Nuusbrief: Junie 2019

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Hester Kruger

PEN Afrikaans kondig met trots drie nuwe suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat moontlik gemaak word deur finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), aan. Na oorweging van die aansoeke wat teen die Mei 2019-sperdatum ontvang is, sal die volgende drie vertalings befonds word:

  • ’n Franse vertaling van ’n keur uit Ronelda Kamfer se werk
  • ’n Franse vertaling van Chokers en survivors deur Nathan Trantraal
  • ’n Nederlandse vertaling van Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger.

Éditions Caractéres sal ’n Franse vertaling van ’n keur uit Ronelda Kamfer se bundels (Noudat slapende honde, grond/Santekraam en Hammie – almal Kwela Boeke) uitgee. Pierre-Marie Finkelstein, vooraanstaande literêre vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman, sal die vertaling behartig. Éditions Caractéres is in 1950 gestig en is ’n gerekende uitgewer van onder meer essays, poësie, romans en kunsboeke. Die uitgewery is ook bekend vir sy kunsuitstallings en skrywersbyeenkomste en beoog om ook byeenkomste rondom Kamfer se poësie te reël. Kamfer se werk het voorheen tot groot lof in Nederlandse vertaling verskyn (Uitgeverij Podium), en haar bundel grond/Santekraam is ook onlangs in Italiaanse vertaling uitgegee (Raffaelli Editore). Dit is die eerste Franse vertaling van haar werk.

Nathan Trantraal se 2013-debuutbundel Chokers en survivors (Kwela Boeke) sal binnekort vir die eerste keer in vertaling gelees kan word. Éditions LanSkine, ’n onafhanklike uitgewery wat sedert sy totstandkoming in 2008 meestal poësie publiseer, beoog om die Franse uitgawe in November 2019 die lig te laat sien. Die vertaler is Pierre-Marie Finkelstein. Chokers en survivors het aan Trantraal in 2015 die Ingrid Jonkerprys besorg en is deur die beoordelaars geloof as “aangrypend, eerlik en sonder enige sentimentaliteit.”

Uitgeverij Mozaïek, ’n gevestigde uitgewer van verskeie Afrikaanse skrywers in Nederlandse vertaling, sal Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger (Human & Rousseau) in Nederlandse vertaling uitgee. Gerda Lok-Bijzet is vir die vertaling verantwoordelik, wat na verwagting in Oktober 2019 in beide gedrukte en e-boekformaat sal verskyn. Die boek handel oor die belewenis en gevolge van ’n plaasaanval en word deur Antjie Krog as ’n “buitengewoon meesleurende leeservaring” beskryf. Een nag en ’n bietjie is Hester Kruger se debuut. “Dis ’n dun boekie, maar die implikasies van hierdie teks het ’n enorme reikwydte,” skryf Joan Hambidge in ’n resensie. 

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Klik hier om hierdie verklaring verder te kan versprei.

Joernalis Karima Brown wen saak teen die EFF

Die hooggeregshof in Johannesburg het ten gunste van die politieke joernalis Karima Brown beslis in ’n saak wat sy teen die Economic Freedom Fighters (EFF) gebring het. In wat bestempel word as ‘n oorwinning vir mediavryheid en die heil van veral vroulike joernaliste, het die hof bevind dat die EFF die verkiesingskode oortree het en die koste van die regsgeding moet dra.

Die saak spruit uit die partyleier Julius Malema se publikasie van Brown se selfoonnommer op Twitter en die teistering en skokkende dreigemente waaraan sy daarna onderwerp is. PEN Afrikaans het standpunt ingeneem teen dié onaanvaarbare gedrag en verwelkom die nuus oor die hofuitspraak.

Meer inligting is hier beskikbaar.

NB-Uitgewers internasionaal vereer

NB-Uitgewers is onlangs aangewys as ontvanger van die Jeri Laber International Freedom to Publish Award, wat jaarliks deur die Amerikaanse uitgewersvereniging toegeken word. Die prys is aan NB-Uitgewers toegeken vir die publikasie van The President’s Keepers deur Jacques Pauw. Dit gee erkenning aan die durf en doelgerigtheid waarmee die uitgewer die boek uitgegee en die skrywer ondersteun het te midde van dreigende regstappe en ander vorms van intimidasie.

Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, se aanvaardingstoespraak is hier beskikbaar.

Baie geluk aan NB-Uitgewers!

Leesstof uit Taalgenoot se Somer 2019-uitgawe

Baie dankie aan die Taalgenoot-redaksie wat dit vir PEN Afrikaans moontlik maak om die taal- en boekverwante inhoud uit dié bekroonde kwartaallikse tydskrif se Somer 2019-uitgawe te deel. Die tema van die uitgawe is: “Wees bevrees!” Klik hier om die leesstof gratis in PDF-formaat af te laai.  

Daar is onder meer artikels oor politieke bangmaakstories en literêre spookstories, ’n rubriek deur SJ Naudé oor die boeke wat hom beïnvloed het, en ’n gedig deur Clinton V. du Plessis, wie se nuwe digbundels, Verslag en Comrades, eks-kamermaats & counter-revolutionaries, onlangs verskyn het.

Voorleggings ingewag vir kykNET en M-Net se draaiboekkompetisie

Skrywers word uitgenooi om deel te neem aan Draaiboeksoek, kykNET en M-Net se draaiboekkompetisie. Stuur ‘n oorspronklike draaiboek vir ‘n speelfilm teen 5 Julie 2019 in en kom so in aanmerking vir ‘n kontantprys van R20 000 en die moontlikheid om die storie by die Silwerskermfees te sien skitter.

Alle skrywers ouer as 18 kan inskryf. Daar is geen voorskrifte ten opsigte van die genre nie. Dit moet slegs ‘n oorspronklike Afrikaanse storie wees. ‘n Paneel kenners sal die aansoeke beoordeel.

Klik hier vir meer besonderhede.

Die wêreld van die skrywer: EKM Dido en Jolyn Phillips oor hul pad na debuteer

In hierdie aflewering van ons artikelreeks oor die wêreld van die skrywer het ons twee skrywers gevra om oor die volgende vrae te besin:

Watter gebeurtenis(se) en/of individue het daadwerklik daartoe bygedra dat ’n skrywer kon debuteer, of aangemoedig gevoel het om aan ’n eerste manuskrip te begin werk? Watter geleenthede was van onmisbare waarde om te groei en nuwe rigtings in te slaan?

Hier is EKM Dido en Jolyn Phillips aan die woord.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2019

Hartlik geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte bring ons hulde aan drie groot bome wat onlangs geval het: Cloete Breytenbach, Piet Botha en Raymond Louw. Hulle het die wêreld verryk en verruim. Ons meegevoel aan hul naasbestaandes in hierdie tyd.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans