Staatspublikasie van skoolboeke – Mpuka Radinku

Inleidend

Die “verbetering van die gehalte van basiese onderwys” is Uitkoms 1 van die Suid-Afrikaanse regering se Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (2014 tot 2019). Een van die prioriteite om hierdie doelwit te bereik, is groter toegang tot hoë gehalte leer- en onderrigondersteuningsmateriaal.

Die wetgewende verantwoordelikheid om basiese onderwys te verbeter, berus by die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en die nege Provinsiale Onderwysdepartemente (PDO’s). Sedert die implementering van nuwe kurrikulums in die post-apartheidsera, het die DBO en PDO’s saam met uitgewers, boekhandelaars en ander belanghebbendes gewerk met die doel om toegang tot hoë gehalte materiaal te verhoog om sodoende basiese onderwys te verbeter.

Onlangs het die verhouding tussen die DBO en sy uitgewersvennote egter al hoe meer gespanne geraak as gevolg van die toenemende implementering van ’n beleid van staatspublikasie. Staatspublikasie behels die skryf, ontwikkeling, publikasie en verspreiding van leer- en onderrigmateriaal deur die staat om bepaalde doelwitte te bereik. Hierdie praktyk ontneem die uitgewersbedryf van ’n ruimte om in werksaam te wees en beskadig sodoende die bedryf.  

Die ontwikkeling van staatspublikasie

Bewegings om staatspublikasie te implementeer, kan gekoppel word aan die mislukking van die DBO en die meeste PDO’s om, teen die einde van die 2000’s, te verseker dat alle leerders in die land toegang tot hoë gehalte kommersiële handboeke het. Hierna word verwys as universele toegang tot, of universele dekking deur, handboeke.

Die impuls vir staatspublikasie het ook voortgevloei uit nasionale konferensies van die regerende party in daardie jare. Uitgewers, onder die vaandel van die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA), het met staatsamptenare oor die onderwerp van staatspublikasie in gesprek getree om hul kommer oor hierdie beleidsrigting uit te spreek.

Deur die jare was die DBO se reaksie op uitgewers se bekommernisse dat dit nie die bedoeling was om kommersiële entiteite te ontneem van ’n ruimte om sake te doen nie, maar eerder om swakhede in die stelsel aan te spreek.

Die Departement Basiese Onderwys en staatspublikasie

So, wat dryf die DBO om ’n staatspublikasieprojek aan boord te neem al is hulle gewaarsku teen die risiko en ernstige negatiewe gevolge wat hierdie beleidsrigting vir die uitgewersbedryf inhou?

Toegegee, soos hierbo genoem, is die DBO verplig om hoë gehalte leermateriaal aan skole te voorsien as een van die vele strategieë om opvoedkundige uitkomste te verbeter. In Julie en November 2018 het die DBO PASA in kennis gestel dat hul noodgedwonge staatspublikasie implementeer weens die onbetaalbaarheid van handboekedie versuim om universele dekking te bereik wat hoë kwaliteit handboeke betref en die uitdagings van laat verspreiding van handboeke. Hierdie bekommernisse is reeds in vorige jare verwoord, soos in hierdie artikel aangedui: https://mg.co.za/article/2012-05-28-textbook-publishing

Uitgewers het nooit ontken dat die regering talle uitdagings in die gesig staar om hul verantwoordelikheid na te kom om basiese onderwys te verbeter nie. Wat uitgewers egter verbyster, is: Waarom is kommersiële uitgewers geïdentifiseer as die enigste fokusarea van dié resolusie terwyl daar soveel oorsake vir die genoemde uitdagings is? Die ooglopende onwilligheid van die Departement om uitgewers in hul vertroue te neem en ’n sinvolle dialoog te hê om hierdie uitdagings op te los, is ook ‘n punt om op te let. Uitgewers het voortdurend hul bereidwilligheid gekommunikeer, en in sommige gevalle met alternatiewe voorstelle gedemonstreer, om die geïdentifiseerde uitdagings aan te spreek, maar die aanbod vir samewerking is nie aangeneem nie. Die DBO het eerder haastig voortgegaan om ’n staatspublikasie-agenda te ïnisieer, wat werkboeke, wetenskap- en wiskundehandboeke sowel as leesboeke insluit.

Die jongste DBO-publikasieplan kondig aan dat daar voortaan een kernhandboek per vak ontwikkel en gedigitiseer sal word om gratis aan skole te versprei. Uitgewershandboeke is afgegradeer na “aanvullende materiaal” wat opsioneel vir skole sal wees. In elk geval sal daar nie aan skole fondse toegeken word om hierdie “aanvullende handboeke” aan te koop nie.

Uitgewers en staatspublikasie

Hoe moet die uitgewersbedryf in Suid-Afrika dan op die regering se plan reageer om werklike uitdagings aan die een kant op te los, maar in die proses een van die min lewensvatbare uitgewersbedrywe in Afrika te vernietig?

Eerstens, laat ons onsself nie mislei nie: die skuif na volledige staatspublikasie sal ’n slag vir die uitgewersbedryf wees. Verwag dat uitgewerye begin sukkel om inkomste te genereer wat sal lei tot werksverliese en moontlik deure wat sal sluit. Met ander woorde, soos een polisiehoof dit gestel het, finish en klaar.

Daar sal waarskynlik ook ‘n afname in die gehalte van handboeke wees – nie omdat mense wat staatsgepubliseerde handboeke produseer nie vaardig is nie, maar bloot omdat ‘n enkele instelling wat verantwoordelik is om alle handboeke te vervaardig, nie onder druk sal wees om te vernuwe of verder te gaan as waar hulle is nie. ’n Stelsel waarin verskeie, mededingende uitgewers handboeke produseer, lei dikwels tot ‘n verbetering in gehalte. Die afwesigheid van veelvuldige handboeke sal ook nie net die oorlewing van die uitgewersbedryf beïnvloed nie, maar ook kritiese opvoedkundige beginsels soos onderwyserskeuse, toepaslike leer- en onderrigmateriaal volgens plaaslike omstandighede en die behoefte om meer stemme en benaderings in leermateriaal te hê. Wie verwag ‘n enkele geskiedenishandboek om alle beskikbare perspektiewe te dek, die vele gebruike en interpretasies van bronne, asook die verskillende verteldrade?

Ek erken dat daar nie onbeperkte hulpbronne is om te kan voorsien aan ’n land met ’n geskatte bevolking van 57,7 miljoen mense (Stats SA) nie, maar die politieke wil om alle kinders van hoë gehalte handboeke uit ‘n verskeidenheid bronne te voorsien, is ‘n ideaal wat ons moet koester en bereik.

Moontlikhede vorentoe

Die regering en ander belanghebbendes in die onderwys, veral in die boeksektor, moet bymekaar kom om idees uit te wissel oor hoe bekostigbaarheid, kwaliteit handboeke, geskikte omkeertyd en universele dekking kan neerslag vind in ’n model wat die regering in staat sal stel om sy mandaat na te kom sonder om betrokke te wees by uitgewersbedrywighede wat nie deel van sy kernverantwoordelikheid is nie.

Die verslag van die Kommissie vir Openbare Dienste van 2016 oor leermateriaal, wat ongelukkig met die DBO saamstem oor die aanneem van ‘n een-handboek-beleid, het nogtans daarop gewys dat daar meerdere oorsake daarvoor is dat universele dekking nie bereik is nie. Geeneen van die oorsake kan tot ’n beleid van veelvuldige handboeke herlei word nie en geeneen van die oorsake kan toegeskryf word aan die feit dat handboeke deur nie-regeringsinstansies vervaardig is nie.

Uitgewers kan beslis idees oor enige regeringsvoorstel oor bekostigbaarheid bydra wanneer die regering voorleggings vra. Weens die Wet op Mededinging, kan die bedryf egter nie self ’n voorleggingsproses oor hierdie onderwerp inisieer nie. Verder kan uitgewers aan gesprekke oor kwaliteitskwessies deelneem en dit bevorder, aangesien dit aan die kern van die uitgewersbedryf is. Trouens, dit is deur die jare ’n deurlopende deel van die gesprekke tussen uitgewers en die regering se onderwysbeamptes, en dit sal so bly.

Die kritiese saak van universele dekking van handboeke is fundamenteel tot ons land se ontwikkeling en kwessies van transformasie. Die uitdaging is vir die regering en uitgewers om gemeenskaplike grond te vind om die uitdagings wat verband hou met die verskaffing van kwaliteit leermateriaal aan te spreek om sodoende basiese onderwys te verbeter.

Mpuka Radinku is die Uitvoerende Direkteur van PASA maar skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.