Nuusbrief: September 2014

1.

Dit sal ’n aweregse humorsin verg vir iemand om te dink dat alles tans pais en vree is in Suid-Afrika, maar daar is darem iets op die program vandeesmaand waarna Afrikaanse skrywers kan uitsien: Aardklop. PEN Afrikaans se lede maak ’n sterk bydrae tot dié fees.

Aardklop is een van die min geleenthede waar ’n mens jou kan oorgee aan goeie toneelopvoerings en kan gaan luister na skrywers wat oor hul en ander se werk gesels. Diegene wat op pad is na Potchefstroom vanjaar, kan gerus probeer uitkom by die volgende:

  • Bidsprinkaan: Janice Honeyman se opvoering van Saartjie Botha se verwerking van die roman deur André P. Brink;
  • Bloed & Rose – Die lied van Jeanne en Giles: Tom Lanoye se teks, Marthinus Basson se regie, een van die sterkste rolbesettings wat die Afrikaanse teater in baie jare gesien het;
  • Die klaagliedere van ds. Tienie Benade: Frank Opperman op die verhoog, Dana Snyman is die skrywer, Gerrit Schoonhoven die regisseur;
  • Die seemeeu: Waarskynlik die opvoering wat die grootste gestoei vir kaartjies gaan afgee. Sandra Prinsloo en Marius Weyers vertolk die hoofrolle in Christiaan Olwagen se opvoering van die bekende Tsjechof-meesterwerk. Saartjie Botha het die verwerking en vertaling van die teks behartig.
  • Feeskatte: Christiaan Olwagen is die regisseur, Joanie Combrinck, Elsabé Daneel en Susanne Beyers is die akteurs.
  • Gepiekel: ’n Nuwe toneelstuk deur Schalk Schoombie. Regie: Henry Mylne.
  • Vir ewig en altyd: Die groot treffer van vanjaar se KKNK, met Sandra Prinsloo en Marius Weyers, en regie deur Hennie van Greunen.

 
En daar is meer – heelwat in ligter trant, insluitende die belangrike finaal van ATKV-Tienertoneel.

By die Boeke-Oase sal Tom Lanoye en Daniel Hugo op 8 Oktober ’n gesprek hê oorBloed & Rose; die opvoering van die Tsjechof-stuk Die seemeeu word ondersteun deur ’n gesprek met deelnemers Christiaan Olwagen (regisseur), Saartjie Botha (vertaler en verwerker) en lede van die geselskap (wat insluit Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kamper, Alyzzander Fourie en Rolanda Marais).

Ander skrywers wat optree, is Simon Bruinders, Hans du Plessis, Ilse Salzwedel, Marthie Maré, Wilna Adriaanse, Erika Murray-Theron, Anchien Troskie, Francois Smith, Tertius Kapp, Fransjohan Pretorius, Harry Kalmer, Danie Marais, Chris Karsten, Hennie van Coller en Chris van der Merwe.

Ek heg hierby aan die Aardklop-program, asook die Boeke-Oase se volledige program.
Geniet Aardklop!

2.

My klip in die bos oor Steve Hofmeyr en die Vredendalse fees het toe na my teruggekeer in die vorm van ’n rots. Baie dankie aan Max du Preez vir sy reaksie, asook al die ander lede wat gereageer het. 

Ek gee toe – Max se argument, wat ek onder lede gesirkuleer het, gee ’n baie meer gebalanseerde beeld van die konteks, en hoekom dit nodig is om ’n sterk standpunt daaroor in te neem.

Ek voel steeds dat sensuur hoog op ons agenda moet bly. Miskien is dit onvermydelik, as mens luister na wat die minister van onderwys en hoër opvoeding, Blade Nzimande, gemaak het oor die rol van Afrikaans by NWU.

3.

PEN Afrikaans se eerste groot boekeprojek het goed afgeskop. Ek sal in die komende weke self die laaste klomp boeke by skenkers oplaai, en later in Oktober sal Bettina Wyngaard, wat aktief betrokke is by die projek, die boeke oorhandig aan die Laerskool Dennegeur, wat tans geen biblioteekgeriewe het nie.

Baie dankie aan almal wat boeke geskenk het – dit sal hopelik help om die eerste liefde te wek vir lees, en veral Afrikaans lees by kinders wat vantevore geen kontak met die boekekultuur gehad het nie.

Daar kom nog projekte!

4.

Hartlik geluk aan Irma Joubert (Anderkant Pontenilo, Tussen stasies, Kronkelpad, Pérsomi en so meer) met die nuus dat die Universiteit van Pretoria haar gaan vereer met hul F.

Dit is die tweede groot verering wat haar vanjaar te beurt val. Sy is onlangs in Nederland bekroon met die Publieksprijs Christelijk Boek 2014 in die kategorie vir vertaalde fiksie.

5.

Nuwe publikasies – ek heg weer soos verlede maand ’n inventaris aan van al die nuwe titels wat in September in Afrikaans gepubliseer is.

Dit is interessant hoeveel kinderboeke daar in September verskyn het – aansienlik meer as die vorige maand. Oktober se lys sal beslis anders lyk – Kersfees lê voor die deur.

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

Klik hier om die Clover Aardklop Boeke-Oase-program af te laai
Klik hier om die volledige program van Clover Aardklop 2014 af te laai (1.5 MB)
Klik hier om die Excel-legger af te laai: Nuwe Afrikaanse boeke – Augustus 2014