Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
Skrywersprogram en Skrywerskamer by die Toyota US Woordfees (6 – 15 Maart)
Die Toyota US Woordfees skop vandag af en feesgangers kan kies en keur uit meer as 500 produksies op die feesprogram.
Die Skrywersprogram bied weer ryke verskeidenheid. Laai gerus die chronologiese dagprogram hier af om seker te maak dat jy niks boekpraatjies mis nie.
Alle lede van PEN Afrikaans en deelnemers aan die Skrywersprogram is welkom om in te loer by die PEN Afrikaans Skrywerskamer in die Ou Hoofgebou. Die deure sal van 7 – 14 Maart oop wees.
LAPA deur Penguin Random House SA aangeskaf
Daar is onlangs aangekondig dat Penguin Random House Suid-Afrika, ’n afdeling van Penguin Random House en die grootste Engelstalige uitgewer in Suid-Afrika, LAPA-Uitgewers by die ATKV aangeskaf het.
LAPA word hierdeur deel van Penguin Random House Suid-Afrika, maar behou sy naam, identiteit, leierskap, sakestrategie en personeel. Dié verkryging stel Penguin Random House Suid-Afrika in staat om sy plaaslike markaandeel te verhoog, sy posisie te verstewig en die reikwydte en diversiteit van sy publikasielys en titels te versterk.
Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.
Red Dog deur Willem Anker haal International Booker Prize se langlys
Red Dog, die Engelse vertaling van Buys deur Willem Anker, het die langlys van die International Booker Prize 2020 gehaal. Hierdie prys vereer die beste vertaalde fiksie wat in ’n gegewe jaar in die Verenigde Koninkryk of Ierland verskyn het. Die prysgeld word gelykop tussen die skrywer en die vertaler verdeel, aangesien die prys erkenning aan albei wil gee.
Hartlik geluk aan Willem Anker en Michiel Heyns met hierdie enorme eer.
Die kortlys sal op 2 April aangekondig word en die wenner op 19 Mei.
Klik vir meer inligting oor die prys, die vertaling en vir ’n onlangse onderhoud met Willem Anker.
Internasionele boekebeurse weens die koronavirus uit- en afgestel
Verdere nuus uit die internasionale boekebedryf is dat twee van die voorste boekebeurse, waar uitgewers en agente vanoor die wêreld byeenkom om publikasie-, vertaal- en filmregte te koop en verkoop, weens die kommerwekkende verspreiding van die koronavirus uit- of afgestel is.
Die Bologna Kinderboekbeurs wat van 30 Maart – 2 April in Bologna in Italië sou plaasvind, is voorlopig tot in Mei uitgestel, terwyl die Londense Boekebeurs wat van 10 – 12 Maart sou plaasvind, afgestel is en eers weer in 2021 sal plaasvind.
Wenners van LAPA-Uitgewers se jeugromankompetisie bekend
Hartlik geluk aan Fanie Viljoen, wat as algehele wenner van LAPA-Uitgewers se jeugromankompetisie aangewys is. Sy inskrywing, die distopiese jeugroman Offers vir die vlieë, sal na verwagting aan die einde van die jaar verskyn.
Baie geluk ook aan die naaswenners, Maretha Maartens en Jan Vermeulen.
Meer inligting is hier beskikbaar.
Aansoeke ingewag vir skrywersresidensie
Ons herinner graag dat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uitnooi om aansoek te doen vir die skrywersresidensie wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Skrywers kan vir ’n maand daar tuisgaan om aan ’n skryfprojek te werk.
Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 1 tot 27 Julie 2020, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.
Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 16 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za. Alle genres sal oorweeg word.
Klik hier vir volledige inligting.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2020
Dit is oudergewoonte ‘n plesier om af te sluit met die gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans