Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
Voorleggings ingewag: Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel
Dit is tyd vir die vyfde Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel. Die eerste vier bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.
Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfees-vennoot, borg weer in 2020 die R30 000 prysgeld wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Du Toitskloof maak ook ’n bydrae tot hierdie prysgeld en borg die bekendstellingsgeleentheid van die kortverhaalbundel, wat by die 2020 Toyota US Woordfees aangebied sal word.
Soos vanjaar sal een van die verhale in die 2020-bundel gekies word om as kortfilm deur kykNET vir die Silwerskermfees verwerk te word.
Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal by die Woordfeesprogrambekendstelling in November 2019 bekend gemaak word. Die wenverhaal asook die verhaal wat vir ‘n verwerking tot kortfilm gekies is, sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, gedurende die Toyota US Woordfees van 6-15 Maart 2020, aangekondig word.
Die sluitingsdatum is 30 September om 16:00.
Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.
Oproep: Perspektiewe op Breytenbach
By geleentheid van die tagtigste verjaardag van Breyten Breytenbach op 16 September 2019 word ’n digitale publikasie voorberei waarin die aandag uitgaan na afsonderlike gedigte in sy omvangryke oeuvre.
Die idee is dat gedigte uit hulle bundelkonteks gehaal word en aan ’n teksgerigte lesing onderwerp word. Hierdie versameling van tekste waarin enkelgedigte geïnterpreteer word, kan naas stiplees- of close reading-oefeninge byvoorbeeld ook tematiese, poëtikale of politiek-ideologiese interpretasies van enkelgedigte bevat.
Die interpretasies moet ongeveer 1000 woorde (uitgesonderd dié van die gedig wat bespreek word) beslaan. Die plan is dat die publikasie nie net multidissiplinêr nie, maar ook transnasionaal ingevul sal word.
Lesers en vertalers van Breytenbach se poësie, in Suid-Afrika en Europa, word dus uitgenooi om te fokus op ’n spesifieke gedig wat hulleself gekies het vir interpretasie.
Die tekste word in die week van die Breytenbach se tagtigste verjaardag op LitNet gepubliseer, moontlik later gebundel en ook in harde kopie gepubliseer.
Tydens die Tuin van Digters en later tydens die colloquium van die Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika (Universiteit Gent, 17–18 Oktober 2019) word die projek in die teenwoordigheid van die digter bekendgestel.
Voorstelle van ongeveer 100 woorde met vermelding van die gedig (en die titel van die bundel waarin dit oorspronklik verskyn het) wat geïnterpreteer gaan word, kan tot 15 Augustus aan Louise Viljoen (lv@sun.ac.za) en Yves T’Sjoen (Yves.TSjoen@UGent.be) gestuur word.
Die finale kopie word op die laaste op 5 September verwag.
Publikasie word beplan vir die week van 9 tot 16 September.
Werkswinkel: Kom slyp jou Afrikaans
(Her)ontdek ’n paar geheime van goeie geskrewe taalgebruik tydens die gesellige Kom-slyp-jou-Afrikaans-werkswinkel op Donderdag 5 September 2019 by die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg.
Dié werkswinkel, aangebied deur die talentvolle taalkenners Jana Luther van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Fred Pheiffer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), is gemik op die algemene publiek en taalpraktisyns. Dit sal fokus op taalverwikkelinge soos opgeneem in die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), asook algemene goeie praktyke, taalversorging, leestekengebruik en skryfwyses (vas of los; koppel- en deeltekens; hoof- of kleinletters), en so meer. Gereelde foute, soos woorde wat verkeerd gebruik of gespel word, sal behandel word en deelnemers kan ook vrae oor hulle eie taalprobleme vra.
Die werkswinkel kos slegs R250 per persoon en vind van 09:00 tot 13:00 in die konferensiesaal van die Besoekersentrum plaas. Ingesluit is koffie/tee/soetgoed asook ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese monument.
Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.
Aankondiging: Versindaba se nuwe inhoudsbestuurder
Versindaba het einde April sy tiende verjaarsdag gevier. Vir ’n dekade is dié inisiatief al ’n heenkome vir poësieliefhebbers. Ons lig ons hoed vir Marlise Joubert en Louis Esterhuizen vir hul jarelange toewyding aan hierdie belangrike ruimte.
Dit is onlangs aangekondig dat Marlies Taljaard voortaan inhoudsbestuurder van Versindaba sal wees. Ons wens haar hartlik geluk en alle voorspoed toe.
In memoriam
In Julie moes ons afskeid neem van ‘n skrywer en ‘n musikant wat nie net met hul kreatiewe uitsette ’n blywende indruk gemaak het nie, maar ook met hul menswees en benadering tot ander.
Die aangrypende huldeblyke wat ingestroom het by die afsterwe van Harry Kalmer spreek boekdele. Lees gerus wat skryf Marita van der Vyver op Vrye Weekblad en Schalk Schoombie op Netwerk24.
‘n Huldigingsgeleentheid word vir 16 Augustus beplan. Meer besonderhede is hier beskikbaar.
Nog ’n groot stem wat stil geword het, is dié van Johnny Clegg. Hy sal onthou word as ‘n musikant van formaat, maar ook as brugbouer en ambassadeur vir ons land.
Konstitusionele Hof-toetssaak oor taal
Groot belangstelling heers onder akademici en in onderwyskringe oor ‘n toetssaak in die Konstitusionele Hof rakende die kwessie van die reg tot onderrig in Suid-Afrika se inheemse tale op tersiêre vlak. Hierdie saak word Donderdag 8 Augustus 2019 in die Konstitusionele Hof in Johannesburg aangehoor.
Gelyke Kanse se persverklaring is hier beskikbaar.
Tuin van Digters 2019
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans sal vanjaar weer gratis toegang tot die Tuin van Digters kry. Die fees vind op 13 en 14 September plaas en die feesprogram sal eersdaags beskikbaar wees.
PEN Afrikaans sien uit daarna om op Saterdag 14 September om 10:00 ’n item op die program aan te bied en om 12:30 ons algemene jaarvergadering in die Wellington-biblioteek reg oorkant die Breytenbach-sentrum te hou. Ons hoop om soveel as moontlik van ons lede daar te sien. ’n Nuwe bestuur sal by die vergadering verkies word.
Ons sal weer volmagvorms beskikbaar maak vir diegene wat nie die vergadering kan bywoon nie. Ons vra ons opbetaalde lede om asseblief van die volmagvorm gebruik te maak om hul stemme te laat hoor – en om ’n kworum by die vergadering te verseker.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2019
Ten slotte is dit lekker om die maand se lys van nuwe Afrikaanse boeke te kan deel.
Hartlik geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir Augustus kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Mag die skryf- en leeswerk gedy.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans