[Huldiging soos gelewer op 31.08.2024]
Op 9 Februarie 1937 het Abraham H. de Vries, Braam, die eerste maal die lig van ons planeet aanskou op Winkelplaas naby Ladismith in die Klein-Karoo. Hierdie plaas en streek sou lewenslank sy hartland bly. Onder meer sou hy persoonlik sorg dat die streek ’n nuwe naam kry: Kannaland. Tot op die laaste sou sy motor ’n CBL-nommerplaat hê en byna tot die einde sou hy vasklou aan Winkelplaas.
Sy aankoms op daardie somerdag het helaas met hartseer gepaard gegaan. Net soos sy groot voorganger, CJ Langenhoven, het hy by geboorte sy moeder verloor. Dit gee aan die term “moedertaal” ’n ander dimensie.
Braam het ’n skrywer en akademikus geword wat tot ver buite sy eie land sy merk gemaak het. Hy was ’n vakman wat teoreties besin het oor letterkunde, wat steeds bly eksperimenteer het met maniere van storievertel, wat nie slegs verrassende temas ontgin het nie, maar ook onverskrokke besig gebly het met vrae na reg en geregtigheid. Hy het ’n dokumentêre filmmaker geword van formaat: oor die Klein-Karoo, oor skrywers, veral gemarginaliseerde skrywers soos Hendrik January, Abraham Philips en Adam Small. Hy was ’n polemiseerder van formaat. Nog nie so lank gelede nie moes hy Toon van den Heever se werk op LitNet teen geleerdes sonder insig verdedig.
Sy eerste verhaal word gepubliseer terwyl hy nog leerling is op Ladismith. Dit heet “Bert die jagter” en het in 1953 in Die Huisgenoot verskyn. Drie jaar later volg sy eerste bundel kortverhale, Hoog teen die heuningkrans. In 2013 het – as ek reg tel – die 20ste bundel verskyn, Wie pluk die rose in die nag? Hy word al jare lank algemeen erken as een van die groot kortverhaalskrywers in ’n letterkunde waarin die kortverhaal een van die belangrikste verhaalsoorte uitmaak al vergeet hedendaagse letterkundiges dit soms. Trouens het hy met sy eie skryfwerk ’n enorme bydrae daartoe gelewer om die Afrikaanse kortverhaal so ’n status te gee.
Die eienskappe in sy kortverhale wat hom hierdie status besorg het, is nie eenvoudigweg op te noem nie. Onder meer het dit te make gehad met sy vermoë om Afrikaanse sinne te maak op ’n manier wat baie van sy medeskrywers jaloers gemaak het. Dan is daar die talent om net genoeg te sê om die leser nuuskierig te hou, maar ook steeds te laat wonder selfs nadat die laaste woord van die storie al uit is. In die titelverhaal van Skaduwees tussen skaduwees wys hy indirek die eerste groot bron en inspireerder aan met die woorde: “Vader had meer stories in sy plaaswinkel as negosie.”
Ek wil met ’n laaste, verwante eienskap van sy kortverhale volstaan. Dit is dat hy in staat was om enersyds van die heel beste streekverhale te skryf wat in Afrikaans bestaan en andersyds juis daarbo uit te styg. Hy slaag gereeld daarin om vanuit die Klein-Karoo te spring na ’n universele probleem. In karakters uit die Klein-Karoo vang hy soos in doudruppels beelde op van die hele wêreld met sy vrolike, snaakse, sukkelende én tragiese bewoners.
Dit is veral hierdie vermoë van Braam wat van hom een van die opvallende lede van die beroemde Sestigers gemaak het.
As akademikus was hy ook wetenskaplik geïnteresseerd in die kortverhaal. Hy was in die eerste plek ’n kenner van die tegnieke wat die Klein-Karoo se baasvertellers ingespan het op winkelstoepe, in kroeë en voorkamers. Maar ook van figure soos die Nederlandse grootmeester Simon Carmiggelt en die klassieke Russiese Anton Tsjechof.
