In skrywerskontrakte is daar dikwels ’n klousule ingevolge waarvan die skrywer waarborg dat geen gedeelte van sy/haar manuskrip lasterlik is of derde partye se regte sal skend nie. Aanspreeklikheid vir verbreking van dié waarborg berus tipies by die skrywer. Dit is daarom nuttig om te kyk na laster en die skending van persoonlikheidsregte in hierdie aflewering van PEN Afrikaans se artikelreeks, Wat elke skrywer moet weet. Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid vertel meer.
Die doel van hierdie artikel is bloot om inligting te verskaf en ’n basiese uiteensetting te gee van sekere relevante regsbeginsels rakende laster, en nie om regsadvies te voorsien nie. Lesers wat meer wil weet oor die kwessie kan die skrywer van die artikel e-pos (abwessels@sun.ac.za).
Inleidend
Elke individu beskik oor persoonlikheidsregte. Die Suid-Afrikaanse reg erken die volgende persoonlikheidsregte: corpus, dignitas en fama. Eersgenoemde het betrekking op die reg op liggaamlike integriteit terwyl laasgenoemde na die reg op reputasie of goeie naam verwys. Dignitas is ’n sambreelterm en sluit die reg op die eer, die reg op privaatheid asook die reg op identiteit in. Met die publikasie van enige boek is dit moontlik dat ’n individu se persoonlikheidsreg(te) aangetas sou kon word. Byvoorbeeld, indien ’n niefiksie-skrywer persoonlike gegewens oor die gesondheidstatus van ’n ander persoon sou publiseer, sou dit moontlik kon neerkom op ’n skending van daardie persoon se reg op privaatheid. Of, indien ’n skrywer van ’n roman verwys na ’n werklike persoon en haar beskryf as ’n korrupte leuenaar, sou dit die skrywer moontlik kon blootstel aan aanspreeklikheid vir laster. Dit geld ook waar die skrywer nie die persoon se regte naam gebruik nie, maar ’n ander naam aan die karakter gee. Indien die redelike leser sou kon aflei dat die karakter op ’n werklike, herkenbare persoon gebaseer is, sou aanspreeklikheid kon volg. In die omgewing waarin skrywers en uitgewers hulself bevind, is dit meer waarskynlik dat die publikasie van ’n boek aanspreeklikheid daar kan stel vir skendings van dignitas (spesifiek die reg op privaatheid en moontlik die reg op identiteit) en fama. In hierdie artikel val die fokus egter op die vereistes vir aanspreekliheid vir laster.
Laster en die reg op reputasie of goeie naam
Uit ’n regsperspektief kan laster beskryf word as die opsetlike, onregmatige publikasie van lasterlike bewerings wat na die eiser (die persoon wat belaster word) verwys. Die reg op reputasie het te make met die agting of aansien wat die eiser in die gemeenskap geniet. Indien die eiser van mening is dat hierdie reg aangetas is, sou hy/sy dit kon oorweeg om die skrywer van die lasterlike materiaal te dagvaar vir skadevergoeding (soms word daar eerder na verwys as genoegdoening). In so ’n geval sou die eiser bo ’n oorwig van waarskynlikheid moet bewys dat die skrywer (a) lasterlike bewerings (b) gepubliseer het (c) wat na die eiser verwys. Dit is gewoonlik nie moeilik vir eisers om (b) of (c) te bewys nie en die groot vraag is eerder: wanneer is ’n bewering lasterlik?
Om daardie vraag te beantwoord, volg howe die volgende twee-stap-benadering. Eerstens word gevra: wat is die gewone betekenis van die relevante woord of stelling? Hier fokus die hof nie op die subjektiewe bedoeling van die skrywer nie; inteendeel, die hof steur homself nie aan die betekenis wat die skrywer wou oordra nie en ook nie aan die interpretasie van die spesifieke individue wat die publikasie gelees het nie (ongeag of hulle geglo het of dit waar is of nie, en of hulle minder van die eiser gedink het of nie). Die toets wat hier toegepas moet word, is ’n objektiewe een en die relevante kriterium is daarom watter betekenis die redelike leser van gewone intelligensie aan die stelling sal toeskryf. By die toepassing van hierdie toets word aanvaar dat die redelike leser die stelling in konteks sal verstaan en dat hy/sy nie net ag sal slaan op wat spesifiek gestel word nie, maar ook op wat geïmpliseer word. Die tweede stap van die benadering is om te bepaal of die gewone betekenis van die woord lasterlik is. Hier volg die howe ook ’n objektiewe benadering en word dit aanvaar dat ’n stelling lasterlik sou wees indien dit waarskynlik die aansien van die eiser in die oë van die redelike, gemiddelde persoon aan wie die publikasie voorgehou word, nadelig sal beïnvloed.
Om laasgenoemde te bepaal, is getuienis oor of die waarnemer(s) in werklikheid minder van die eiser gedink het, nie toelaatbaar nie. Howe het al verwys na die volgende stellings as dié wat normaalweg as lasterlik beskou kan word: stellings wat oneerlike, onsedelike of andersins oneerbare optrede aan die eiser toeskryf; stellings wat waarskynlik die eiser kan verneder of verkleineer of wat geneig is om hom/haar uit te maak as dwaas, belaglik of absurd; en stellings wat die eiser blootstel aan minagting of bespotting wat ’n negatiewe invloed sal hê op die respek wat ander teenoor die eiser sal betoon.
