Die kuns van vertaling: Michiel Heyns

Vertaling maak wêrelde aan lesers oop – van kinderboeke, fiksie, digkuns tot niefiksie. Die waarde van ’n vertaling lê in die vertaler se vermoë om ’n teks aan die doelteksleser oor te dra sodat dit moeiteloos en met die grootste plesier gelees kan word. Dit is daarom belangriker as ooit om die waarde van vertaling te erken en te vier, en wat is beter as om met die kunstenaars van vertaling te gesels. PEN Afrikaans doen in 2024 ’n reeks onderhoude met vertalers van verskillende genres om meer van hulle liefde vir dié kuns te hoor.

In hierdie aflewering beantwoord die bekroonde skrywer en vertaler Michiel Heyns ons vrae.

Vertel in een of twee sinne waar jou liefde vir vertaling ontstaan het.

Marlene van Niekerk het my gevra om ’n kortverhaal van haar te vertaal. Ek het dit gedoen, wat daartoe gelei het dat ek haar monumentale roman Agaat vertaal het. Die res het gevolg.

Het jy nog altyd geweet dat jy vertaling as beroep sou volg?

Nee, absoluut nie. Soos ek hierbo noem, dit was  amper net toeval.

Hoe lank is jy al ’n vertaler?

Twintig jaar.

Watter genre en taal/tale vertaal jy gereeld en hoekom?

Ek vertaal uitsluitlik uit Afrikaans na Engels, en ek verkies fiksie, wat hulle in Engels ‘literary fiction’ noem. (Ek het nog net een nie-fiksie boek vertaal.) Miskien omdat ek my lewe lank Engels doseer het, vind ek dat ek myself beter uitdruk in Engels as in Afrikaans, alhoewel Afrikaans my geboortetaal is. Ek glo tog dat ek toegang het tot die grein van Afrikaans wat ’n tweedetaalspreker dalk nie het nie. Die uitdaging is om die Engelse eweknie te vind.

Wat is jou gunstelingvertaling wat jy tot dusver aangepak het en hoekom?

Waarskynlik Agaat, deels omdat dit my eerste noemenswardige vertaling was, deels omdat dit so ’n ryk teks is. En dan, Van vaders en vlugtelinge van SJ Naudé was ook spesiaal. Maar ek was bevoorrreg om vele pragtekste te vertaal.

Wat is vir jou die belangrikste doelwit van jou vertaling wanneer jy daarmee besig is?

In die eerste plek om ’n baie noulettend akkurate weergawe van die Engels te skep. En dan om dit aan te pas by die register en idioom van die oorspronklike.

Wat, volgens jou, is eienskappe van ’n goeie vertaling?

Getrouheid nie net aan die letterlike betekenis van die oorspronklike teks nie, maar ook aan die styl van die skrywer, die ritmes en toonaard van die bronteks.

As jy nog een taal kon kies waarin jy graag sou vertaal, watter taal sou dit wees?

Afrikaans!

Hoekom, dink jy, is vertaling in die algemeen belangrik?

As ons glo dat letterkunde meer as net verstrooiing is, iets het om oor te dra aan die leser, is dit tog seker die moeite werd om ook ander kulture se waardes en nukke en smake te ervaar deur middel van daardie kulture se voorste interpreteerders. Noem dit ‘cultural exchange’ (kulturele kruisbestuiwing?).

As jy enige raad aan voornememde vertalers kon gee, wat sou dit wees?

Luister na die bronteks en luister dan na jou vertaling. Jy vertaal met jou oor net soveel as met jou oog. Gebruik ’n goeie woordeboek, maar baie omsigtig, self skepties. Wees getrou aan die bronteks, maar nie slaafs nie.