Hy voltooi ’n doktorsgraad oor die Afrikaanse kortverhaal. Op grond daarvan word hy in 1978 die samesteller van die eerste werklik gesaghebbende versameling Afrikaanse kortverhale, Die Afrikaanse kortverhaalboek. Hierdie bundel het hy gereeld hersien en dit is waarskynlik steeds ’n standaardwerk vir universiteitskursusse. Die literatuurhistorikus J. C. Kannemeyer noem hom die grootste kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal. ’n Skrywer wie se werk daarin opgeneem is, is eintlik vereer met ’n lewenslange medalje.
In die proses was hy ook net so vrygewig soos die Klein-Karoo self. Baie skrywers sou kon getuig oor wat Braam vir hulle gedoen het. Soms gaan dit oor ingrypende voorstelle wat van skewe manuskripte pryswennerboeke gemaak het. Onder hulle tel P.H. Nortjé en Dalene Matthee.
Hy het kosbare skryftyd afgestaan om in belangrike skrywersorganisasies te dien. Hy was by geleentheid voorsitter van die invloedryke Afrikaanse Skrywersgilde wat die stryd met die destydse regering aangegaan het teen sensuur, ’n stryd wat uiteindelik gewen is en ook die res van die politieke en kulturele landskap ten sterkste geraak het. Na 1994 was hy een van die vernaamste inisiatiefnemers by die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging wat ’n belangrike rol gespeel het om voorheen gemarginaliseerde skrywers ’n sterker stem te gee.
Intussen het hy die belang van die verbintenis tussen Afrikaans en die Nederlande bly koester. Hy was self ’n doktorandus van die Universiteit van Amsterdam. Tydens en selfs ná sy studietyd het hy gesorg vir verhale wat in Nederland afspeel. Sy boek oor Amsterdam, Joernaal uit ’n gragtehuis (1968), bied steeds ’n boeiende leeservaring. Die jare van die nie-amptelike Nederlandse kulturele boikot het hy ewe pynlik as die onnatuurlikheid van Apartheid ervaar en kort voor 1994 sorg hy vir ’n grensverskuiwende dokumentêre film getitel Afrikaans en Nederlands na Apartheid. Hy was een van die eerste akademici om weer ’n kursus oor die Afrikaanse letterkunde aan sy Europese alma mater aan te bied. Hier aan die Kaap speel hy ’n deurslaggewende rol om die Nederlandse Bibliotheek van ondergang te red. Jare lank na sy aftrede as hoof van die departement in Tale en Joernalistiek aan die Skiereilandse Technikon bied hy as gasprofessor kursusse in Nederlandse prosa aan by die Universiteit van Wes-Kaapland.
Twee toekennings was vir hom van die allergrootste belang:
- Op 22 Maart 1992 het die munisipaliteit van Ladismith die ereburgerskap van die dorp aan hom verleen. Al die politieke partye in die raad het saamgestem. Hy het dus ’n uitsonderlike profeet geword wat in sy eie land erkenning gekry het.
- Op 30 April 2021 het die Universiteit van Pretoria aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken vir sowel sy skeppende as teoretiese en kritiese werk. Dit was ’n tydige stap.
’n Mens kan maar net hoop dat sy versamelde werk in die nie te verre toekoms verskyn sodat meer lesers hierdie merkwaardige geheel kan ervaar: ’n geskiedenis van groei, maar ook ’n oeuvre waarin onderdele op mekaar inspeel, waar die komiese en erns in harmonie bestaan net soos deernis en verset. Ook verset teen die afbraak van die afgelope dekades wat hy nie bereid was om te ignoreer nie. Sprekend is die byna irrasionele verset in die verhaal “Woede”: “Daar kom tye waarin bou al is wat oorbly.” Miskien is juis hierdie woorde die gemene noemer vir die werk van ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap bly verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos wonder oor die raaisels van die menslike bestaan.
Braam, ek groet jou as unieke literator, as getroue Kannalander en as besondere vriend.
Wium van Zyl