Nuusbrief: Augustus 2020

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Vrouemaand

Ons het pas Vrouedag herdenk. Teen die historiese agtergrond van ’n massa-optog teen paswette op 9 Augustus 1956, vier ons hierdie maand Suid-Afrikaanse vroue vir hul durf en weerstand, hul betrokkenheid en beywering vir geregtigheid, verdraagsaamheid, verruiming en vooruitgang.

As ’n organisasie is PEN gekant teen sensuur en die onderdrukking van uitdrukkingsvryheid. In ons land, met sy skokkende hoë voorkoms van geslagsgeweld, is dit nodig om te erken dat hierdie geweldsmisdaad ’n opperse vorm van sensuur is. Dit is ’n manier waarop vrouestemme stilgemaak word – heeltemal te gereeld onherroeplik.

Ons stem volkome met PEN International se vrouemanifes saam, waarvan ’n deel lees:
 
PEN believes that violence against women, in all its many forms, both within the walls of a home or in the public sphere, creates dangerous forms of censorship. […]
 
PEN believes that the act of silencing a person is to deny their existence. It is a kind of death. Humanity is both wanting and bereft without the full and free expression of women’s creativity and knowledge.


(Lees die volledige manifes hier: https://pen-international.org/who-we-are/manifestos/the-pen-international-womens-manifesto)

Ons salueer die vroueskrywers wat in Afrikaans wêrelde vir ons oopskryf en is dankbaar om soveel van julle onder ons lede te kan tel.

Laat ons hierdie maand en verder die ruimte vir vrouestemme bewaar en uitbrei om ’n al hoe groter verskeidenheid in te sluit.

PEN spreek kommer uit oor situasie in Zimbabwe

PEN Afrikaans is saam met PEN-sentrums wêreldwyd besorgd oor die situasie in Zimbabwe, waar veiligheidsmagte begin toeslaan het op mense wat vreedsaam teen korrupsie betoog of beplan om dit te doen.  Dit sluit die gevierde skrywer Tsitsi Dangarembga en bekroonde ondersoekende joernalis Hopewell Chin’ono in.

Dangarembga – ’n begaafde filmmaker en skrywer van onder meer This Mournable Body, wat onlangs die langlys van die Bookerprys gehaal het – is op 31 Julie in hegtenis geneem en aangehou sonder dat gronde daarvoor verskaf is. Sy is sedertdien op borgtog vrygelaat, maar Chin’ono, wat op 22 Julie in hegtenis geneem is toe polisie sonder lasbrief by sy huis inbars, is al twee keer borgtog geweier.

Die teistering van skrywers en joernaliste is uiteraard vir PEN ’n groot bron van kommer. Ons is egter eweneens ontsteld oor die menige ander Zimbabwiërs wie se stemme die afgelope weke stilgemaak is en wat ook in aanhouding is weens die uitoefening van hul regte op vrye spraak en uitdrukking.

PEN Afrikaans eis saam met die groter PEN-netwerk dat die klagte teen Dangarambga en Chin’ono laat vaar word en dat Chin’ono en almal wat arbitrêr en onwettig deur die regering aangehou word, onmiddellik vrygelaat word.

Terwyl die wêreld deur ’n ongekende gesondheids- en ekonomiese krisis gaan, bly respek vir menseregte en die rol van die skrywer uiters belangrik. 

Ons staan in solidariteit met ons medeskrywers en medeburgers van Afrika.

Die gesamentelike verklaring wat PEN-sentrums vanoor Afrika oor Dangarembga se inhegtenisname uitgereik het, is hier beskikbaar.

Sien ook PEN International se stellignames en beroep op die Zimbabwiese regering oor onderskeidelik Tsitsi Dangarembga en Hopewell Chin’ono.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

Vlnr Jeremeo le Cordeur, Andre Trantraal, Veronique Jephtas, Khadija Tracey Heeger en Olivia M Coetzee in Paulet Huis se tuin. Foto: Jeremeo le Cordeur


’n Groep skrywers is pas terug van die maandlange skrywersresidensie wat PEN Afrikaans weer vanjaar saam met die Jakes Gerwel Stigting aangebied het. Die groep het bestaan uit: Andre Trantraal, Veronique Jephtas, Olivia Coetzee, Jeremeo le Cordeur en Khadija Tracey Heeger. Ons glo dit was ’n vreugdevolle en produktiewe verblyf op Somerset-Oos.

Baie dankie aan die Jakes Gerwel Stigting wat die residensie moontlik maak.

Kyk gerus hier na pragtige foto’s wat Jeremeo le Cordeur tydens die skrywersverblyf geneem het.

Covid-19 knou plaaslike boekbedryf

Die omvang van die ekonomiese skade wat die staat van inperking vir die boekbedryf tot gevolg gehad het, blyk uit ’n verslag wat Nielsen BookScan saamgestel het. Nielsen versamel en ontleed sedert 2003 verkoopsyfers by boekhandelaars in Suid-Afrika.

Op grond van ’n vergelyking tussen 2020 en 2019 se verkoopsyfers, blyk dit dat die plaaslike boekbedryf tot dusver vanjaar R216,3 miljoen slegter daaraan toe is.

Christiaan Boonzaaier skryf in ’n Netwerk24-berig oor die data wat Nielsen verwerk het en kry insette by die hoofde van plaaslike uitgewerye.

Lees die berig hier en onthou dat 14 Augustus Koop-’n-Afrikaanse-boekdag is – ’n gepaste dag om uitgewerye en skrywers in hierdie beproewende tyd te ondersteun.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2020

‘n Rede tot vreugde is dat daar weer ‘n stewige lys van nuwe Afrikaanse boeke hierdie maand verskyn.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk en alles sukses aan ons lede wat nuwe boeke op die rakke het.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans