![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Nog vyf suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds PEN Afrikaans maak met trots bekend dat die volgende vyf vertalings na afloop van die jongste ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier sal word: ’n Albanese vertaling van Laaste kans deur Marita van der Vyver (Ombra GVG) ’n Albanese vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux (Shkupi Uitgewery) ’n Nederlandse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer (Podium) ’n Nederlandse vertaling van Spertyd deur Elsa Joubert (Noordboek) ’n Nederlandse vertaling van Die getuienis deur Francois Smith (Zirimiri Press) Ombra GVG, ’n voorste uitgewery in Albanië wat al meermale suksesvol aansoek gedoen het om befondsing en dus ’n groeiende lys vertaalde literatuur uit Afrikaans het, sal ’n Albanese vertaling van Laaste kans deur Marita van der Vyver uitgee. Die vertaler is Sidita Dano. Laaste kans is een van die mees gewilde boekvrystellings van 2023, en die langverwagte opvolg op Van der Vyver se geliefde roman Wegkomkans wat in 1999 verskyn het. Albanese lesers kan ook uitsien na die lees van ’n klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde: Shkupi Uitgewery sal ’n Albanese vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux uitgee, met die vertaling wat deur Irma Kurti behartig sal word. Shkupi is in 1994 gestig. Hulle fokus op die bevordering en bekendstelling van buitelandse literatuur aan Albanese lesers in Noord-Masedonië en regoor die Wes-Balkan-streek, insluitend Kosovo en Albanië. Kompoun, die debuutroman van die bekroonde digter Ronelda Kamfer, sal in Nederlandse vertaling by Uitgeverij Podium verskyn. Podium is ’n gevestigde en gerekende literêre uitgewery in Nederland. Hul is die uitgewer van verskeie Afrikaanse skrywers en digters in Nederlandse vertaling, onder andere Breytenbach, Krog en Kamfer self. Soos met haar digbundels, sal Alfred Schaffer die roman vertaal. Die beoogde publikasiedatum is Mei 2024. Kompoun het in 2021 by Kwela Boeke verskyn en het in 2022 die Jan Rabie-Rapportprys verower. Uitgeverij Noordboek, ’n dinamiese uitgewer van niefiksie, sal ’n vertaalsubsidie ontvang vir die Nederlandse vertaling van Spertyd deur Elsa Joubert. In sy resensie van dié laaste boek van wyle Joubert, skryf Chris van der Merwe: “Spertyd is ’n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ’n verskeidenheid van emosies. Dis ’n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is.” Die bekende vertaler Rob van der Veer sal vir die Nederlandse vertaling verantwoordelik wees. Hy het al verskeie Afrikaanse werke vertaal, onder meer titels van Karel Schoeman, Wilma Stockenström, Harry Kalmer en ook Elsa Joubert. Zirimiri Press, ’n onafhanklike literêre uitgewery wat in Amsterdam gebaseer is en fokus op die vertaling en publikasie van letterkunde uit minder vertaalde tale, sal ’n Nederlandse vertaling van Die getuienis deur Francois Smith teen Maart 2024 die lig laat sien. Die getuienis het oorspronklik in 2021 verskyn en is in 2022 aangewys as die wenner van die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys. Robert Dorsman is die aangewese Nederlandse vertaler. Dorsman is ’n ervare vertaler van (Suid-)Afrikaanse literatuur. Hy het al onder andere Etienne van Heerden, Breyten Breytenbach en Antjie Krog se werk vertaal. Zirimiri Press het voorheen Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach en Wonderboom deur Lien Botha met die PEN Afrikaans Vertaalfonds se finansiële bystand uitgegee. Beide is deur Dorsman vertaal en is goed ontvang. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/ Hierdie aankondiging is ook hier beskikbaar. Deel gerus die nuus. Media24 bring ’n saak van outeursregskending teen twee administrateurs van ’n WhatsApp-groep Dit het hierdie week bekend geword dat Media24 regstappe ingestel het teen twee administrateurs van ’n WhatsApp-groep wat daarop gemik was om outeursregwerke soos PDF-weergawes van Media24 se koerante, tydskrifte en e-publikasies gratis te versprei. Die hof word gevra om ’n bevel uit te reik wat verklaar dat die twee vroue Media24 se outeursregte geskend het, en ook ’n interdik toe te staan wat die vroue sal verbied om verdere outeursregte van Media24 op dié manier te skend. Die hof word ook gevra om die twee vroue te beveel om die koste van die hofsaak te betaal asook enige finansiële verliese wat Media24 gely het weens die onregmatige verspreiding van die publikasies. Die regstappe kom ná jare se ondersoek, pleidooie aan die breë publiek en bewusmakingsveldtogte oor die wederregtelikheid van die onregmatige verspreiding van outeursregwerke, en die skade wat dit doen. Hierdie pogings het op dowe ore geval. