Op 15 Oktober 1985 was daar ’n anti-apartheidbetoging van jong mense in Thorntonweg, Athlone, Kaapstad. ’n Offisier in die oproerpolisie het dit in sy kop gekry om sy manne agterop ’n spoorweglorrie te laai en tussen houtkratte te versteek. Die voertuig het stadig in ’n suidwestelike rigting met Thorntonweg afgery, ’n daad wat slegs as uitlokking bestempel kan word. Soos verwag kon word, het van die betogers die lorrie met klippe bestook. Net voor St. Simonsweg het die gewapende polisiemanne opgespring en losgebrand op die betogers. Drie jongmense, Jonathan Claasen (21), Shaun Magmoed (15) en Michael Miranda (11), is gedood en talle ander beseer. Die voorval het wye oorsese nuusdekking gekry weens die brutaliteit en die onbesonnenheid daarvan. Ek het die voorval op televisie in ’n hotelkamer in ’n Amerikaanse stad gesien, en my voorgeneem om iets daaroor te skryf.
Sewe maande later het ek ’n onderhoud gevoer met mense wat direk by die voorval betrokke was, onder meer die gesin in wie se huis Shaun Magmoed doodgeskiet is. Daardie onderhoud, getiteld “die Trojaanse perd”, is gepubliseer in my en Hans Pienaar se boekie Die Trojaanse Perd. Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap, 1985 (Emmerentia: Taurus, 1986). In die gepubliseerde onderhoud van 20 bladsye vertel die man van die huis onder meer soos volg:
Kyk, ek is ’n gebouman. Hulle kan my muur uitmekaar geskiet het, dan kan ek nog altyd ’n sakkie sement gaan koop en ’n vrag sand gaan koop en weer my mure regmaak, maar hoe kan ek ’n sakkie sement gaan koop om die kinders se liggaam op te gaan patch wat geskiet gewees het? Ek glo nie die hatigheid sal uit my uit gaan nie. My hatigheid is nou omtrent so sterk lat ek nogal dink dat ek sal doodgaan met daardie hatigheid teenoor daardie mense wat so die kinders doodgeskiet en aaklig seerskiet, sal die hatigheid nooit uit my uitgaan nie. (p. 89).
Die spreker is ’n middeljarige Moslem-man, Afrikaanssprekend met ’n werkersklas-agtergrond wat hom geleidelik opgewerk het tot wat as ’n gerieflike middelklaslewe bestempel kan word. Met die transkripsie van die onderhoud het ek voor ’n paar vrae te staan gekom. Hoe moet ek die man en sy vrou representeer? Hulle uitspraak is Kaaps, wat algemeen vir die omgewing is. Hoe sou ek, het ek myself afgevra, ’n spreker wat uit ’n omgewing kom waar daar opvallende uitspraakmerkers is, bv. Mô vir Ma, of bôbô vir baba, se woorde transkribeer?
Dit het gebruiklik geraak om Kaaps pseudo-foneties voor te stel, in wat die linguis, Paul Bowrie, jare gelede as “oogdialek” bestempel het. Kaaps is gebruik om afvalligheid, onopgevoedheid, onbeskaafdheid, intellektuele minderwaardigheid, en sosiale ongesofistikeerdheid te verbeeld. Reeds in die vroeë 19de eeu het ’n dramaturg soos Etienne Boniface in De Nieuwe Ridderorde of De Temperantisten dit goed gedink om sy Khoi-karakters wat allerlei afvallighede soos drankverslawing vergestalt, negatief voor te stel deur ’n gebrekkige Kaaps-Hollands in hulle monde te plaas. Dink ook aan die wyse waarop Afrikaanse literatore na Adam Small se gedigte in Kaaps verwys: “die taal van die agterbuurt-kleurling” (Rob Antonissen) of “die rouste Kleurling-patois, deurspek met Engels” (Gerrit Dekker).
Small het ’n beduidende bydrae tot die afwerp van dié stigma gelewer, net soos Peter Snyders, maar oorblyfsels van die stigma bly bestaan. Vergelyk die digter Patrick J. Petersen se uitspraak in sy MTh-tesis, “Die etiek van luister: ’n analise van swart Afrikaanse poësie in die jare sewentig en daarna” (1995): “Die Kaapse praattaal […] verleen goeie stof vir grappe, pittige sêgoed of snaakse uitdrukkings op die ingewing van die oomblik.”
