PEN Afrikaans by die Tuin van Digters – Mercy Kannemeyer

Mercy Kannemeyer (voor) en Jolyn Phillips (agter) | Foto: Naomi Bruwer

“as ek hulle pas en dan heg
aanmekaar las en dit vleg
laat ek tussen hulle spasies rus
maak dit ’n sin, nou maak dit dus sin”

— “boejong se kind” deur Rimestein

Die Tuin van digters-fees wat jaarliks in Wellington plaasvind, is altyd ’n hoogtepunt op boekliefhebbers se sosiale kalender. By die Breytenbach Sentrum kan feesgangers hulle verlekker aan voorlesings, poësie, musiek, kuns sowel as gesprekke met digters, skrywers en allerlei kunstenaars.

Tydens vanjaar se fees is ConVerse, ’n bundel moontlik gemaak deur die US Woordfees, ook bekendgestel. Die bundel het tydens vanjaar se US Woordfees op Stellenbosch verskyn. Digters wat deel vorm van die bundel is onder andere Rimestein, Siphokazi Jonas, Bibi Slippers, Nathan Trantraal, Adrian van Wyk, Pieter Odendaal, Jolyn Phillips en Koleka Putuma.

Siphosethu Phikelela | Foto: Naomi Bruwer

ConVerse bestaan uit eietydse Suid-Afrikaanse poësie wat in drie tale aangebied word – Xhosa, Engels en Afrikaans. Die vertalers was Pieter Odendaal, Annel Pieterse en Mbongeni Nomkhonwana.

Na afloop van die bekendstelling, waartydens sommige digters van hul werke voorgedra het, het Danie Marais in gesprek getree met Annel Pieterse, Jolyn Philips, Pieter Odendaal en Siphokazi Jonas waar hulle oor van die uitdagings en redes agter die bundel gesels het.

Marais het ter inleiding van hul gesprek genoem dat PEN International, waarvan PEN Afrikaans natuurlik deel vorm, vanjaar ’n reeks getitel Free the word aangebied het. Die doel daarvan was om letterkunde te bevorder, asook om die idee dat letterkunde geen perke het nie, te bevestig en te vier. Die letterkunde wil talle tale omarm en sodoende sorg vir samesmelting van verskillende mense en hul kulture.

ConVerse beoog om gesprek aan te wakker oor poësie en dit wat in die verlede as die norm vir poësie voorgestel is. Gesprekke rondom veeltaligheid, vertaling en dit wat nie maklik vertaal kan word nie, word ook deur die bundel belig.

Vir Pieterse, wat haar doktorale navorsing gedoen het oor “spoken word poetry” in Suid-Afrika, is die konsep van ConVerse en vertaling as navorsingsgebied interessant sowel as leersaam. Saam met die ander twee vertalers glo sy dat ’n gesprek geopen word tussen die drie tale en daarom is die bundel ook ’n positiewe stap in die rigting van veeltaligheid.

Tydens die interaktiewe vertaalproses wat gevolg is, kon die vertalers van die uitdagings saam aanpak. Van die uitdagings was idiome wat nie maklik vertaalbaar was nie of dalk kulturele verwysings wat verlore raak wanneer dit in ’n ander taal aangebied moet word. Dit is juis as gevolg hiervan dat die digters ook by die proses betrek is om seker te maak dat die boodskap wat hulle aanvanklik wou kommunikeer, steeds behoue bly tydens die vertaalproses.

Jonas sien vertaling as ’n saamwerkproses. Haar gedig “Making bread” is oorspronklik in Engels geskryf, en met die vertaling het die ironie van die gedig sterk na vore gekom. Die spreker in die gedig praat oor taal en die manier waarop taal gebruik word, sowel as oor hoe betekenis dikwels verlore gaan in die vertaalproses. Daarom was dit belangrik dat die bundel nie in isolasie vertaal is nie.

Interessante dinge is besig om in die Suid-Afrikaanse digterlike landskap te gebeur, meen Odendaal, wat onlangs sy poësiedebuut met “Asof geen berge ooit hier gewoon het nie” gemaak het. Die lyn wat daar bestaan het tussen sogenaamde “performance poetry” en geskrewe digkuns, is besig om te vervaag. Die idee dat jy ’n digter is slegs wanneer jy bundels publiseer, word deur jong stemme uitgedaag deur die idee te bevestig dat “performance poetry” net soveel waarde dra as die geskrewe gedigte.

Die bundel bied lesers die geleentheid om van ander tale en kulture te leer deurdat digters van verskillende kultuur- en rasgroepe in dieselfde bundel verskyn. Die bundel skep ’n beeld van ’n eietydse Suid-Afrika en die manier waarop ons almal se lewens begin vervleg raak. Niemand kan meer in isolasie voortbestaan nie en dis presies dieselfde met taal. PEN Afrikaans, in samewerking met digters en vertalers, kry dit reg om die leser op ’n manier na taal te laat kyk wat nog meer moontlikhede vir veeltaligheid aanwakker.

Ons tale kan nie alleen groei nie, en die bundel maak my, as iemand met ’n groot voorliefde vir Afrikaans, en meertaligheid, opgewonde, want dit bevestig die norm dat dit wat ons elkeen vir ons moedertaal wil hê, ons ook vir ons landsgenote se moedertale moet gun. Die tyd om saam te groei, saam te gesels en saam te bou het aangebreek.

Philips het aan die einde van die gesprek gevra of ons werklik besig is om met mekaar te praat en of ons werklik besig is om ook te luister. ConVerse is ’n positiewe stap in die rigting van ’n meer kohesiewe samelewing. Dit heg en vleg verskillende mense aan mekaar, en bied sodoende geleentheid vir lesers om oor ons verskille en ooreenkomste as landgenote te besin.


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.