Het Afrikaans die seggingskrag om seksuele ervarings te dra?

“Die wêreld van die skrywer” is PEN Afrikaans se artikelreeks waarin skrywers uitbrei oor temas wat met die praktyk van skryf te doen het. In hierdie artikel beantwoord bekroonde skrywer, Eben Venter, die vraag: het Afrikaans die seggingskrag om seksuele ervarings te dra?

Eben Venter (Foto: Naomi Bruwer)

Witblommetjiekaroo – om in Afrikaans te bly skryf

Daardie Sondagmiddae was so swaar gelaai, die bruingebakte skaapboud, die goudvet plaashoender, die broskraak as jy in ’n aartappel byt, om- en omgedraai in die boudvet, die swaar geslof van die Xhosa-vrou wat die skinkbord indra, en indra, die neerplof agterna op die matras vir die middagslapie met net nog ’n laaste slap hand om ’n brommer weg te ja, en dan, sodra ek my linkeroog begin klein oopmaak, Pa se kop reeds om die kosyn, reeds met sy gaan stap hoed op: “saamkom?”

Ek het dit verpes tot in vesels van my kuite, daardie flink stappas wat hy aangegee het al met die noordelike klipkoppies tot op die skaappaadjies in die agterveld, die helse Karoo-hitte en die ongenade van die bossieveld en die kort-kort se getrippel om by Pa by te hou. Agter wou ek bly op die draadstoel onder die sleep van die koelgroen slierttakke van die wilgerboom, ek dink ek het daai tyd Through the Looking Glass gelees.

Maar as ek vroegoggend halfwakker lê hier op die ooskus van Australië waar ek reeds meer as die helfte van my lewe woon, onthou ek by uitstek daardie Sondagmiddae se veldstappery, en die gif wat Pa my gegee het, toe: “my kind, hierdie is die witblommetjiekaroo, en daai is sommer die ou bitterbos, skaap sal hom nie vreet nie, ruik hierso,” en hy breek ’n takkie af en hou dit voor my negejaaroue neus, “kerriebos, skaap word spekvet van hom, en hierdie een,” en sy velskoen raak liggies aan die plat, ronde, stekelrige bossie, “is die voëltjie-kan-niesit-nie. Skaap eet hom, maar net in die droogte as daar niks anders is nie.”

…………

“En wat nou van die onsegbaarheid van die seksuele ervaring? Daarvoor tree Simon Avend in gesprek met Thembinkosi, een van die Xhosa-mans wat as kameekarakter aan die einde die storie binnekom.”

…………

Pa se hand oopgevou, die palm gekontoer met stuifmeel van die witblommetjie, en die name van al die karoobossies geliefd op sy tong, en op daardie oomblik, dit kan ek nou sê, byna vyftig jaar later, het die Afrikaans-name van daardie bossies ’n ruimte gebied saam met die laatmiddag se hemelblou, die ewige, stil veld, die kwaai stofreuk van die man daar by my, ’n ruimte waarin ek vir ’n oomblik kon asemhaal, weg van die onregverdige stelsel op die plaas, ons wat onsself alles toeëien, die witmens-name vir die Xhosa-werkers, hulle skraal salarisse, hulle patetiese huisies; op daardie oomblik kon ek in die geselskap van die bossies, elkeen op sy naam genoem, vry wees in ’n ruimte waar daar respek was, en liefde, ten minste vir grond en plant en dier.

Ek het my laaste roman, Green as the Sky is Blue, in Engels geskryf omdat ek wou kyk of ek kon. En omdat twee van my voorafgaande romans vir die eerste keer verkoop is aan Scribe Publishers, die Britse en Australiese uitgewershuis. Die romans is in Engels vertaal deur onderskeidelik Luke Stubbs en Michiel Heyns, maar nou wou ek daardie outeurskap én outoriteit terugvat van die buitestaander-vertaler en die teks self “huis toe bring”.

In Green as the Sky is Blue (2018) neem ek my hoofkarakter, Simon Avend, van stad tot stad om sy seksuele ervarings uit te leef. Dit lê aan die aard van ’n skryfproses, of jy nou in Engels of Afrikaans skryf, dat jy eers daarbinne, terwyl die storie voortwoeker van sin tot sin, tot insigte gaan kom.

Met die skrywe van dié storie wou ek die seksuele ervaring tot teen die vel ontgin, maar algaande word my slotsom duidelik: die seksuele ervaring is onsegbaar.

Ek het gevoel Engels is geskik vir die onsegbaarheid. Daar is die magtige woordeskat wat al werkende aan my bekend raak, en daar is die potensiaal om sensueel te skryf. Daarby bied Engels die kans om, volgens my, die seksuele ervaring te stileer sodat dit nie na pornografie klink nie: “ … he jacked me up of his own volition, an action that enfolded me, ate me as he built up his rhythm, becoming a fast pummeling”.

Selfs binne dié stilering, iets tussen die subtiele en die grafiese segging van die ervaring, bly daar egter die onsegbare dimensie van lyf-tot-lyf interaksie. Die storie het klaargekom (sic) en op my gewag: nou moes ek hom huis toe bring, in my moedertaal en met die Afrikaanse idioom en sinsbou tot my beskikking. Ek is die outeur van die storie, en anders as buitevertaler het ek nou ook die outoriteit om die storie oor te dra na ’n ander taal soos en hoe ek wil.

Die vraag meld ditself aan: het Afrikaans die seggingskrag om hierdie seksuele ervarings te dra, en kan ek in Afrikaans by die onsegbaarheid van die ervaring uitkom?

In die slothoofstuk neem ek vir Simon Avend na die Transkei. Afrikaans kan daardie landskap van aanrollende heuwels en die Oos-Kaapsheid van die kus liries vasvat: “Ver, aan die oorkant van die strand, verskyn twee seuns in die laaste aandlig, besig om bees aan te ja. Die plaat strand agtertoe vermurwe en word lug, wyd en groot vou dit om alles, om die figuurtjies met hulle speelgoed beeste. Ek drink uit die kwartbottel Black Label, teen die tyd lou, en hou hulle dop terwyl hulle aankom. Soms, in die yl lig, lyk dit asof hulle weer terug hol en heeltemaal verdwyn in daardie skimagtige plumbagoblou vanwaar hulle gekom het.”

Eben Venter met Thembinkosi in Bulungula, Transkei. (Foto: verskaf)

En wat nou van die onsegbaarheid van die seksuele ervaring? Daarvoor tree Simon Avend in gesprek met Thembinkosi, een van die Xhosa-mans wat as kameekarakter aan die einde die storie binnekom. In die geselsery, op Afrikaans en Xhosa, kom hulle op die isiXhosa-woord vir “blou” af, naamlik luhlaza okwesibhakabhaka, wat beteken “groen soos die hemel”. Nader as dit kan die Xhosa-spreker nie aan die kleur blou kom nie.

My storie in Afrikaans neem hierdie woord ter harte, en eie aan sy Kreoolse aard word daar nou in Afrikaans, verryk deur hierdie enkele isiXhosa-uitdrukking, ’n ruimte geskep om die onuitspreekbaarheid van die seksuele ervaring uit te druk. Dit is soos my Pa se hand, ryk met die stuifmeel van die witblommetjiekaroo: daar teen wang van die Wildekus is daar ’n ruimte, ín die taal, waar Simon Avend en Thembinkosi saam kan tuiskom.

Hier gee ek die woord aan Simon Avend in sy laaste gesprek met sy terapeut. Dis nou duidelik dat Afrikaans, inklusief, eie-aardig en wonderlik-skoon, die vermoë het om iets van die onsegbaarheid van die seksuele ervaring uit te spreek. Die hoop sal nie beskaam nie, Afrikaans hét iets om aan die wêreldleser te gee: 

“As jy dit gevóél het, in die ware sin van die woord, met jou hele lyf, en dan, na die tyd, verplaas jy die ervaring na jou mentale fakulteit sodat jy dit kan onthou, vir ewig en altyd, besef jy dis ’n eenmalige ding. Dit gaan nooit weer só gebeur nie. Ten minste nie in en met jou liggaam nie. En dan, wat oorbly, is daardie knaende hongerte, en die kans om dit te bemeester, meester van jou eie bemeestering te word, om ’n afgewerkte mens te wees ten spyte daarvan. Maar jy hou ook vas, altyd, dat jy dit een maal gesmaak het, of baie maal, óf net een maal, en dis nie ewig nie. Daarsonder is jy niks, ja, dit ook, maar om daaraan vas te hou soos jy ’n klip vasknyp in jou hand, en om dit te probeer uitspreek, die volheid daarvan, dis wat buite jou bereik bly, dit lê anderkant die uitdrukkingsvermoë wat aan my gegee is.”


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.