My informante wat die Trojaanse perd-slagting waargeneem het, het verdien om gehoor te word sonder die geringskatting van hulle as mense, sonder om bloot op taalvorm af deur bevooroordeling uitgesluit te word. Pseudo-transkripsie en oogdialek sou ’n onnodige leeshindernis skep in wat hoofsaaklik ’n besonder suiwer Afrikaans is, en dit sou die noodsaak van duidelike kommunikasie ondermyn. Wat sou die reaksie van my lesers gewees het as ek die hele onderhoud van 20 bladsye in pseudo-fonetiese transkripsie sou transkribeer? Hier is ’n voorbeeld van slegs die aangehaalde gedeelte:
Kyk, ek’s ’n gabouman. Hulle kan my mie’ ytmekaa’ geskiet’et, da ka ek nog altyt ’n sakie samint ga koep enne vrag san’ ga koep en wee’ my miere regmaak, ma’ hoe ka ek ’n sakie samint ga koep ommie kinnes se liggaam op te ga’ patch wat gaskiet gewies’et? …
Ek gloe rie hataghyt sal yt my yt ga’nie. My hataghyt’s nou omtrint so stêk lat ek nôgal dink lat ek sal doodgaa’ met darie hataghyt tienoo’ darie mense wat soe’rie kinnes doodgeskiet en aaklag see’skiet, sallie hataghyt nooit yt my ytgaanie.
In my transkripsie wat uiteindelik gepubliseer is, het ek subtiel ietsie van die spreektaal laat deurskemer, sonder om dit die hooffokus van my voorstelling te maak. In die frase “omtrent so sterk lat ek nogal dink dat ek” kom die voegwoord “dat” twee keer voor. Ek het destyds doelbewus besluit om die eerste “dat” as “lat” te transkribeer en die volgende “dat” as “dat”. Juis die naasmekaarstelling van dieselfde voegwoord, grafies verskillend voorgestel, net soos “hatigheid”, wou die spreektaalvorm en besondere idioom suggereer.
Die gebruik van taalvariasie in skryfwerk is ’n komplekse aangeleentheid, en hoe sprekers voorgestel word, het verreikende gevolge soos die geskiedenis van die stigmatisering van Kaaps bewys. Met die publikasie van sy debuutbundel, amandla ngawethu (1985), verklaar Patrick J. Petersen dat hy “besluit dit sou beter wees om Kaaps maar eenkant te skuif na wat ek gehoor het op die Swart Skrywersberaad [van April 1985] […]. Sommige sprekers op die beraad het toe Kaaps as skryftaal vreeslik aangeval” (Die Burger, 14 September 1985). Wat in die brandpunt van daardie gesprek was, was juis die onwaardigheid waarmee sprekers van Kaaps voorgestel is, karikature eerder as komplekse en waardige mense.
Die verwerping van die standaardtaalvorm wat, in die literêre teorie, abrogasie (abrogation) genoem word, het sy plek – soos dialekdigters en -skrywers die wêreld oor bewys het. Die uitstaande voorbeeld vir die argument bly waarskynlik Jean Bernabé en andere se Éloge de la creolité (“Tot lof van kreoliteit”),wat in 1989 gepubliseer is. Reeds in 1972 het Geneva Smitherman in Black Culture: Reading and Writing Black geskryf: “Black language, though often superciliously termed ’non–standard English’ contains as much power, complexity, and usefulness as other varieties of American English, including the so–called “standard idiom.” Dieselfde geld vir ons plaaslike variante, insluitend Kaaps. Dit lei geen twyfel nie dat ons, soos Frank Hendricks, afgetrede taalprofessor by die Universiteit van Wes-Kaapland, in verskeie taalkunde-artikels bepleit het, ’n gelykevlak-perspektief op taalvariante moet nahou. Hoe sulke variante in kreatiewe skryfwerk aangewend word, is ’n kwessie van oordeel oor die aard en doel van voorstelling en kommunikasie.

Prof. Hein Willemse (Foto: Barnard Beukman / Netwerk24)