Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
President Ramaphosa stuur Wysigingswetsontwerp op Outeursreg terug na parlement

Ná maande se stilte het president Ramaphosa in Junie sy besluit oor die veelbesproke Wysigingswetsontwerp op Outeursreg bekend gemaak. Hy het teen ondertekening daarvan besluit en die wetsontwerp terugverwys na die parlement vir heroorweging.
PEN Afrikaans verwelkom president Ramaphosa se besluit. Hierdeur het hy ’n lansie gebreek vir doeltreffende kopieregbeskerming en almal wat daarop staatmaak.
Ten einde ons lede se stemme te laat hoor, het PEN Afrikaans veral sedert 2017 aktief deelgeneem aan die konsultasieproses rondom hierdie wetsontwerp. Ons het geskrewe voorleggings voorberei en ingedien, parlementsessies bygewoon en saam met ANFASA en PEN South Africa ’n protesaksie van stapel gestuur toe dit blyk dat die wetsontwerp eenvoudig onveranderd deur die wetgewende proses seil. Te danke aan ons lede, die boekbedryf en die wyer skeppende bedrywe se ondersteuning, is die protesskrif wyd gedeel en geteken. Binne ’n week is die petisie deur meer as 3000 individue en namens 125 organisasies onderteken. Dit is aan die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê en onder die president se aandag gebring.
PEN Afrikaans is ook ’n lid van die Alliansie vir Effektiewe Kopiereg in Suid-Afrika, ’n vereniging van belangegroepe wat die wetsontwerp teenstaan en uitgebreide vertoë aan die president gerig het wat die konstitusionele en ander besware teen die wetsontwerp uiteensit.
Die redes wat die president aangevoer het vir sy besluit teen ondertekening, strook met die vertoë wat die Kopieregalliansie aan hom gerig het. Al is die finale woord hieroor nog nie gespreek nie, is die president se besluit ’n welkome aanduiding dat skrywers en die groter skeppende bedrywe se wekroep uiteindelik gehoor is.
Appèlhof bevind Unisa se taalbeleid ongrondwetlik
Verdere goeie nuus is die onlangse uitspraak van die Appèlhof oor die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se taalbeleid wat Afrikaans as onderrigtaal die afgelope vier jaar uitgesluit het.
Nadat AfriForum ’n vroeëre hooggeregshofuitspraak dat Engels die primêre onderrigtaal aan Unisa moet wees op appèl geneem het, het die Appèlhof beslis dat Unisa se verwydering van Afrikaans as onderrigtaal onwettig en ongrondwetlik is. Unisa kon nie die geregverdigdheid van hierdie besluit bewys nie en is beveel om dit om te keer én die koste van die regsaak te dra.
PEN Afrikaans beskou die uitspraak as ’n blye wending vir die beskerming van taalregte en die toekoms van Afrikaans as akademiese taal. Mag die uitspraak ook wyer uitkring ten gunste van meertaligheid in tersiêre onderrig.
Elsa Joubert (1922 – 2020)

Sedert ons vorige nuusbrief is Elsa Joubert op 14 Junie op die ouderdom van 97 aan Covid-19 in ‘n Kaapstadse hospitaal oorlede.
PEN Afrikaans lig ook hier met dankbaarheid die hoed vir ‘n wêreldklasskrywer wat die Afrikaanse letterkunde – en daarmee ook die bewussyn van al haar lesers – geweldig verruim en verhelder het.
Baie, baie dankie, Elsa Joubert.
Lees hier meer oor haar lewe en werk.
Media24 oorweeg sluitings

In ’n verdere terugslag vir die drukmedia, het die uitvoerende hoof van Media24, Ishmet Davidson, aangekondig dat dié maatskappy dit oorweeg om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante net digitaal uit te gee en personeel in steundienste-afdelings te verminder.
Volgens Davidson het Covid-19 ’n vernietigende uitwerking gehad op Media24 se reeds kwynende drukmedia-bedrywighede.
Hierdie aankondiging stel ’n groot verlies in die vooruitsig – vir die plaaslike medialandskap, maar in die besonder ook vir die Media24-joernaliste en ander werknemers wat hierdeur geraak word.
Volledige inligting oor die herstruktureringsplanne is hier beskikbaar en lees gerus ook Lizette Rabe se meningstuk waarin sy die groter prentjie oor die belang en toekoms van joernalistiek skets.
Inskrywings word ingewag vir die US Woordfeeskortverhaalbundel 2021
Dit is tyd vir die sesde US Woordfeeskortverhaalbundel. Die eerste vyf bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.
Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfeesvennoot, borg weer in 2021 die prysgeld van R30 000 wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Du Toitskloof maak ook ’n bydrae tot hierdie prysgeld en borg die bekendstellingsgeleentheid van die kortverhaalbundel, wat by die 2021 Toyota US Woordfees aangebied sal word.
Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal by die Toyota US Woordfeesprogrambekendstelling vir 2021 bekend gemaak word. Die wenverhaal sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, by die Toyota US Woordfees 2021, aangekondig word.
Inskrywings sluit op 30 September 2020 om 16:00.
Volledige inligting oor die kompetisie is hier beskikbaar en navrae kan per e-pos aan feesnavrae@gmail.com gerig word.
Taalgenoot gratis aanlyn beskikbaar


Tesame met die ontberings en uitdagings wat hierdie tyd kenmerk, is daar ook ligpunte, soos dat Taalgenoot se gehalteleesstof gratis aanlyn beskikbaar gemaak is.
Die onlangse uitgawes van dié bekroonde tydskrif is hier beskikbaar:
Ons het vir hierdie twee uitgawes vir Valda Jansen en Debbie Loots gevra om elk ’n rubriek te skryf oor die boeke wat hulle gevorm en geïnspireer het om te skryf. Moet dit nie misloop nie.
Jeremy Vearey lewer NP van Wyk Louw-gedenklesing
Jeremy Vearey het op 18 Junie die NP Van Wyk Louw-gedenklesing 2020 gelewer. Dit is vanjaar as ‘n weblesing aangebied deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in samewerking met die Universiteit van Johannesburg.
Kyk die lesing hier en lees die teks hier.
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Ons plaas hierdie maand ook twee besprekings wat op www.klyntji.com verskyn het en sien uit daarna om voortaan inhoud van hierdie publikasie in te sluit.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2020
Ons sluit oudergewoonte die nuusbrief af met ‘n gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.
Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.
Dit is ‘n plesier om laastens die volgende persone as nuwe lede van PEN Afrikaans te verwelkom: Wendy Maartens, Madri van der Walt en Marieta Nel. Hartlik welkom!
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans