In hierdie aflewering van PEN Afrikaans se artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” vertel bekroonde spanningskrywer Irma Venter meer oor die rol van navorsing en aktuele kwessies in haar spanningsverhale. Hoe pak sy daardie deel van die skryfproses aan en hoe gaan sy te werk om navorsing met die storielyn te integreer?
Ek het nog altyd van ’n spanningsverhaal gehou wat my uitdaag, wat my iets nuuts leer, maar ek wil nooit voel asof ek in ’n klaskamer sit terwyl ek lees nie.
Navorsing in spanningsverhale kan baie dinge wees, maar dit moenie ’n stopteken wees nie. Geen leser wil voel asof hulle skielik uit die verhaal gelig word en in ’n muwwe lesingsaal beland waar ’n lektor verduidelik hoe DNS ingesamel word nie, of hoe die polisie aantrek as hulle by ’n misdaadtoneel opdaag nie.
Die inligting moet daar wees, maak geen fout nie, maar mens wil nie die nate van die storie sien nie. Die leser wil nie van die skrywer bewus raak nie. As skrywer mag jy nooit in jou eie geskepte wêreld gaan hand opsteek om gou iets te verduidelik nie.
Lesers het dalk die boek gekies op grond van die skrywer se naam, maar die kuiergaste wat hulle ingenooi het is die karakters, en hulle is die mense wat telkens gebeure moet dryf.
Dit beteken die navorsing moet soomloos in gewerk word. Dit moet onnaspeurend net daar wees om te geniet en te absorbeer sonder om die verhaal se spoed te breek.
Inligting is ontsaglik belangrik binne die spanningsverhaalraamwerk. Nuwe inligting wat die hoofkarakters in misdaadverhale insamel is talle kere die stukrag vir die storie; dit wat die storie voortdryf na die volgende hoofstuk en die volgende verdagte – selfoondata, die ooggetuie verslag, die forensiese verslag.
Meer nog, om hierdie inligting oor dra dat die leser dit verstaan, is ewe belangrik as die navorsing self. Enige misdaadskrywer wat hulle sout werd is weet dat die leser deeglik moet verstaan wat besig is om te gebeur voordat die volgende legkaartstuk neergesit word.
Soms kom die skrywer selfs op die punt waar jy ’n hoofstuk moet wy aan waar die hoofkarakters hulleself – en dus die leser – herinner aan alles wat tot op hierdie punt gebeur het.
Weereens is die uitdaging om dit nie soos ’n lesing te laat klink nie.
Ek dink egter dat dit al hoe meer belangrik raak om hierdie tipe opsommende hoofstuk in te werk, aangesien min mense deesdae ’n boek oor ’n naweek klaar lees.
Op die ou einde is al hierdie aksies nodig omdat die skrywer besig is om op te bou na ’n geloofwaardige, elegante einde. Min dinge frustreer gesoute misdaadlesers so baie soos ’n haastige, ongeloofwaardige einde waar hulle nie kan naspeur hoe op dees aarde hulle op hierdie punt in die verhaal beland het nie.
Die vertalings van misdaadverhale lewer ’n ekstra uitdaging in terme van die navorsing.
Hoe die Suid-Afrikaanse polisie DNS gebruik is nie hoe die Amerikaners of die Franse dit gebruik nie. Nie alle polisiesisteme is dieselfde nie en nie alle lande worstel met dieselfde misdaadprobleme nie, en dis maar net ’n paar voorbeelde.
Binne ’n vertaalde werk moet die skrywer ’n storieontwikkeling verduidelik aan ’n leserskap wat nie bekend is met die agtergrond van die skrywer se land nie.
Weereens is die uitdaging om dit naatloos by die storie in te werk – wat nogal moeilik kan wees as mense klaar hierdie stuk skryfwerk aanmekaar gesit het. Dit kos lostorring, inlap, vastorring, en hoop niemand sien nie.
Google is jou vriend, maar . . .
Nog een aspek van die navorsing wat misdaadverhale betref is om te besef dat nie als geGoogle kan word nie. Die inligting wat byvoorbeeld op die internet oor die polisie wat beskikbaar is, handel meestal oor Amerika of Brittanje, en nie Suid-Afrika nie.
Om aan te neem dis dieselfde, is om foute te maak wat misdaadlesers heel geredelik vir die skrywer sal uitlig.
Wat dit gewoonlik vir Suid-Afrikaanse misdaadskrywers beteken is dat jy ’n geduldige, bekwame polisiepersoon moet opspoor wat heelwaarskynlik vermoed dat jy ’n boek gaan skryf wat die polisie onbekwaam gaan laat voorkom.
En al skryf ek nie polisieprosedureverhale nie, is die polisie altyd op een ander manier betrokke in my verhale, wat beteken ek moet gereeld hulle insette vra.
Ek het al wonderlike mense op hierdie manier ontmoet wat my waardering vir die polisie aansienlik verdiep het. Ek is ook diep bewus gelaat van hoe min hulle betaal word en hoe oorlaai hulle is met werk.
