Beste lid van PEN Afrikaans
In Februarie is Internasionale Moedertaaldag gevier, ’n nuwe konseptaalbeleid vir hoër onderwys is gepubliseer en die Kopieregalliansie het vergader oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg.
’n Klopjag by Jacques Pauw se woning, sowel as die poging om die bekroonde film Inxeba | The Wound van die kringloop te verban, het die belang van die beskerming van vryheid van uitdrukking opnuut beklemtoon.
Lees PEN Afrikaans se verklaring oor die besluit van die Film- en Publikasieraad se appèltribunaal om ’n X18-ouderdomsbeperking aan die film toe te ken. Na aanleiding van die filmvervaardigers se dringende aansoek om ’n tussentydse hofbevel is die film intussen terug op die kringloop hangende ’n hersieningsaansoek wat op 28 Maart sal plaasvind.
’n Stewige oes Afrikaanse boeke het verskyn, is geresenseer en by die Woordfees bespreek. Die Prontuit-span het ’n insetsel gedoen oor die Afrikaanse uitgewersbedryf (sien skakel na resensie-oorsig onder), ’n bedryf waarmee dit tans besonder goed gaan. Hier is ’n artikel wat dié blye stand van sake uiteensit. Dankie aan uitgewers, skrywers en boekliefhebbers. Mag dit so voortgaan.
Lekker lees aan ons Maart-nuusbrief. Deel dit gerus met belangstellendes.
Moedertaaldag
Ter viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie het PEN Afrikaans by ’n paar mense gaan aanklop om te hoor wat volgens hulle die belang van moedertaal is en waarom dit gevier behoort te word. Lees hier wat sê Christien Neser, Theo du Plessis, Matthias Brenzinger, Cornelia Faasen, Nomfundo Mali, Alta Engelbrecht en YOMA.
‘n Nuwe konseptaalbeleid
’n Hersiene konseptaalbeleid vir hoër onderwys is in die Staatskoerant van 23 Februarie gepubliseer met ’n uitnodiging aan belangstellendes en belanghebbendes om skriftelik kommentaar daarop te lewer. As ’n organisie met ’n belang by die bevordering van taalregte in ’n meertalige verband, en spesifiek die bevordering van Afrikaans en die behoud daarvan as onderrigtaal, dien PEN Afrikaans skriftelike kommentaar daarop in. Sien ons kommentaar hier.
Die beleid is te verwelkom as ’n belangrike stap in die rigting van meertaligheid in tersiêre onderrig.
Theo du Plessis se gedagtes oor die beleid is hier beskikbaar. Hy sê onder andere:
“Die voorgestelde taalbeleid kan as ’n mylpaal beskou word omdat dit konkrete riglyne aan beleidmakers gee oor wat om te doen rakende ‘n billike talebestel aan universiteite. Die onverwagse bonus is dat Afrikaans nou weer ’n leefruimte as ’n volwaardige akademiese taal aan universiteite gegun word.”
Verslag oor die Kopieregallianse se beraad oor die beoogde wysigings aan die Wet op Outeursreg
Op 24 Februarie het die Kopieregalliansie ’n beraad oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg by die Universiteit van Pretoria aangebied. Dit is vir PEN Afrikaans belangrik om lede op hoogte te hou van hierdie verwikkelinge. Dit raak skrywers en uitgewers direk.
Lees ’n verslag oor die dag se verrigtinge hier.
Spesiale aanbod verstryk binnekort
Ons herinner julle graag dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans tot einde Maart teen ’n spesiale tarief toegang tot PharosAanlyn kan verkry.
Opbetaalde lede kom in aanmerking vir 15% korting op die standaard subskripsiefooi van R800. Spaar R120 en betaal slegs R680 vir ’n jaar se toegang tot die volledige PharosAanlyn-pakket: meer as 30 woordeboeke (in Afrikaans en Engels) sowel as die aanlyn-AWS.
Fakture vir 2018-ledegeld word in sarsies uitgestuur. Kontak ons by penafrikaans@gmail.com indien jy nog nie ’n faktuur vir ledegeld ontvang het nie, maar wel van die PharosAanlyn-aanbod gebruik wil maak.
Inhoud uit Taalgenoot se Lente 2017-uitgawe
PEN Afrikaans deel met die vriendelike vergunning van die Taalgenoot-redaksie artikels en resensies uit dié kwartaallikse tydskrif se Lente 2017-uitgawe. Marita van der Vyver vertel watter boeke haar as skrywer gevorm het, Alita Steenkamp meen storievertel is in die Bakkes-gesin se bloed, Izak de Vries verduidelik dat lesers deesdae doodgewone, herkenbare karakters in ontspanningsfiksie wil raaklees. Sien ook Christien Neser se artikel oor die voordele van moedertaal en meertaligheid. Hierdie is slegs ’n paar van die artikels wat gratis in PDF-formaat afgelaai kan word. Klik hier. Dit is nie elders digitaal beskikbaar nie.
Met soveel inhoud vir leesgieriges en nuuskieriges is dit nie verbasend dat die Suid-Afrikaanse Publikasieforum Taalgenoot as ons land se beste interne tydskrif aangewys het nie.
Artikel oor vererwing van outeursreg
“Omdat outeursreg nie fisiese eiendom is nie, word dit maklik oor die hoof gesien wanneer ’n boedel beredder word en dit lei dikwels daartoe dat die kommersialisering en afdwinging van daardie outeursreg gestaak word.” Só sê Kim Petersen en Eben van Wyk, beide prokureurs wat in intellektuele eiendom spesialiseer by die regsfirma Spoor & Fisher.
Hartlike dank aan Kim en Eben vir die tweede artikel in PEN Afrikaans se artikelreeks. Dit bevat inligting oor die testamentêre beskikking van outeursreg en is hier beskikbaar.
‘n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Februarie
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Maart
Ten slotte is dit baie lekker om die lys van nuwe Afrikaanse boeke te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.
Die publikasielyste vir Maart kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans