Nuusbrief: April 2019

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Ontwrigting van bekendstelling van Gangster State deur Pieter-Louis Myburgh

Die bekendstelling van Gangster State wat op 9 April by Exclusive Books in Sandton sou plaasvind, is deur ’n groep betogers ontwrig. Dié boek, deur bekroonde ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, bevat bewerings van korrupsie onder die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Verslae van ooggetuies en videomateriaal van die protesaksie wys hoe betogers eksemplare van die boek opskeur en die geleentheid tot so ’n mate ontwrig dat die bekendstelling afgestel is nadat die polisie moes ingryp.

PEN Afrikaans veroordeel die destruktiewe optrede van die groep betogers ten sterkste. Dit het ’n geleentheid vir gesprekvoering in die wiele gery deur die toepassing van boelie- en intimidasietaktieke wat daarop gemik is om kritiese stemme stil te maak.

Die vernietiging van boeke, en die dreigemente van die Vrystaatse tak van die ANC-jeugliga om eksemplare te verbrand, is boonop laakbaar en kommerwekkend. Histories is die verbranding van boeke ’n kragtige simbool van onderdrukking, onverdraagsaamheid en sensuur. Die ANC het hom sedertdien van die betogers gedistansieer en die boekverbranding afgelas, maar dit bly onaanvaarbaar en ontstellend dat hierdie soort aanval op vryheid van spraak enigsins in ’n konsitusionele demokrasie kon plaasvind.

In lyn met die handves van PEN Internasionaal, wat vereis dat lede die belemmering van spraakvryheid plaaslik en internasionaal teenstaan, verwerp PEN Afrikaans hierdie optrede en dreigemente met die minagting wat dit verdien.

Skrywers behoort sonder vrees vir geweld en intimidasie hulle boeke te kan bekendstel en lesers behoort toegang tot ’n wye verskeidenheid perspektiewe en inligting te hê.

Wenners van UJ-pryse 2019 aangekondig
Die wenners van die UJ-pryse is vandag aangekondig. Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë (debuutwerk en andersins) toegeken aan besondere en uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is.

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis het die UJ-debuutprys gewen, terwyl die UJ-prys aan PEN Afrikaans-bestuurslid Charl-Pierre Naudé toegeken is vir sy roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Hartlik geluk!

Lees gerus die mediaverklaring met beoordelaarskommentaar hier.

Benoemings vir ATKV-Mediaveertjies 2019 bekend
Die finaliste vir die ATKV-Mediaveertjies 2019 is onlangs bekend gemaak. Wenners sal tydens ’n glansgeleentheid op 10 Mei bekend gemaak word. Baie geluk aan al die benoemdes, en spesifiek ons lede: van gesoute joernaliste en resensente tot dié wat aan die begin van belowende loopbane staan, soos gewaardeerde lid Colette Combrink, redakteur van die Wapad wat in die kategorie vir beste kampuskoerant benoem is.

Die lys van finaliste is hier beskikbaar.

Stuur jul gedigte: ’n bloemlesing ter viering van inheemse tale

2019 is deur die Verenigde Nasies aangewys as die Internasionale Jaar vir Inheemse Tale en PEN-sentrums vanoor Afrika is genooi om ’n gedig in te stuur vir moontlike insluiting by ’n bloemlesing ter herdenking hiervan.  

Die boek, wat na verwagting aan die einde van 2019 sal verskyn, sal uit 60 – 100 gedigte bestaan – een vir elke taalgemeenskap wat deelneem. Die doelwit is om die kulturele rykdom en diversiteit van minderheidstale ten toon te stel. Die hooftema van die bloemlesing is dus taal self.

Ons sal graag ‘n Afrikaanse gedig wil bydra. Stuur gerus ’n gedig (van tot 50 versreëls) oor Afrikaans of oor taal teen 26 April na penafrikaans@gmail.com. Die bestuur van PEN Afrikaans sal die gedigte oorweeg en tot drie gedigte instuur vir moontlike insluiting by die bloemlesing.

RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie
Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 23 jaar oud met prysgeld ter waarde van R90 000. Die wendrama sal vanjaar R35 000 ontvang, terwyl die tweede en derde plek met prysgeld van onderskeidelik R25 000 en R15 000 bekroon sal word. Die wenner in die kategorie Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal R15 000 ontvang. Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai.

Hier is ‘n kans om jou verbeelding vrye teuels te gee en boonop jou storie op radio te hoor. Bly ingeskakel op RSG vir die aankondiging oor twee gratis skryfskole wat in onderskeidelik in Kaapstad en Johannesburg aangebied sal word.

Die sluitingsdatum is 31 Julie.

By hierdie skakel is inligting en skryfwenke beskikbaar.

’n Skrywersresidensie in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting

Belangstellendes het nog enkele dae oor om aansoek te doen vir die skrywersresidensie wat die Jakes Gerwel Stigting in samewerking met PEN Afrikaans aanbied. Moenie dié geleentheid misloop om vir ‘n maand in Somerset-Oos te gaan skryf nie. Aansoeke sluit Vrydag, 12 April.

Volledige inligting is hier beskikbaar.

Verwikkelinge rondom die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
 Die Nasionale Raad van Provinsies het op 28 Maart die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aanvaar. Dit is uiters betreurenswaardig dat die skeppende bedrywe nie gehoor is nie. Die wetgewer het eerder ag geslaan op ’n klein groepie wat hul vir die wetsontwerp beywer, en wat na berigte deur Google geborg is. Onder is ’n repliek op die misleidende en onakkurate inligting wat deur hierdie groep versprei word. As president Ramaphosa die wetsontwerp onderteken, is die proses voltrek.

Intussen gaan die opposisie teen die skadelike wetsontwerp onverpoosd voort. Daar is steeds ‘n petisie teen bekragtiging van die wetsontwerp hier beskikbaar. Teken dit asseblief as jy daarmee saamstem.

’n Groep belanghebbendes, waarvan PEN Afrikaans deel vorm, rig nou vertoë aan die president. Hy word versoek om die wetsontwerp terug te stuur sodat die Departement Handel en Nywerheid dit kan herformuleer om ’n meer billike uitkoms te vind.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in April 2019
Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte is dit baie lekker om te noem dat die volgende nuwe lede onlangs by ons aangesluit het:    
Marna van den Berg
Jerzy Koch
Valda Jansen

Hartlik welkom by PEN Afrikaans!

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans