Eerste suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds

Ná die eerste sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), is drie verdienstelike aansoeke toegestaan.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds sal die volgende drie vertaalprojekte befonds:

  • ’n Nederlandse vertaling van Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström
  • ’n Nederlandse vertaling van PG du Plessis se Fees van die ongenooides
  • ’n Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna deur Annemari Coetser.

Uitgeverij Aldo Manuzio, wat onlangs Karel Schoeman se Stemme-trilogie tot groot lof in Nederlands uitgegee het, sal Abjater wat so lag en Fees van die ongenooides publiseer.

Abjater wat so lag word ’n klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde geag. Dit het oorspronklik in 1991 verskyn en het beide die WA Hofmeyr-prys en die Hertzogprys ontvang. Volgens Joan Hambidge is dit “meesleurend, intiem, subtiel, pynlik en ’n roman wat binne die sub-genre van die belydenisliteratuur internasionaal kan meeding.”

Rob van der Veer, ’n vooraanstaande literêre vertaler, sal die Nederlandse vertaling behartig. Bestaande vertalings deur Van der Veer sluit in: Hierdie leweDie uur van die engel en Verliesfontein deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M Louw en Buys deur Willem Anker. Laasgenoemde is in samewerking met Karina van Santen vertaal. 

Riet de Jong-Goossens, bekroonde en hoogs ervare vertaler van onder meer Marlene van Niekerk, Dan Sleigh en Ingrid Winterbach, sal die Nederlandse vertaling van PG du Plessis se Fees van die ongenooides aanpak. Fees van die ongenooides, wenner van die ATKV-prosaprys en die Helgaard Steyn-prys, het oorspronklik in 2009 verskyn en het sedertdien al meer as 30 000 eksemplare verkoop. Dit is ’n aangrypende en geliefde roman wat die verhaal van twee families tydens die Anglo-Boereoorlog vertel. Die Nederlandse vertaling sal die eerste anderstalige uitgawe van dié pryswenner wees.

Uitgeverij Mozaïek, ’n afdeling van VBK Media, beoog om ’n Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna deur Annemari Coetser in 2018 te publiseer. Alles begin met Anna, ’n familiesage wat oor drie geslagte en twee oorloë strek, is in September vanjaar plaaslik uitgegee en word goed ontvang. Riet de Jong-Goossens sal die Nederlandse vertaling in samewerking met Bert Aquarius, vertaler van Hans du Plessis se werk, behartig. Met die Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna sal Annemari Coetser se werk vir die eerste keer in ’n ander taal gelees kan word. 

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Navrae kan gerig word na: penafrikaans@gmail.com


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.