Toegang: ’n kortverhaalkompetisie aangebied deur PEN Afrikaans

Skrywers word hiermee hartlik uitgenooi om kortverhale in te skryf vir PEN Afrikaans se kortverhaalkompetisie 2022, wat met die ondersteuning van PEN International aangebied word.

Die breë tema van die kompetisie is TOEGANG en skrywers kan dié tema vanuit enige belewingshoek in hul kortverhaal belig.

Inskrywings sluit 1 Maart 2022 om 12:00.

Daar sal vyf (5) wenverhale aangekondig word, wat elk aanlyn gepubliseer sal word.

Die top drie verhale sal ook professioneel voorgelees en op RSG se Kortom uitgesaai word.

Die skrywers van die top drie wenverhale sal elk ’n kontantprys ontvang, wat moontlik gemaak word deur PEN International, sowel as ’n eksemplaar van PEN International: An Illustrated History, die bekroonde eeufeespublikasie van die wêreld se grootste skrywersvereniging.

  • Eerste prys: R6 000
  • Tweede prys: R4 000
  • Derde prys: R2 000

Stuur jou kortverhaal met ’n kort dekbrief na penkortverhaalkompetisie@gmail.com. Ontvangs sal binne 24 uur erken word. Verdere skriftelike navrae kan ook na hierdie adres gestuur word.

Ons sien baie uit daarna om jul inskrywings te ontvang.

Kompetisiereëls en riglyne: 

  • Die kompetisie is oop vir alle skrywers.
  • Slegs een inskrywing per skrywer sal in ontvangs geneem word.
  • Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word. Alle variëteite van Afrikaans is welkom.
  • Kortverhale moet uit 1500 – 3000 woorde bestaan.
  • Verhale moet die skrywer se eie, oorspronklike en ongepubliseerde werk wees. Indien die kortverhaal voorheen gepubliseer is, in enige formaat of op enige platform, sal dit nie vir die kompetisie in aanmerking kan kom nie.
  • Outeursreg van die verhale berus by die skrywers, maar PEN Afrikaans sal geregtig wees om die wenverhale aanlyn te publiseer en te versprei. Indien wenverhale later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan PEN Afrikaans sowel as volledige erkenning met publikasie. 
  • Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.
  • Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik jou naam en van en die titel van die verhaal as titel van die dokument (Byvoorbeeld: Catrina Wessels.Slot.docx). Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie. 
  • Inskrywings wat later as 12:00 op 1 Maart 2022 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie.