PEN Afrikaans AJV 2018: Bestuurdersverslag – Catrina Wessels

Goeienaand almal. Dit is vir my ’n groot plesier om hier te wees en om aan julle te kan verslag doen oor PEN Afrikaans se werksaamhede oor die afgelope jaar. Die volgende twee agendapunte, oor die Vertaalfonds en die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, sal ook in hierdie verslag aandag kry.

In Oktober verlede jaar het my lewe ’n onverwagse positiewe wending geneem toe ek die geleentheid gekry het om as bestuurder van PEN Afrikaans te kon inspring. Kort ná my aanstelling het die internasionale strekking van PEN se bedrywighede vir my duidelik geword. Die verskyning van The President’s Keepers en die gepaardgaande geskarrel aan regeringskant om deur dreigemente en boelie-taktiek die boek van die mark te laat onttrek, het hewige teenkanting op eie bodem ontlok en ook sterk ondersteuning vanuit die buiteland, met PEN International en PEN Swede wat die saak aan die groot klok help hang het.

Terugvoer oor PEN International-kongres

By die pas afgelope internasionale PEN-kongres wat van 24 – 29 September in Pune in Indië plaasgevind het, het die groot internasionale familie waarbinne ons ons bevind vir my konkreet geword. PEN is ’n enorme netwerk van skrywers en belanghebbendes vanuit al die hoeke van die wêreld; sommiges wat veel erger uitdagings in die gesig staar as waarmee skrywers hier in Suid-Afrika gekonfronteer word.

Martin Luther King Jr het gesê: “Injustice anywhere is a threat to justice everywhere.” Daarom mobiliseer die PEN-netwerk om die beginsels vervat in die PEN-handves wêreldwyd te bevorder. Die tema van vanjaar se kongres was “vryheid, waarheid en diversiteit”.

In ’n tyd wanneer onverdraagsaamheid blyk te groei, en sensuur, ook self-sensuur, volop is, is dit ’n riem onder die hart om deel te wees van so ’n sterk netwerk wat vryheid van uitdrukking, persvryheid, taalregte en outeurs se regte en welstand aktief nastreef.

Fiona van Kerwel het die kongres saam met my bygewoon en sal in ons volgende nuusbrief meer volledig verslag doen oor wat ons daar beleef het. Daar is onder andere ’n Global Language Park gestig waar afgevaardiges van al die verskillende PEN-sentrums ’n boom vir hul onderskeie tale kon plant. Ek en Fiona was trots om vir Afrikaans ’n boom te plant en ons hou duim vas dat ons vingers groen genoeg was dat die boom sal floreer.

Artikelreeks: Wat elke skrywer moet weet

Hierdie reeks is vanjaar deur PEN Afrikaans bekend gestel. Kenners skryf kort artikels oor regskwessies wat skrywers raak: van publikasie-ooreenkomste, tot laster, plagiaat, verhoogverwerkings en die opstel van ’n testament om vir die oordrag van outeursreg na erfgename voorsiening te maak.

Die bydraes is daarop gemik om skrywers in te lig en te bemagtig. Ons is dankbaar vir die bydraers se bereidwilligheid om hul kennis te deel en ons moedig skrywers aan om die reeks te raadpleeg.

Rubriekreeks: Boeke wat skrywers laat skryf

Boeke wat skrywers laat skryf is ’n reeks rubrieke wat in die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot verskyn. Dit word deur PEN Afrikaans aangebied en geborg. Rudie van Rensburg, Irna van Zyl en Jeremy Vearey het die eerste drie rubrieke van 2018 gelewer. Die doel is om die Afrikaanse boekjoernalistiek te bevorder en die kollig te plaas op die grootse impak wat boeke en skrywers op ander kan hê.

Taalgenoot is nie net ’n plesier vir die oog met hul treffende ontwerp en sterk visuele aanslag nie, maar inhoudelik bied hul gehalte-joernalistiek oor die Afrikaanse taal, kultuur en leefstyl. Die boeke-inhoud uit dié tydskrif word ook in PDF-formaat met vergunning van die redaksie op PEN Afrikaans se webportaal gepubliseer, aangesien dit andersins glad nie digitaal beskikbaar is nie.

Resensiekursus

Die resensiekursusse wat verlede jaar in samewerking met Netwerk24 en NB-Uitgewers aangebied is, is besonder goed ontvang. PEN Afrikaans sal weer ’n resensiekursus in samewerking met Netwerk24 aanbied, hierdie keer as deel van die Woordfees se 2019-boekprogram.

Die doel van dié kursus is om die Afrikaanse literatuurkritiek te bevorder deur nuwe resensente op te lei. Soos Koos Kombuis vroeër vanjaar in ’n rubriek oor die stand van die Afrikaanse literatuurkritiek gesê het: “Ons het resensente nodig. Hoe meer, hoe beter.”

Kerneels Breytenbach, voormalige uitgewer, skrywer, kranige resensent en oud-voorsitter van PEN Afrikaans, sal die kursus aanbied en kursusgangers touwys maak oor wat ’n goeie resensie onderskei.

Belangstellendes word aangemoedig om gou te spring as die kursus geadverteer word. Hou ons sosiale media-platforms dop.

Sosiale media

Die afgelope jaar het PEN Afrikaans se teenwoordigheid op sosiale media-platforms goeie groei getoon. Ons gehoor op Twitter het met 17% gegroei, terwyl ons Facebook likes ‘n groeikoers van 14% toon.

Kom kuier saam in die kuberruimte en bly op die hoogte van nuwe projekte en inisiatiewe.

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Ons gesels al ’n geruime tyd in vergaderings en in nuusbriewe oor die nou al berugte Wysigingswetsontwerp op Outeursreg wat ingrypende veranderinge ons land se kopieregwetgewing voorstel.

Nie net is die wetsontwerp se formulering uit verskeie oorde gekritiseer as so  ontoereikend en ondeurdag dat dit op ’n ramp afstuur nie, maar die beleidsrigtings wat in die wetsontwerp vervat is, is uiters kommerwekkend vir skrywers en uitgewers. Dit behels in wese ’n vermindering of verswakking van outeursregbeskerming en ’n beweging na vryer gebruik van outeursregwerke, in bepaalde gevalle sonder sprake van toestemming of vergoeding.

Op uitnodiging van die Departement Handel en Nywerheid, het PEN Afrikaans in Julie vanjaar kommentaar ingedien oor spesifieke bepalings in die wetsontwerp wat nadelig op ons lede kan inwerk.

Ons het advies van ’n outeursregkenner ingewin en het die volgende argumente en/of punte van kritiek in ons voorlegging gemaak:

  1. Die wetsontwerp, soos dit tans staan, is oop om in die Konstitusionele Hof aangeveg te word, omdat die inperking en opheffing van gevestigde regte op ’n vorm van onteiening sonder vergoeding neerkom. Die Konstitusionele Hof het al voorheen beslis dat intellektuele eiendom ongetwyfeld eiendom is en dieselfde grondwetlike beskerming geniet as ander soorte eiendom. Alhoewel die Grondwet vir onteiening voorsiening maak, is die omstandighede waarbinne onteiening mag plaasvind uiters beperk. Dit is ons mening dat ander roetes nie voldoende ondersoek is voordat die wysigingswetsontwerp die lig gesien het nie.
  2. Die uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg in die wetsontwerp is nie versoenbaar met die strekking van die internasionale konvensies oor outeursreg wat deur Suid-Afrika onderskryf is nie.
  3. Die wetsontwerp is nie in voeling met die werklikhede van die uitgewersbedryf nie. Dit verander aan bepalings waaroor daar, vanuit beide uitgewers- en skrywersgeledere, nie ongelukkigheid is nie. Dit krap spreekwoordelik waar dit nie jeuk nie en skep dus regsonsekerheid waar dit nie voorheen was nie.

Ek herhaal hier die slotparagaaf van ons voorlegging omdat dit ons posisie kortliks uiteensit:

PEN Afrikaans welcomes the revision of the Copyright Act but implores the legislature to consider the impact of the proposed provisions on the creative industries that authors are dependent on. It is our opinion that the Bill, as it stands, still does not pass muster on constitutional compliance, legal certainty, and on truly protecting and enhancing the interests of authors whose livelihood depends on the ability to commercialise their work.

Ons wag tans vir terugvoer oor volgende stappe, maar dit lyk of dit onwaarskynlik is dat die wetsontwerp hierdie jaar nog deur parlement gedruk sal word soos wat die voorneme was. Die reaksie uit die skeppende bedrywe was sterk en het gelei tot die stigting van die Kopieregalliansie, ’n liggaam waardeur rolspelers uit verskillende kreatiewe bedrywe ’n verenigde front gevorm het teen die wetsontwerp.

Ons sal ons lede op die hoogte hou van verwikkelinge en sal aanhou deelneem aan die proses om hopelik te verseker dat skrywersbelange deur die uiteindelike teks gedien sal word.

PEN Afrikaans Vertaalfonds

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het ten doel om die vertaling en publikasie van verdienstelike Afrikaanse literêre werke in die buiteland te bevorder deur vertaalkoste te subsidieer. Daar is twee sperdatums vir aansoeke in ’n kalenderjaar: 15 Mei en 15 November.

Die eerste twee rondes befondsingsaansoeke het ses Nederlandse vertalings van Afrikaanse boeke moontlik gemaak:

  • Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • Fees van die ongenooides deur PG du Plessis (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • Alles begin met Anna deur Annemari Coetser (Uitgeverij Mozaïek)
  • Die hemeltuin deur Karel Schoeman (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • Wonderboom deur Lien Botha (Zirimiri Press)
  • Slagyster deur Rudie van Rensburg (Uitgeverij Conserve)

Dit is verblydend dat so ’n groot verskeidenheid Afrikaanse werke hier gedek word: van ouer literêre werke, na Fees van die ongenooides, ’n roman wat deur vele as Die Groot Afrikaanse Roman geag word, na ’n debuutroman wat literêre pryse opgeraap het, na ’n topverkoper-speurroman. 

Soos Marga genoem het, is dit te verwagte dat daar danksy die sterk band tussen die tale veral uit Nederland belangstelling sal wees in die Vertaalfonds. Ons glo egter dat ons ook aansoeke uit ander taalgebiede sal ontvang namate buitelandse uitgewers bewus word van die Vertaalfonds.

’n Artikel oor die Vertaalfonds het vanjaar op Publishing Perspectives, ’n gewilde webblad oor internasionale boeke- en uitgewersnuus, verskyn. Volgende week by die Frankfurter Buchmesse sal buitelandse uitgewers ook in kennis gestel word van die moontlikheid om vir befondsing aansoek te doen.

Hierdie befondsingsmoontlikheid kan werklik die deurslag gee wanneer daar deur ’n buitelandse uitgewer gewik en geweeg word of dit lewensvatbaar is om ’n boek te vertaal en in hul mark te publiseer. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsigte en dankbaar vir die Trust vir Afrikaanse Onderwys se ruim finansiële ondersteuning wat dit meer moontlik maak om Afrikaanse skrywers ’n voet in die buitelandse deur te gee.

Bewusmakingsveldtogte en stellingnames

Ons het deur die jaar verskeie kere stelling ingeneem oor sake waar ons gevoel het dat dit aan die hand van ons visie, missie en mandaat van ons lede gepas was om dit te doen. Dit sluit in, soos Marga genoem het, stellingnames teen

  • die bedreiging van pers- en uitdrukkingsvryheid
  • die potensiële afskraling van moedertaalonderrig

PEN Afrikaans het vanjaar stelling ingeneem teen die taalklousule in die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys. Dit hou volgens ons ’n bedreiging in vir moedertaalonderrig en vir Afrikaans as voertaal. Ons stellingname is teen die sperdatum as amptelike kommentaar op die wetsontwerp by die Departement van Basiese Onderwys ingedien.

Ons het ook kommentaar ingedien oor die Konseptaalbeleid vir Hoër Onderwys, wat ’n bemoedigende stap in die rigting van meertaligheid verteenwoordig. Danie Marais sal verder oor taalregte uitbrei.

Hertzogprys vir drama

PEN Afrikaans glo dat dit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en die letterkunde sal strek indien die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Letterkundekommissie herbesin oor die publikasiekriterium vir die toekenning van die Hertzogprys vir drama.

Alhoewel daar ’n noemenswaardige opbloei in die Afrikaanse dramakuns is, kom die meerderheid van nuwe dramatekste nie in aanmerking vir die Hertzogprys nie, aangesien publikasie in boekvorm vereis word. Selfs met subsidies vir publikasiekoste is Suid-Afrikaanse uitgewers lugtig om dramas te publiseer. Die mark daarvoor is eenvoudig so klein dat dit nie winsgewend is nie. Dramas wat nie die nasionale voorskryflys haal nie word meerendeels teen ’n verlies gepubliseer. Daarom het plaaslike uitgewerye oor etlike dekades die hoeveelheid dramas op hul publikasielyste drasties verminder. 

Ons het ’n versoek aan die Akademie gerig om gesprekke met belanghebbendes in die teater- en die uitgewersbedryf te voer, moontlik deur die aanwysing van ʼn taakspan, ten einde die reglement te hersien om ʼn groter aantal (gepubliseerde en ongepubliseerde) dramatekste in te sluit of om maniere te ondersoek om meer dramatekste winsgewend gepubliseer te kry.

Die Akademie het positief hierop gereageer en ’n oop gesprek hieroor is vir volgende week geskeduleer.

Tuin van Digters

Laastens is dit baie aangenaam om vlugtig te vertel van twee sessies wat PEN Afrikaans in September by die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum in Wellington kon aanbied.

Met behulp van PEN International se Free the Word-program, wat befondsing aan PEN-sentrums toestaan, kon ons twee sessies aanbied wat die kollig op die veeltalige bloemlesing ConVerse geplaas het. ConVerse is gesamentlik deur InZync Poetry en die US Woordfees uitgegee en ons het die befondsing benut deur onder andere 100 eksemplare van dié merkwaardige bundel gratis aan feesgangers beskikbaar te maak.

In die gees van intertalige gesprekvoering is 15 opkomende digters wat in isiXhosa, Afrikaans en Engels werk, genader om gedigte by te dra wat by die tema van gesprekvoering aansluit. Die gedigte is in al drie tale by die bundel ingesluit.

Tydens Tuin van Digters het die digters hul werk kom voordra en ek glo dat dié wat daar was, sal saamstem dat daar hope talent en energie op die verhoog was.

Later die dag het Danie Marais in gesprek getree met van die samestellers en die bydraers tot die bundel. Hulle het gesels oor wat hulle geleer het deur die vertaalproses, oor die belang van vertaling, en sommer oor poësie in die algemeen.

Hierdie sessies het mooi aangesluit by ’n sentrale uitgangspunt van die PEN-handves, naamlik dat letterkunde geen grense eerbiedig nie en gemeengoed tussen mense moet bly.

Ten slotte

Dit was ’n vol eerste jaar by PEN Afrikaans en ek is dankbaar vir die geleentheid om hierby betrokke te wees. ’n Groot dankie ook aan die bestuur van PEN Afrikaans vir die gawe samewerking.

PEN Afrikaans is ’n lede-organisasie en ons wil diensbaar teenoor ons lede bly, so ons nooi julle uit om die vrymoedigheid te neem om ons te nader met terugvoer en voorstelle. Ons werk graag saam, ter wille van die Afrikaanse woordkuns.

Catrina Wessels

2 Oktober 2018


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.