Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans nooi vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uit om aansoek te doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word.
Die doel met hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Die fokus van die residensieprogram is veral gemik op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse literatuur bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.
Die historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.
Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 1 tot 27 Julie 2020, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.
Alle genres sal oorweeg word.
Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 16 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet bestaan uit:
- ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak
- ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
- ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude in Kaapstad sal plaasvind op 8 April. Die wenners sal op Internasionale Boekedag op 23 April aangekondig word.
PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers en belanghebbendes wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans is gerig op die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en die reg tot vryheid van uitdrukking.
- Doen hier aansoek om ’n lid van PEN Afrikaans te word: https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-aansoekvorm/
Die Jakes Gerwel Stigting is op sy beurt in die lewe geroep met die doel om die nalatenskap van wyle Jakes Gerwel – wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en besigheidsman – deur relevante projekte uit te bou.
Die Stigting fokus op die bevordering en bemagtiging van skrywers en wil bydra tot die verryking en verruiming van ons letterkunde. Die Stigting is trots op die vennootskap met PEN Afrikaans, aangesien Gerwel passievol was oor Afrikaans en sy diverse moedertaalsprekers.
- Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting is beskikbaar by www.jgf.org.za