Wat ek telkens vir my polisiebronne moet verduidelik is dat ek hulle feite gaan gebruik en gaan lieg. Ek wil my verstout om te sê dat geen polisieprosedure, soos om DNS te toets, so vinnig in die werklike lewe gebeur soos die geval in misdaadskrywers se boeke nie.
Aangesien die skrywer egter die storie moet vorentoe dryf en die haastige tempo van die spanningsverhaalgenre moet eerbiedig, moet hierdie inligting vinniger beskikbaar gestel word as wat werklik die geval is.
Amper alle sake in die misdaadverhaal word ook opgelos, wat glad nie die geval is in die werklike lewe nie.
Ander bronne buite die polisie kan ook van groot hulp wees. Patoloë, regsgeleerdes en dokters kan byvoorbeeld baie help.
In my derde boek, Sondebok, moes die hoofkarakter, Adriana, ’n fors, jong man met ’n mes steek. Daar moes egter genoeg tyd wees tussen die onderonsie en sy dood dat sy hom kon ondervra.
Ek het my huisdokter gevra om te help, en sy en haar man, ’n sjirurg, het die aand gaan sit en uitgewerk waar en hoe ek hierdie man kan wond om Adriana toe te laat om 15 minute met hom te praat.
Al hulle werk was ’n enkele sin in die boek.
Dieselfde span het my ook gehelp met Jaap Reyneke se kankerbehandeling in die sewende boek, Sewe-en-veertig.
Dit als gesê, bly Google tog mens se beste vriend.
My internetgeskiedenis sal ’n hele paar wenkbroue laat lig – van Suid-Afrika se bekendste reekmoordenaars tot hoe lank dit neem vir ’n liggaam om in rigor mortis in te gaan.
Facebook kan interessante karaktername oplewer.
Google Maps help ook baie met straatname en inkleding van die omgewing.
Koerante en nuuswebwerwe bly natuurlik ook ’n interessante bron van inligting. Dis amper onmoontlik om in ’n land soos Suid-Afrika te bly en nie deur prominente misdaadsake geraak te word nie.
In Skandinawië byvoorbeeld moet skrywers hulleself die ergste verbeel. Niks wat ’n Suid-Afrikaanse misdaadskrywer opdis kom naby die werklikheid van dit waartoe ons nasie in staat is nie.
Hoe om jou vriende en familie te irriteer
Een van die grootste nadele van spanningsverhale skryf is dat baie van mens se ervaringe dikwels gereduseer word tot moontlikhede vir jou nuwe boek.
Kan ek by hierdie brug oor hierdie Amsterdamse kanaal ’n lyk gooi sonder dat iemand sien? Kan ’n mens ’n lyk in hierdie nuwe Volkswagen se kattebak pas? Is hierdie rockonsert hard genoeg sodat mens iemand kan vermoor en niemand in die gehoor dit hoor nie?
Aksente en dialoog trek ook konstant mens se oor. Hoe klink mense? Hoe vloek hulle? Wat drink hulle? Wat eet mense in hierdie dorp, in hierdie land? Watter klere dra hulle, watter handelsmerke? Hoe lyk hulle fisies en hoe ervaar mens hulle kultuur en algemene houding? Hoe is die weer hierdie tyd van die jaar? Hoe laat maak die Tokyo Toring oop vir besoekers? Hoe is die verkeer soontoe seweuur in die oggend?
Ek glo mense weerspieël die stad waarin hulle bly op hulle gesigte.
Die beteken jy steel die heeltyd met jou oë en jou ore vir jou volgende boek, dikwels tot groot ergenis van die mense by jou.
So het ek en my reisgenote al op vakansie die pad van Paternoster na Lambertsbaai gery om te kyk hoe lank dit neem, en om die perfekte plek te soek om ’n lyk op die ysterertsspoor te plaas. (Die ekskursie het die hele dag geneem in die Desemberhitte.)
Ek neem honderde foto’s as ek iewers heen toer of met vakansie is. Niksseggende foto’s vir enige iemand anders – foto’s van bushaltes se name, straatname, alledaagse geboue en alledaagse mense, lughawens, kafees, motors, taxis en hawens.
Ek is seker amptelik die wêreld se slegste fotograaf as dit by vakansiefoto’s kom. Ek het geen foto van die Eiffeltoring nie, maar honderde van strate en die roete van die lughawe tot by ’n klein hotel in Montmartre.
Ek tik byvoorbeeld nota’s oor taalgebruik, hoe die kelner my koffiebestelling neem en hoeveel dit kos.
As ek ooit my foon sou verloor, sou ek die meeste van my navorsing verloor.
Een dag het ek sonder my foon langs die see gaan stap. ’n Halfuur later het ek teruggekom met ’n spul nota’s wat ek noodgedwonge op my arm moes skryf met ’n geleende pen.
Die man by wie ek die pen geleen het, het gedink ek is laf. Maar dit maak nie saak nie, ek het die storie vasgemaak, en hopelik lees julle dit binnekort.
Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.