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, sê dat regstappe teen ander oortreders moontlik is. Dit gaan volgens hom nie net oor die voortbestaan van Media24 nie, maar die mediabedryf in Suid-Afrika. Lees die volledige berig hier. PEN Afrikaans verwelkom die nuus van die regstappe en hoop dat dit die einde voorspel van die praktyk van onregmatige verspreiding van outeursregwerke wat al so lank onverpoosd voortgaan en enorme skade aanrig. Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer ![]() Baie dankie aan Hein Willemse vir die jongste artikel in ons artikelreeks. Ons het hom gevra om vanuit ’n literêre perspektief te skryf oor die herstandaardisering van Afrikaans. Ons sluit sy artikel met groot waardering by hierdie nuusbrief in. Klik hier om dit te lees. Afrikaanse Wikipedia vier 22 jaar Die 22ste verjaarsdag van die Afrikaanse Wikipedia is inderdaad rede om te vier. Volgens hierdie berig is die Afrikaanse Wikipedia tans die grootste Wikipedia op die Afrikavasteland. Dit word bygewerk deur vrywilligers wat die tyd en moeite afstaan aan die uitbou van dié aanlyn ensiklopedie. Afrikaanse Wikipedia het ook ’n skryfkompetisie vir hoërskoolleerders aangebied waardeur die deelnemers geleer het om Wikipedia-inskrywings te skep. Ons lig ’n hoed vir al die betrokkenes by hierdie lofwaardige projek en mooi mylpaal. Lynthia Julius ontvang die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2024 ![]() Lynthia Julius, ’n bekroonde digter, skrywer en ’n bestuurslid van PEN Afrikaans, is onlangs aangewys as ontvanger van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2024. Ons sê van harte geluk! Die doel van dié ruim en gesogte skrywersbeurs is om ’n belowende of gevestigde skrywer in staat te stel om vir ’n jaar lank te fokus op ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans, wat op publikasie gerig moet wees. Lees die volledige aankondiging hier en ’n onderhoud met Lynthia hier. Sy sê daarin: “Ek beplan om ’n roman te skryf. ’n Roman oor ’n Nama-medisyneman.” Alles van die beste, Lynthia. Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Tydskrif vir Letterkunde, wat ook resensies publiseer, het vanjaar sy twee gebruiklike uitgawes (Herfs en Lente) asook ’n spesiale uitgawe die lig laat sien. In ’n nuusbrief vertel die redakteur, Jacomien van Niekerk: “Die eerste uitgawe (vol. 60, no. 1) was ’n temanommer oor Afrikaanse films, met Chris Broodryk as gasredakteur. Hoewel dit ’n klein uitgawe is, maak die artikels almal ’n belangrike bydrae tot die akademiese diskoers oor Suid-Afrikaanse films in die algemeen en Afrikaanstalige films spesifiek. Vol. 60, no. 2, ’n algemene uitgawe, bevat uiteenlopende artikels waarvan die fokus strek van letterkunde en teater uit Wes-Afrika teenoor Suid-Afrikaanse letterkunde en vertalings uit Frans in Suid-Afrika. Laastens is die spesiale uitgawe (vol. 60, no. 3) ’n mylpaal. Dit is die eerste uitgawe wat die uitvloeisel is van samewerking tussen Tydskrif vir Letterkunde en die International Society for the Oral Literatures of Africa (ISOLA).” Klik gerus op die skakels om die betrokke uitgawes te lees. Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Elsa Winckler en Pieter Odendaal. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ons deel ook graag inligting oor ’n nuwe uitgawe van ’n noemenswaardige boek: The Arabic Afrikaans Writing Tradition deur wyle Achmat Davids. Dit het laas in 2010 verskyn as The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915. Met hierdie uitgawe maak Jacana Media hierdie gesaghebbende werk weer beskikbaar, met ’n voorwoord deur Hein Willemse. Klik hier vir meer inligting. Ten slotte sê ons baie dankie aan ons lede en vennote vir die meelewing en samewerking hierdie jaar. Ons wens almal ’n vreugdevolle en rustige feestyd toe en sien uit daarna om saam 2024 tegemoet te gaan. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |