PEN Afrikaans nooi ons lede uit om insette te lewer oor taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch. Hier is Breyten Breytenbach se kommentaar, wat hy op ons versoek gestuur het en wat ons met groot waardering deel. Hy reageer onder meer op die Departement Afrikaans en Nederlands se ope brief aan die rektor. Klik op die skakel vir die volledige brief.
Oral in die wêreld kom universiteite tans te staan voor oorlewingsprobleme en ’n bevraagtekening van hulle funksie in die oorgang van gemeenskapsgebaseerde hoër-onderwysinstellings grotendeels befonds en bemagtig deur openbare owerhede na navorsingsinstitute gefinansier deur en in diens van die plaaslike en internasionale privaatsektor. In hierdie aftakeling van wat die instansies vroeër beliggaam het en die “evolusie” na ’n nuwe paradigma word die geesteswetenskappe en lettere duidelik nie meer gesien as bindende faktore in die maak van ’n gedeelde grond vir veral gefragmenteerde gemeenskappe nie. Die geleentheid om volwaardig te ontwikkel tot ’n vrydenkende en eties-gefundeerde mens tussen haar of sy medemense is klaarblyklik nie meer die norm of selfs die bestaansrede van wat ons nog oudergewoonte “universiteite” noem nie. Daarby saam het institusionele onverdraagsaamheid en benepenheid in die boelie-gedaante van rassialisme, wokeness en ‘n cancel culture Kultur nie net die leer-instellings maar ook die groter gemeenskap soos ’n virus getref.
Ek het nooit enige formele verbintenis met Stellenbosch Universiteit gehad nie (and my other habits are clean too). Soos die meeste Afrikaanstalige skrywers was en bly ek egter trots op die gehalte onderrig en die kritiese omgang met kernkonsepte van die Departement Afrikaans aldaar – van hoe die nodige wordwoord in diepte bestudeer en krities aangegee kon word. Hulle kon kers vashou by enige soortgelyke instansie, ook internasionaal. Wanneer so ’n leerskool – as eerste en laaste skans teen verdomming en verontmensliking, téén die barbarisme van die buk-gedienstiges – oplaas kapsie maak teen die doodskrif aan die muur, spreek dit boekdele. Dat hulle, al is dit per implikasie en ook al kom dit seker te laat, die reaksionêre Bestuur in die glibberige bek ruk, strek tot hulle gesamentlike eer.
Die denkfout soos verteenwoordig deur dié wat eng en bekrompe is, is dat die wegdoen met die gegewe en die gawe van ons diversiteit sal lei tot ’n meer homogene en effektiewe eenheid terwyl presies die teenoorgestelde waar is – soos enige omgewingskenner en bioloog vir ons kan bewys. Selfs in ’n byna volledig gesentraliseerde Jakobynse staat soos Frankryk word die jongste amptelike vrystellings en voorskrifte betreffende die hantering van die wêreldwye pandemie nou reeds, behalwe vir die amptelike standaard Frans, in vier streekstale beskikbaar gemaak en gebruik. Mens lééf van tekstuur! Indien die huidige veronderstelde laissez-faire taalbeleid so moet voortgaan om soos te veel agteruitgang in Suid-Afrika ‘n fait accompli te word is ons aandadig aan ’n misdaad teenoor die toekoms. Maak dit dan nie saak dat Afrikaans en haar lewende variante, almal inheems ontstaan uit die vermenging van hoop en van ontbering, veel oper staan en baie meer kennis dra van die sogenaamd dominante Globish as wat andersom die geval is nie?
Ek is bewus daarvan dat die Afrikaanse Departement soos ook van die ander wat weerstand bied teen die kultuurmoord (maak nie saak hoe daar gelieg word om die meelopers en kollaborateurs se onaanvaarbare en dodelike beleid te bewimpel nie) nie iemand soos ek se steun nodig het om te weet wat reg en wat onverhaalbaar verkeerd is nie – en dat my ontsteltenis hulle saak miskien selfs skade kan berokken. En tog is ek bly dat hierdie geleentheid my gegun word om via ’n internasionaal erkende groepering van plaaslike betrokkenes by die literatuur – al die literature – PEN Afrikaans, vir wie die moedertaal ook die hartstaal is, sterkte en volharding en moed vir die stryd toe te wens aan die Department Afrikaans van daardie beskamende “universiteit”.