke sienings hul nie wil assosieer nie, se betrokkenheid by die lied. Sedertdien het MultiChoice die verreikende besluit geneem om enige inhoud waarby Steve Hofmeyr betrokke is van hul platforms te verwyder.

Die onderwerpe wat in gesprekke hieroor aandag kry, is juis die sake waarvoor (en waarteen) PEN Afrikaans dikwels standpunt inneem: uitdrukkingsvryheid, sensuur, die kunste, Afrikaans. PEN Afrikaans ondersteun uitdrukkingsvryheid en is gekant teen sensuur. Ons fokus op die viering en die bevordering van die kunste, spesifiek die woordkuns, en van Afrikaans binne ’n meertalige verband.  Ons het egter tot dusver geen kommentaar gepubliseer nie. Ons wil as deel van hierdie nuusbrief ’n verskeidenheid stemme oor die aangeleentheid laat hoor – en hopelik die nuanses daarvan belig.   

Ons het bydraers gevra om hul indrukke oor die insident en die gevolge daarvan neer te pen. Vrae waarop hulle kon ingaan, is:

  • Kom die onttrekking van “Die land” van die Ghoema-toekennings op grond van een van die kunstenaars se politieke sienings neer op ’n inperking van uitdrukkingsvryheid of ’n vorm van sensuur?
  • Indien wel, is daar regverdiging daarvoor?
  • Onderlê ’n stryd vir Afrikaans die hewige teenkanting teen die onttrekking van die lied?
  • Word die kunste bedreig deur sodanige ingrype deur borge?

 Hul bydraes is hier beskikbaar.    

Suksesvolle aansoeke vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het onlangs met trots die suksesvolle aansoekers vir die skrywersresidensie wat dié twee organisasies vanjaar aanbied, aangekondig.

Die fokus van die residensieprogram is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Na deeglike oorweging van die aansoeke, wat van hoogstaande gehalte was, is die volgende ses skrywers as suksesvolle aansoekers aangewys:

  • Jeremy Vearey
  • Kirby van der Merwe
  • Lynthia Julius
  • Nathan Trantraal
  • Ronelda Kamfer
  • Ryan Pedro

Die skrywersverblyf sal die skrywers in staat stel om vir ’n maand aan ’n manuskrip te slyp in die rustige en prentjiemooi omgewing van die Paulethuis in Somerset-Oos. Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans dek die kostes van die skrywers se verblyf, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe. Vervoer in Somerset-Oos sal ook aangebied word.

“Dit was ’n plesier om deur soveel sterk aansoeke te werk,” vertel Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting. “Daar is belangrike verhale wat wag om vertel te word en gedigte wat wag om geskryf te word. Ons wil met hierdie projek Jakes Gerwel se liefde vir Afrikaans vier en ons pas gerestoureerde skrywershuis benut om soveel as moontlik skrywers te ondersteun. Ons glo dat die skrywersresidensie die skrywers die nodige tyd en ruimte sal gee om goed met hulle skryfwerk te vorder. Dit is uiteindelik tot ons almal se voordeel.”

“As ’n skrywersvereniging is PEN Afrikaans onder meer daarop gemik om skrywersbelange te verteenwoordig en te bevorder. Die Skrywersresidensie is presies die tipe projek wat ons graag ondersteun en ons is dankbaar om dit in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting te kan doen,” sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans. “Ons wens die skrywers ’n goeie en produktiewe verblyf in Somerset-Oos toe.”

Hierdie persverklaring is ook hier beskikbaar.

’n Bloemlesing ter viering van inheemse tale

Hartlik dankie aan almal wat gedigte ingestuur het vir moontlike insluiting by die bloemlesing ter viering van die Jaar vir Inheemse Tale. Die hooftema van die bloemlesing is taal self.

Ons sal individueel skakel met diegene wat gedigte voorgelê het. Baie dankie vir die deelname!

PEN Afrikaans Vertaalfonds: aansoeke ingewag

Die volgende sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds is om die draai. Buitelandse uitgewers kan tot 15 Mei aansoek doen vir befondsing om ’n Afrikaanse boek in vertaling uit te gee. Volledige besonderhede en die aansoekvorm is hier beskikbaar.

Te danke aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys se finansiële steun kan die PEN Afrikaans Vertaalfonds bydra tot die vertaling van Afrikaanse werke en die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland. Dit is opwindend om te sien hoe die vertalings wat uit vorige suksesvolle aansoeke voortvloei die rakke in die buiteland tref.  Ons deel graag hier van die omslae van Nederlandse uitgawes wat deur die Vertaalfonds befonds is.

PEN VIDA-telling: ‘n ondersoek na geslagsverteenwoordiging in die Afrikaanse boekjoernalistiek 

Tydens die 2018 PEN International-kongres, wat in September in Pune, Indië plaasgevind het, is die sogenaamde “PEN VIDA count” aan PEN-sentrums wêreldwyd bekendgestel en die onderskeie sentrums is aangemoedig om ’n eie PEN VIDA-telling van stapel te stuur.

VIDA – Women in Literary Arts is ’n Amerikaanse nie-regeringsorganisasie wat daarop gemik is om lig te werp op moontlike geslagsongelykhede in die boekjoernalistiek en uitgewersbedryf. Dit word gedoen deur vrywilligers wat versigtig alle gepubliseerde resensies in gevestigde koerante, tydskrifte of literêre bylae fynkam met ’n paar vrae voor oë: Hoeveel vroueskrywers se werk word geresenseer? Hoeveel resensente is vroue?

Sedert 2011 publiseer VIDA jaarliks hul telling en ’n verslag wat hul resultate toelig. Hul verslag ken ’n persentasie toe aan vooraanstaande literêre publikasies wat weerspieël hoeveel bladruimte dié publikasies aan vroueskrywers en -resensente afstaan. Die publikasies waarop hul fokus, is dié wat tipies aansienlik tot die bevordering van ’n skrywer se loopbaan kan bydra.

Deur die jare het VIDA hierdeur groot geslagsongelykheid in die boekjoernalistiek aan die kaak gestel, met swaargewigte soos The New York Review of Books, The London Review of Books en The Paris Review wat minder as ’n kwart van hul boekeblad aan vroueskrywers en -resensente toegewy het. The Paris Review is ’n voorbeeld van ’n publikasie wat sedert hul bewuswording van dié wanbalans baie moeite gedoen het om meer vroueskrywers en -resensente te betrek.

Een van die beweegredes vir die ure en ure wat VIDA-vrywilligers aan die telling afstaan, is die oortuiging dat ’n literêre gemeenskap voordeel daaruit trek as ‘n verskeidenheid stemme gehoor word. PEN Afrikaans is dit dawerend hiermee eens en het daarom besluit om ons eie PEN VIDA-telling te doen om te probeer bepaal hoe dié saak in die Afrikaanse boekjoernalistiek daaruit sien.

Meer inligting en resultate is hier beskikbaar.

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021

NB-Uitgewers het onlangs die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021 aangekondig. Dié wedstryd is nie net die omvangrykste plaaslike romanwedstryd nie; dit bied ook die grootste beloning sowel as die geleentheid om by een van NB-Uitgewers se fiksiedrukname te publiseer.

Prysgeld van altesaam R350 000 is op die spel. Die wenner ontvang R200 000, terwyl die tweede en derde prys onderskeidelik R70 000 en R40 000 beloop. Daar is ook ’n debuutprys ter waarde van R40 000.

Deelnemers kan hulle manuskripte voorlê aan enigeen van NB-Uitgewers se fiksiedrukname, naamlik Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie of Kwela. NB-Uitgewers het die eerste opsie om alle romans wat ingeskryf word te publiseer. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 1 Augustus 2020 en manuskripte word vanaf 1 Junie 2020 aanvaar.

Die wedstrydreëls en inskrywingsvorm is aflaaibaar by http://bit.ly/GrootAfrikaanseRomanwedstryd2021

Skrywers se navrae kan telefonies gerig word aan 021 406 3412 of per e-pos aan romanwedstryd@nb.co.za.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

’n Groot gebeurtenis in die kuns- en boekjoernalistiek is die onlangse verskyning van die “anderse reünie-uitgawe” van die ikoniese tydskrif Insig.

Baie geluk aan redakteur Elmari Rautenbach en die span wat hierby betrokke was. Lees hier ’n onderhoud met Elmari, waarin sy die ideale Insig-leser as volg beskryf:

Sy ideale leser is Afrikaanssprekend, maar voel tuis in die wyer Suid-Afrika; dis iemand wat nuuskierig is oor wat om hom aangaan – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd; wat belangstel in mense en ander menings; vir wie dit belangrik is om oplossings te vind vir die land se probleme en aktief daaraan meedoen; wat belangstel in boeke en veral in lees, en plesier vind in die taal, sy kultuur en hebbelikhede; wat kreatiwiteit kan raaksien en waardeer; en wat ‘n gesonde sin vir humor én ironie het.

Gaan koop gerus hierdie spesiale uitgawe van Insig by jou naaste supermark of Exclusive Books, of bestel dit by Johan.terblanche@media24.com.

Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2019

Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Twee Naledi-publikasies wat by verlede maand se lys ingesluit is, staan oor na hierdie maand. Die April-lys sal dienooreenkomstig aangepas word.

Nuwe lede

Ten slotte is dit baie lekker om te noem dat die volgende nuwe lede onlangs by ons aangesluit het:    

  • Lynthia Julius
  • Ryan Pedro
  • Nathan Trantraal
  • Ronelda Kamfer

Ons is bly om julle in ons midde te hê. Baie welkom.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans