Die kuns van vertaling: Kobus Geldenhuys

Vertaling maak wêrelde aan lesers oop – van kinderboeke, fiksie, digkuns tot niefiksie. Die waarde van ’n vertaling lê in die vertaler se vermoë om ’n teks aan die doelteksleser oor te dra sodat dit moeiteloos en met die grootste plesier gelees kan word. Dit is daarom belangriker as ooit om die waarde van vertaling te erken en te vier, en wat is beter as om met die kunstenaars van vertaling te gesels. PEN Afrikaans doen in 2024 ’n reeks onderhoude met vertalers van verskillende genres om meer van hulle liefde vir dié kuns te hoor. Die onderhoudreeks skop af met Kobus Geldenhuys, bekroonde kinderboekvertaler.

Foto: Naomi Bruwer / LitNet

Vertel in een of twee sinne waar jou liefde vir vertaling ontstaan het.

Ek wou van kindsbeen af ander lande besoek en verskillende tale leer praat, want ek was nuuskierig oor mense en dinge in verre, vreemde lande. Ek besef nou dit was eintlik my eerste tree na die wêreld van vertaling.

Het jy nog altyd geweet dat jy vertaling as beroep sou volg?

As kind was die sirkus my passie en ek het op die wasgoedlyn geoefen om ’n koordloper te word. Later moes ek aanvaar ek is allesbehalwe atleties en toe gaan studeer ek tale en leer hoe om op ’n taalkoord te balanseer. Ek het nooit ’n formele kursus in vertaalkunde gevolg nie – dit het nie destyds bestaan nie! Ek het in die praktyk geleer en was gelukkig om te werk met redigeerders wat my hebbelikhede vinnig geïdentifiseer en geëlimineer het.

Hoe lank is jy al ’n vertaler?

Vandat ek op universiteit was. Ek besef nou dis al 45 jaar! Ná universiteit het ek vir my diensplig by die vertaalburo van die Vloot in Simonstad gewerk, en terselfdertyd begin oorklankingsvertaling doen in Seepunt. Ek was bevoorreg om Europese speurreekse soos Derrick en Baasspeurder Faber te vertaal, asook gevierde kontinentale dramas soos die Franse Subway. En dan ook wonderlike animasiereekse soos Heidi, Meneer Grootbek en Moemin.

Watter genre en taal/tale vertaal jy gereeld en hoekom?

Genres: Van Tolkien tot Coelho. Van Dahl tot Walliams. Van volwasse romans tot strokiesprente. Veral kinder- en jeugboeke, en spesifiek werke met ’n sterk komiese aanslag wat wemel van woordspelings en -speletjies, soos Hoe om jou draak te tem en Kaptein Onderbroek.

Tale: Afrikaans, Engels, Frans, Duits.

Wat is jou gunstelingvertaling wat jy tot dusver aangepak het en hoekom?

Dit was my nemesis én my gunsteling: Die heerser van die ringe (Tolkien). Daar is soveel om mee rekening te hou: die epiese styl, die odes en elegieë, die verskillende taalvlakke van verskillende karakters. Maar ek kan net so maklik die jongste David Walliams-boek vol kwinkslae en “onvertaalbaarhede” my gunsteling noem.

Wat is vir jou die belangrikste doelwit van jou vertaling wanneer jy daarmee besig is?

Hoofsaak is dat dit nie soos ’n vertaling moet lees nie. Ek redigeer, redigeer, redigeer. Om doodseker te maak die finale produk is toeganklik vir die leser en het reg aan die oorspronklike skrywer se werk laat geskied.

Wat, volgens jou, is eienskappe van ’n goeie vertaling?

Belangrikste van alles: Moet nooit ’n teks onderskat en as “maklik” ag nie. Verder die voor die hand liggende dinge: idiomatiese en gepaste taalgebruik, bly getrou aan die bronteks.

As jy nog een taal kon kies waarin jy graag sou vertaal, watter taal sou dit wees?

Koeterwaals!

Hoekom, dink jy, is vertaling in die algemeen belangrik?

Dit gee lesers toegang tot klassieke sowel as moderne werke van oor die wêreld heen. Dit maak deure oop en bevorder begrip en respek vir ander, dikwels vreemde, mense en kulture. Kinder- en jeugboeke dra ryklik by tot jong lesers se ervaringsveld en gee hulle ’n breër perspektief op die lewe.

As jy enige raad aan voornemende vertalers kon gee, wat sou dit wees?

Boekgeleerdheid en teorie is (soms) belangrik, maar op die ou end moet jy by die praktyk uitkom: Gaan sit en begin vertaal. Dan leer jy waar die (dikwels verskuilde) slaggate in ’n teks lê en ook waar jy as vertaler tekort kom en jouself verder moet uitdaag,

Foto: Netwerk24