Indien die eiser daarin geslaag het om te bewys dat die bewerings wat die skrywer gepubliseer het na hom/haar verwys en, volgens bogenoemde benadering, as lasterlik bestempel kan word, beteken dit nie sonder meer dat die skrywer aanspreeklik is nie. Daar is immers nog twee vereistes vir aanspreeklikheid: opset en onregmatigheid. Anders as in ander gevalle, is die bewyslas egter nie op die eiser om hierdie vereistes te bewys in die konteks van laster nie. Trouens, daar word weerlegbaar vermoed, oftewel aangeneem, dat die publikasie van lasterlike materiaal op opsetlike en onregmatige wyse plaasgevind het. Dit beteken dat die skrywer aanspreeklikheid kan ontduik deur te bewys dat die publikasie van die lasterlike bewerings nie opsetlik gemaak is nie, of dat dit nie onregmatig is nie.
Regstegnies bestaan opset uit wilsgerigtheid en onregmatigheidsbewussyn. Eersgenoemde het te make met die vraag of die skrywer subjektief sy/haar wil gerig het op die teweegbringing van ’n spesifieke gevolg of andersins voorsien het dat dit moontlik sou kon intree. Onregmatigheidsbewussyn, aan die ander kant, verwys breedweg na die vraag of die skrywer subjektief geweet het dat die publikasie van die bepaalde lasterlike bewering onregmatig is.
By die vasstelling van opset, fokus die hof dus op die gemoedstoestand van die skrywer. Die skrywer sou dus sekere verwere kon aanvoer ten einde te bewys dat hy/sy nie opsetlik lasterlike bewerings gepubliseer het nie. Byvoorbeeld, daar kan geargumenteer word dat die skrywer ’n fout gemaak het insover hy/sy werklik subjektief gedink het dat die publikasie regmatig geskied het. ’n Ander gewilde verweer wat opset kan uitsluit, is skerts. Hier sal ’n skrywer moontlik argumenteer dat sy/haar wil nie daarop gerig was om die eiser se reputasie aan te tas nie, maar eerder om die gek te skeer. Ander moontlike verwere wat ’n impak op wilsgerigtheid en/of onregmatigheidsbewussyn kan hê sluit in geestesongesteldheid (emosionele stres), provokasie, jeugdigheid en dronkenskap.
Indien die skrywer se beroep op hierdie verwere egter onsuksesvol was, en dit dus vasstaan dat die publikasie van die lasterlike bewerings opsetlik geskied het, is dit steeds moontlik om aanspreeklikheid te vermy. Die skrywer kan hom/haar beroep op sekere verwere om aan te toon dat die publikasie nie onregmatig was nie. Die vier erkende verwere in hierdie verband word kortliks hieronder omskryf. Skrywers kan egter daarop let dat dit meer waarskynlik is dat die eerste twee verwere op hulle van toepassing is. Beide hierdie verwere sou byvoorbeeld aangevoer kon word indien die staat sou voortgaan met regstappe teen Jacques Pauw oor die inhoud van sy veelbesproke boek, The President’s Keepers, terwyl die laaste twee verwere vanuit ’n skrywersperspektief miskien minder relevant sou wees. Die laaste verweer veral is eintlik gefokus op media-verweerders eerder as individuele skrywers.
Eerstens kan daar geargumenteer word dat die publikasie van die lasterlike materiaal die waarheid is en ook in die openbare belang was. Om suksesvol te wees, moet albei komponente van die verweer bewys word en dit is dus onvoldoende om bloot aan te toon dat die bewerings waar is. ’n Tweede moontlike verweer is dié van billike kommentaar. Hier kan die skrywer argumenteer dat die bewerings (tipies kommentaar of opinie) gebaseer is op feite. In hierdie konteks dra die grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking besondere gewig en die howe is bereid om kommentaar wat oordrewe of selfs bevooroordeeld is te beskerm solank dit billik en eerlik was. Kommentaar wat kwaadwillig of met onbehoorlike motief gepubliseer is, sal die verweer egter pootjie.
Derdens kan aangevoer word dat die stelling gemaak is in geprivilegeerde omstandighede. Hier kan tussen absolute en gekwalifiseerde privilegie onderskei word, elk met sy eie stel vereistes. Die kern van hierdie verweer is dat die reg sekere stellings – ten spyte daarvan dat dit lasterlik is – moet beskerm op grond van openbare beleidsredes. ’n Laaste verweer wat erken word en veral deur media-verweerders aangewend word, is dié van redelike publikasie. Hierdie verweer is veral relevant vir media-verweerders, d.w.s. media-huise en uitgewers van bepaalde tekste. Om suksesvol te wees, moet bewys word dat die publikasie van lasterlike materiaal in die omstandighede redelik was. Ten einde die redelikheid van die publikasie vas te stel, word ag geslaan op die belang van die algemene publiek om deur die media ingelig te word deur bepaalde kwessies; die wyse waarop gepubliseer is; die toon van die materiaal wat gepubliseer is; die betroubaarheid van die relevante bron op grond waarvan die materiaal gepubliseer is; die stappe wat geneem is om die inligting te verifieer voor publikasie; en of die persoon wat belaster is ’n geleentheid gegun is om kommentaar te lewer voor publikasie.
Lastereise loop hand aan hand met die publikasie en verspreiding van inligting; juis waarmee skrywers, joernaliste en uitgewers hulle bemoei. In plaas daarvan om onverhoeds betrap te word, is dit raadsaam om reeds voor publikasie bedag te wees op die moontlike lasterlike inhoud in ’n manuskrip en die regstappe wat op publikasie daarvan kan volg.