Nuusbrief: Februarie 2018

Beste lid van PEN Afrikaans

2018 is in volle vaart aan die gang. Mag dit ’n goeie jaar vir die Afrikaanse woordkuns wees!

Ons skop die jaar se nuusbriewe amptelik af met ‘n lekker lywige skrywe oor, onder andere,  ’n PEN Internasionaal-werkswinkel in Malawi, ’n nuwe artikelreeks, goeie nuus oor die kykNET-Rapport-boekpryse, kunstenaarsbeurse vir bywoning van die Woordfees, ’n spesiale PharosAanlyn-aanbod vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans, en belangrike inligting oor ’n kopiereg-saamtrek in die noorde.

Lekker lees en deel gerus ook die nuusbrief met ander belangstellendes.

Hou die datum oop: 24 Februarie 2018

Die Kopieregalliansie, ’n groepering van rolspelers in die skeppende bedrywe wat in reaksie op die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg gestig is, beplan ’n saamtrek by die Universiteit van Pretoria se Musaionteater op Saterdag, 24 Februarie. Hierdie gebeurtenis sal fokus op die verwagte impak van die wysigingswetsontwerp op skrywers, kunstenaars, musikante, filmvervaardigers en die bedrywe wat in hul werk belê.
 
Meer inligting is op ons LitNet-portaal in Afrikaans en Engels beskikbaar. Die amptelike uitnodiging sal binnekort versprei word, maar omkring asseblief solank die datum. Dit beloof om ’n onmisbare geleentheid te wees vir almal wat met outeursreg werk of daarop staatmaak.
 


       Spesiale aanbod: PharosAanlyn


Ons is opgewonde om aan te kondig dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans tot einde Maart teen ’n spesiale tarief toegang kan verkry tot PharosAanlyn, Pharos se versameling van woordeboeke en ander leksikografiese bronne. Met meer as 30 woordeboeke (in Afrikaans en Engels) sowel as die aanlyn-AWS, is PharosAanlyn ’n onontbeerlike bron vir skrywers en taalpraktisyns.

Opbetaalde lede kom in aanmerking vir 15% korting op die standaard subskripsiefooi van R800. Spaar R120 en betaal slegs R680 vir ’n jaar se toegang tot die volledige PharosAanlyn-pakket.

Fakture vir ledegeld, wat nie vanjaar verhoog sal word nie en dus steeds R300 beloop, sal binnekort uitgereik word. Lede wat hul ledegeld betaal het, kan by PharosAanlyn ’n koeponkode kry om teen dié afslag-prys toegang tot hul aanbod te geniet.

Ná vereffening van die faktuur, kan opbetaalde lede van PEN Afrikaans ’n e-pos stuur aan sales@pharosonline.co.za om ’n koeponkode te kry. Lidmaatskap moet bevestig word deur ’n kwitansie vir 2018-ledegeld by die e-pos aan te heg.

PEN Internasionaal-werkswinkel in Malawi van 5 – 9 Desember 2017

Anzil Kulsen, organiseerder van die tweede fase van PEN Afrikaans se Trippel-7-projek, het van 5 – 9 Desember 2017 ’n werkswinkel in Blantyre, Malawi, bygewoon. Dié werkswinkel is aangebied deur PEN Internasionaal en is gemik op opleiding van diegene wat by gemeenskapsprojekte ter ondersteuning van PEN-doelwitte betrokke is. Hier volg Anzil se verslag met foto’s deur Pippa Riddick.

Ons is met gietende reën in Blantyre verwelkom en moes as gevolg daarvan meer as ’n uur in die vliegtuig wag voordat ons na die terminaalgeboue kon gaan. Ten minste ses van die werkswinkel se deelnemers was op dieselfde vlug, maar ons was toe vreemdelinge vir mekaar. Die ys is gebreek en die turbulensie vergete by die verwelkomingsete, waar Alfred Msadala (president van PEN Malawi) en sy span ons onthaal het.



Ter voorbereiding vir die werkswinkel moes delegate terugvoer indien oor die gemeenskapsprojekte wat hul met PEN se ondersteuning gedryf het. Foto’s, videogrepe en verhale het aangedui watter impak hierdie projekte op die deelnemers se lewens, en spesifiek hul skryfvernuf, gehad het. Sommer vroeg op die eerste dag het ek werklik trots begin voel oor my aandeel in die Trippel-7-projek en die mate van sukses wat ons daarmee bereik het.

Tydens die werkswinkel het ons intensiewe opleiding gekry oor verskeie aspekte van projekbeplanning en -bestuur: die identifikasie van die teikenmark, die vasstel van die werklike behoefte, die formulering van die projek se doelstellings, die daarstel van gewenste uitkomste, die belang van impak-analise en fondswerwing. Wat laasgenoemde betref is die opstel van begrotings, die belangrikheid van finansiële verslae, en die noukeurige bestuur van fondse veral beklemtoon.



Uit groepbesprekings was dit duidelik dat beperkte befondsing en kantoorhulpbronne sowel as logistiese probleme rondom afstand en vervoer van die uitdagings is wat bykans alle PEN-sentrums noop om kreatief te werk te gaan om’n geslaagde projek te kan aanbied.

Die sessie oor gendersensitiwiteit was vir my veral insiggewend. Swangerskap, versorging van kinders, huishoudelike verpligtinge en ander sake wat vroue mag beïnvloed, is deeglik ondersoek en deur middel van rolspel en voorbeelde uit werklike projekte geïdentifiseer. PEN Internasionaal se International Women’s Manifesto is een van die dokumente wat onder ons aandag gebring is. Dit is baie belangrik om in die beplanningsfase ag te slaan op kwessies wat veral vroue se deelname en betrokkenheid raak. 

