Steward van Wyk bring hulde aan Anastasia de Vries (1960 – 2024)

Die nuus oor die skielike en onverwagse afsterwe van ons geliefde vriendin en kollega aan die UWK se departement Afrikaans & Nederlands, Anastasia de Vries, was soos iets wat jou in ’n donker gat af trek; ’n lugleegte, ’n afgrond in; iets waar die lig en lug uitgesuig is. Die mees voorkomende whatsapp-reaksies was ’n “nee”, met vele uitroeptekens, en ’n “aggenee, aggenee!”. Dit was asof mense met hierdie enkelwoordtekste die verskriklikheid wou omkeer, ongedaan maak.

Hierna het die boodskappe van medelye ingestroom. Daar is al baie geskryf oor dood, verlies en begrafnisse, omdat mense deur die onder woorde bring van die ervaring daarvan, dit dalk makliker maak. Lykdigte en elegieë is omvattende genres, ook in Afrikaans. Ook Anastasia het hieroor geskryf in haar kortverhaalbundel Baie melk en twie sykers (Protea, 2010): 47 jaar na die dood van haar pa skryf sy oor hom en onthou hom in sy stil manier, hoe hy op Sondae in die kombuis was, sy aartappels papierdun geskil het en sy speserye gemeng het vir ’n feesmaal. Sy kookmaniere het sý oorgeneem, en ons onthou die geurige breyani wat sy kantoor toe gebring het. Hy het haar “laat vlieg”; dis dan ook die titel van haar verhaal oor hom.

Sy skryf ook op ’n lighartige toon, omdat sy so geaard was. In die kortverhaal “Anner se trane nie te koop” skryf sy oor ’n begrafnis in haar straat in Ravensmead en die karakter Kinna:

Voor sy haar kon keer, toe ween sy, oor die man, oor alleengeit, oor die stilte van die dood wat oor die straat hang, oor die groot huis se hek skielik te oop was en sy die onkruid innie tuin kon sien, die swembad met die groen net oor, die stof op die stoep.

Nie dat Kinna eintlik iets nodig het vir ween nie, nee, Kinna is ’n gewoontewener. Vanlat sy in ’n geskiedenisboek gelees het hoe bruin mense in die Kaapse outyd gehuur is om op wit mense se begrafnisse te ween, ween Kinna nou voorstebos op al wat begrafnis is.

Kyk, sy weeklaag hier van agter haar naweltjie uit, hoog en smartlik, en as jy jou kom kry, is daar nie ’n droë oog innie kerk of byrie graf nie. En assit nie hoe is nie, dan slat sy net daar om in ’n floute. En dan is Kinna die een, nie die familie, wat gelawe moet word met versterkdruppels en witdulsies of Condy’s Crystals. Nee, Kinna weet van ween.

Dis asof mens haar weer hoor: ’n skalkse waarneming van mense en hul geite, kwalik beïndruk deur die teatrale gebaar, komies en humoristies, nugter en saaklik, altyd ’n onthou of vertelling van iets wat êrens gebeur het.

In die dekade dat sy terug was in die departement Afrikaans & Neerlandistiek aan die UWK was sy ’n regte steunpilaar. Sy was nie een wat gespog of gekla het oor wat sy alles doen nie. Sy het vele departementele portefeuljes met haar doelgerigte deeglikheid behartig: o.a. die Biblioteekkomitee, Leer en Onderrig en tutors; en dan het sy jonger kollegas saam deur die prosesse geneem en bemagtig om die rolle oor te neem. Sy was ook tegnologies uit die ou verbond en kon maar net nie die mas opkom met MAS (die elektroniese puntestelsel) of enige aanlyn gedoente nie.

Uit die vele boodskappe van medelye kon ons eers regtig agterkom wat Anastasia al alles hierdie jaar gedoen het, benewens haar doseer- en navorsingstake: sy was ’n keurder vir die Jan Rabie Rapport-boekprys; Lid van die Fiësta-paneel wat debuutdramaproduksies op kunstefeeste regoor die land keur (en het dié taak al by die Suidoosterfees en Vrystaatfees afgehandel,n met Aardklop en Inniebos wat nog moet gebeur); ’n keurder vir die beste MA-tesis wat toegeken word deur die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam; en dan nog haar maandelikse rubriek vir Vrye Weekblad. Sy sou die hoofspreker wees by die Universiteit van Gent se simposium oor Afrikaans in Oktober. Haar verstommende werkywer was ’n inspirasie vir ons almal. Sy het ’n wye, ensiklopediese kennis gehad en sou iets vir jou opspoor indien sy dit nie dadelik uit die hoof geweet het nie. As ek iets geskryf het, het dit vir my altyd onaf gevoel totdat Anastasie daarna gekyk, kommentaar daarop gelewer en redigering daarop aangebring het nie.

Baie is die afgelope twee weke geskryf oor die hart van Anastasia; haar liefde vir haar studente, haar medemens, familie en vriende. Haar liefdevolle aanraking en omgee en haar moederlike vermanings en aansprekings. Haar oud-student Angelo Julius se huldeblyk spreek vir menige student: https://www.litnet.co.za/hoe-juffrou-se-woorde-my-lewe-gered-het-djy-doenitie-vi-my-nie-troubles/. Hierdie aanslag was ook in haar klaspraktyk te bespeur, naamlik waar sy nie uit die ivoortoring doseer het nie maar deurgaans die maatskaplike belang van kundigheid en wat dit vir menswees beteken, uitgelig het.

In een van haar rubriekbydraes in Vrye Weekblad reflekteer sy oor die afgelope eksamen en die kursus waarin sy Kanna hy kô hystoe behandel het. Sy rig dit as ’n ope brief aan die dramaturg, Adam Small. Kortliks handel die storie van die drama oor Kanna, wie se familie opofferinge moes maak sodat hy ’n opvoeding kon kry en kwalifiseer as ingenieur. Hy vertrek dan oorsee, waar die nuus van die afsterwe van sy grootmaakma, Makiet, hom bereik. Hy is in vertwyfeling of hy moet terugkeer huis toe om sy mense op te help of in die buiteland moet bly en ’n sorgvrye lewe geniet. Anastasia skryf in reaksie op die studente se antwoordstelle:

Liewe Adam Small

Luister bietjie wat skryf een van jou jonger geslag lesers in haar essay: “Adam Small sê in sy ‘Aantekening’ dat ‘die karakters praat oor afstande, jare, drome en die dood heen’. Maar hy is self dood en sy boek is al 55 jaar oud, amper so oud soos my oupa en dit speel af in ’n tyd wat hom laat huil as hy daaroor praat, en tog voel dit vir my Adam Small praat oor afstande en jare en die dood heen met my.”

Het jy ooit kon droom dat jou werk wat in 1965 verskyn het, nog in 2020 deur 18-, 19-jariges beskou sou word as hul padkaart na mens wees? Was dit Franz Kafka wat gesê het, “I think we ought to read only the kind of books that wound and stab us … We need the books that affect us like a disaster, that grieve us deeply … ”? Ek weet nie so mooi van “only” nie, maar ek wil hê jy moet weet hoe nodig jou boek steeds is, hoe dit steeds nuwe dinge oopkap.

Dat dit vir ’n wyle onnodig geword het om ’n woord te sê, lank genoeg om die stemme te hoor van ’n nuwe geslag Kannas wat, anders as jou Kanna, vir my ’n simbool van hoop kom word het.

Dit is ’n diep en roerende besinning.

Anastasia se heengaan is ’n monumentale verlies vir ons departement, die Afrikaanse leefwêreld, die Afrikaanse akademie en ons vakgebied. In die enkele dekade dat sy terug was in die akademie, het sy ’n seminale bydrae gelewer. Emeritus professor Frank Hendricks het in sy bydrae op LitNet ‘n omvattende en insigryke perspektief gegee op haar werk oor Kaaps en hoe sy ’n noukeurige beskrywing gee van die vele nuanses van hierdie taalvorm (https://www.litnet.co.za/n-groetwoord-vir-anastasia-de-vries/). Haar doktorale navorsing oor die versweë en ongedokumenteerde geskiedenis van Afrikaans in die Katolieke Kerk is van uiterste belang. Sy skryf ’n belangrike artikel oor die ikoniese Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw en sy bydrae tot Afrikaans in die Katolieke Kerk – iets wat nie in die hoofstroomkritiek of aan die algemene publiek bekend is nie.

Haar navorsing is onderlê deur ’n postkoloniale en dekoloniale denkraamwerk, ’n anti-hegemoniese werkswyse gemik daarop om die stemme wat stilgemaak, verswyg en misken word, te laat hoor. Laasgenoemde spreek duidelik uit haar kreatiewe werk, soos haar verhale en rubrieke en die skryfprojek Vroue van Atlantis (Lapa, 2017) – ’n projek waarmee sy, kollegas en studente saamgeskryf het aan die stories van vroue uit so ʼn gemarginaliseerde  gemeenskap.

Ek sluit af deur die twee Afrikaanse digters wat ek vroeër genoem het, weer bymekaar te trek: ’n gedig van Van Wyk Louw, vertaal deur Adam Small, gedagtig aan die belangrikheid van vertaling in Anastasia se sienings, naamlik as ’n brug tussen gemeenskappe en kulture; en om haar te onthou en haar nalatenskap te laat voortleef.

Hul sal nie sterf, hul lewe het

in hierdie land so ingetrek

en ingeweek dat hul sal bly

so lank sy kranse bo die see

se lang skuimkringe uit sal staan,

afsonderlik en trots en vry!

They wil not die;

their life is drawn

so deep into this land, so steeped

in it, they wil remain, will be

for as long as the rocks rise up

from the foaming circles of the sea

apart, and proud, and free!

Prof. Steward van Wyk