Tydens ’n skryfwerkswinkel, wat deur dr. Danson Kahyana aangebied is, het ons metodes geleer om binne enkele minute ‘n gedig van uitstaande gehalte te lewer. Hierdie metodes is uniek en goeie toerusting vir die aanbied van skryfwerkswinkels.

Malawi se indrukwekkende kultuurlewe en die passie waarmee digters en akteurs hulself uitleef, was duidelik uit die kultuuraande wat direk na afloop van die werkswinkels aangebied is.

Ons het ook ‘n leesprojek by ‘n gemeenskapsentrum naby Blantyre besoek. Hierdie projek bemagtig vroue om nie net leesvaardighede te kweek nie, maar ook groente. Hulle bewerk daar stukkies grond met die oog daarop om vir hulself te kan voorsien.



Hierdie ervaring, waar ons met getuienis oor die impak van die projek, sang en dansitems, toebroodjies en koeldrank verwelkom is, was baie roerend. Die armoede, lae geskooldheid en die talle weeskinders waarmee ons kennis gemaak het, het my opnuut laat besef dat daar nog hope werk is wat gedoen moet word.

Die werkswinkel was uitstekende toerusting daarvoor.




kykNET-Rapport-boekpryse se prysgeld is aansienlik verhoog

Blye nuus vir skrywers wie se werk in aanmerking kom vir die kykNET-Rapport-boekpryse: die prysgeld  is met 40% verhoog tot altesaam R750 000. Die Jan Rabie-Rapportprys, wat ingesluit word by dié pryse en vanjaar vir sowel debuut- as tweede fiksiewerke in Afrikaans toegeken word, het meer as verdriedubbel en beloop nou R125 000.

Die kykNET-Rapportpryse vir beste Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik is elk met R50 000 verhoog tot R250 000, en die prys vir die mees verfilmbare fiksie- of niefiksietitel in Afrikaans met R25 000 tot R125 000.

Naas die Helgaard Steynprys wat elke vier jaar aan ’n Afrikaanse woordkunstenaar toegeken word, bied hierdie pryse die grootste geldelike erkenning en aansporing vir die skep van Afrikaanse fiksie en niefiksie wat die plaaslike letterkunde en lesers se gedagte- en leefwêreld verryk en verruim.

‘n Nuwe artikelreeks



PEN Afrikaans loods hierdie maand ’n nuwe artikelreeks met die (tong-in-die-kies) titel “Wat elke skrywer moet weet”. Hierdie reeks sal bestaan uit bydraes oor sake wat skrywers raak. Ons fokus is hierdie jaar op die regswêreld.

In die eerste aflewering, wat hier beskikbaar is, word die beweegrede en basiese beginsels van outeursreg uiteengesit, met verwysing na die onderskeid tussen outeursreg in ’n letterkundige werk en ’n gepubliseerde uitgawe.

Ander onderwerpe wat in die reeks aandag sal geniet, sluit in: vererwing van outeursreg, skrywerskontrakte, die beginsels van laster (vir skrywers en uitgewers), die outeursregsposisie in die geval van opdragwerk en wat gedoen kan word wanneer roofkopieë van ’n boek versprei word.

Ons sien uit na kenners se bydraes oor hierdie en ander onderwerpe. Die idee met dié reeks is nie om regsadvies te voorsien nie, maar om skrywers toe te rus met inligting oor praktiese sake wat hulle raak. Ons hoop dat dit vir ons lede nuttig sal wees.

Maak gerus kontak indien daar algemene onderwerpe is wat julle vir hierdie reeks wil voorstel.

Kunstenaarsbeurse beskikbaar vir bywoning van die Woordfees



Vandag is die laaste dag om aansoek te doen vir die Woordfees se nuwe kunstenaarsbeurse. Met dié beurse bied die Woordfees vyf kunstenaars die geleentheid om hul kreatiewe batterye te herlaai en vanjaar se fees ten volle te beleef. Al wat die Woordfees van beurshouers verwag, is om ’n joernaal te hou waarin feeservaringe en menings oor bygewoonde produksies gedeel word.
Om in aanmerking te kom vir ’n beurs moet aansoekers die volgende voorlê:

  • tussen 300 en 500 woorde oor hoekom dit vir die aansoeker as kunstenaar goed sal wees om die 2018 US Woordfees by te woon
  • ’n verkorte CV van die aansoeker se kunstenaarsloopbaan met 2 referente.

 Stuur aansoeke voor of op 12 Februarie 2018 aan Danie Marais by danie_marais@sun.ac.za.
 
LAPA se Jeugromankompetisie 2017

Die wenners van LAPA se Jeugromankompetisie vir 2017 is onlangs bekendgemaak. Jan Vermeulen is as wenner aangewys, terwyl die tweede en derde plekke deur Zelda Bezuidenhout en Nanette van Rooyen beklee word. Baie geluk!

Aanhangers van dié genre kan uitsien na drie uitsonderlike wenverhale wat later vanjaar die rakke gaan tref. Meer inligting is hier beskikbaar.

‘n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Januarie



Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie

Ten slotte is dit baie lekker om die lys van nuwe Afrikaanse boeke te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.

Die publikasielyste vir Januarie en Februarie kan hier in Excel-formaat afgelaai word. 

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans