Beste lede en ondersteuners van PEN Afrikaans
PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds meeste vertalings nog

Werk van Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach, Chris Barnard, Dan Sleigh en Lindie Koorts sal binnekort in vertaling beskikbaar wees.
Die derde sluitingsdatum vir befondsingsaansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat daarop gemik is om die vertaling en buitelandse publikasie van Afrikaanse werke te bevorder, is in November verstreke en het verskeie verdienstelike aansoeke opgelewer.
Te danke aan die ruim finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sal daar hierdie keer vyf vertalings deur die Vertaalfonds befonds word:
- ’n Franse vertaling van ’n keur uit Die singende hand en die na-dood deur Breyten Breytenbach
- ’n Kroasiese vertaling van Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk
- ’n Nederlandse vertaling van Danda deur Chris Barnard
- ’n Nederlandse vertaling van 1795 deur Dan Sleigh
- ’n Nederlandse vertaling van DF Malan en die opkoms van die Afrikaner-nasionalisme deur Lindie Koorts
Éditions Bruno Doucey, ’n gerespekteerde uitgewer van veral poësie, sal ’n Franse vertaling van ’n keur uit Die singende hand en die na-dood deur Breyten Breytenbach publiseer. Die vertaling sal in Frankryk beskikbaar wees, maar ook in Switserland, in België en in Quebec. Die gerekende vertaler Georges Lory sal die vertaling doen. Ander skrywers wie se werk hy na Frans vertaal het, sluit in Antjie Krog, JM Coetzee, Dominique Botha en Deon Meyer.
Uitgeverij Bornmeer Noordboek sal ’n Nederlandse vertaling van DF Malan en die opkoms van die Afrikaner-nasionalisme deur Lindie Koorts publiseer. Hulle beoog om die vertaling in Oktober 2019 op die rakke te hê. Volgens die uitgewer is daar groot belangstelling in dié biografie by beide die akademiese en breër leserspubliek. Hermann Giliomee beskryf die biografie as ’n uitstekende, dikwels boeiende werk. Die vertaler is Dorien de Vries.
Lector d.o.o., ’n relatief jong uitgewery wat op vertaalde fiksie fokus, beoog om ’n Kroasiese vertaling van Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk teen September 2019 die lig te laat sien. Die vertaler Toni Bandov, wat gewoonlik uit Nederlands vertaal, sal in hierdie geval direk uit die Afrikaans werk. Die sneeuslaper is ’n versameling verhale wat ’n besinning oor die skryfkuns as prominente tema het. Dit het aan Van Niekerk die UJ-prys vir beste skeppende skryfwerk besorg.
Uitgeverij Aldo Manuzio voeg die volgende romans by hul groeiende lys Nederlandse vertalings van Afrikaanse romans: die jeugroman Danda deur Chris Barnard en 1795 deur Dan Sleigh, ’n roman wat volgens Thys Human ’n byna ongeëwenaarde bydrae tot historiese fiksie in Afrikaans lewer.
Dan Sleigh het met 1795 verskeie literêre pryse losgeskryf: die W.A. Hofmeyrprys vir Afrikaanse fikse, die ATKV-prosaprys en die SALA-romanprys. Dit is ook as die wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Roman-wedstryd aangewys. Die Nederlandse vertaling sal deur Riet de Jong-Goossens en Bert Aquarius gedoen word. De Jong-Goossens het voorheen ook Sleigh se Eilande in Nederlands vertaal.
Michiel Angenent sal verantwoordelik wees vir die Nederlandse vertaling van Danda deur Chris Barnard, een van die klassieke jeugverhale in Afrikaans. Dit sal sy tweede vertaling van ’n jeugroman uit Barnard se pen wees. Die Nederlandse vertaling van Voetpad na Vergelegen het by Uitgeverij Mozaïek verskyn.
Dit is verblydend dat die PEN Afrikaans Vertaalfonds die vertaling van verskeie genres na verskeie tale kan ondersteun. Die sentrale doelstelling van dié fonds is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
Die reglement met meer volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/
Klik hierom die verklaring verder te kan deel.
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg is deur die Nasionale Vergadering aanvaar
Die Nasionale Vergadering het op 5 Desember 2018 die hoogs kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aanvaar. Dít kom ten spyte daarvan dat duisende besorgde skrywers, belanghebbendes en organisasies verenig het om die wetgewer te vra om die aanvaarding te heroorweeg aangesien dit rampspoedige gevolge kan hê.
In die Nasionale Vergadering het die meerderheidstem ironies genoeg volgehou dat die wetsontwerp skeppers van outeursregwerke sal bevoordeel. Dit is ons, en menigte ander instansies, se oorwoë mening dat dit hoegenaamd nie die geval is nie.
’n Billike balans tussen die belange van die outeur en die belange van die publiek is sentraal tot ’n effektiewe outeursregstelsel. Ongelukkig bereik die wetsontwerp nie ’n billike balans nie. Dit stel die belange van die publiek, oftewel die sogenaamde ‘gebruikers’ van outeursregwerke, voorop deur die instel van ‘fair use’ asook nuwe algemene én spesifieke uitsonderings op outeursregbeskerming – onder andere vir opvoedkundige doeleindes.
Ons is dit met die wetgewer eens dat meer gedoen moet word in die opvoedkundige sfeer, maar die verreikende verswakking van outeursreg wat die wetsontwerp aan die hand doen, is nie die manier om voort te gaan nie.
Een ding waaroor daar nie onsekerheid in die toekoms sal wees nie, is of Suid-Afrikaanse skrywers, uitgewers en skeppende bedrywe hul stem hieroor laat hoor het. Baie dankie vir die aktiewe deelname aan die protesaksie wat deur PEN Afrikaans, PEN South Africa en ANFASA (Academic and Nonfiction Authors’ Association of South Africa) van stapel gestuur is. Die grootskaalse steun daarvan sê baie.
Die stellingname en petisieteks wat die grondslag van die protesaksie was, is hier beskikbaar. ‘n Persverklaring oor die oorweldigende ondersteuning daarvan is hier te lese.
Die volgende stap is vir die wetsontwerp om aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê te word vir goedkeuring voordat dit na die President gaan vir ondertekening. Wanneer dit presies sal gebeur, is nog onseker. Ons sal ons lede op hoogte hou van verwikkelinge.
‘n Artikel oor Izak de Vries
Daar het in November ’n artikel oor Izak de Vries verskyn wat ons graag in hierdie nuusbrief deel. Hy word daarin tereg beskryf as ’n boekemens wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Ons is bly dat hy deel van PEN Afrikaans se bestuur is.
Die stuk is hier beskikbaar.
Leesstof uit Taalgenoot se Lente 2018-uitgawe

Baie dankie aan die Taalgenoot-redaksie vir die versameling artikels wat ons hier kan deel.
Lees oor geskiedenis as vak, jong digters om van kennis te neem, oudioboeke, en die eerste swart skrywer wat ’n roman in Afrikaans gepubliseer het. As deel van PEN Afrikaans se Boeke wat skrywers laat skryf-rubriekreeks vertel Jeremy Vearey meer oor sy reis as leser en oor boeke wat hom as skrywer gevorm en geïnspireer het.
Dié leesstof kom uit Taalgenoot se Lente 2018-uitgawe, met die breë tema van “revolusie”.
Die artikels kan hier in PDF-formaat afgelaai word.
Staatspublikasie van skoolboeke

Mpuka Radinku, uitvoerende direkteur van die Uitgewersverenging van Suid-Afrika (PASA), vertel in hierdie artikel meer oor die staat se beleid om voortaan slegs een kernhandboek per vak voor te skryf – en om daardie boek ook self uit te gee.
Hierdie beleidsrigting is kommerwekkend vir skrywers en uitgewers wat die opvoedkundige mark van handboeke, leesboeke en onderrig- en leermateriaal voorsien. Dit hou ’n groot bedreiging vir die plaaslike uitgewersbedryf in. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg laat juis veel vryer gebruik van outeursregwerke vir opvoedkundige doeleindes toe.
Die bestuur van PEN Afrikaans het gevoel dit is belangrik om ons lede hiervan in te lig.
Ons dank aan Mpuka vir die artikel oor staatspublikasie.
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2018
Die nuusbrief sluit soos gewoonlik op ’n vreugdevolle noot: met die lys van nuwe Afrikaanse publikasies wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
Die publikasielyste vir Desember kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Daarmee kom ’n vol jaar tot ’n einde. Dankie aan ons lede vir die verhale, gedigte, resensies, rubrieke, navorsing, artikels en stof tot nadenke uit jul penne. Dankie vir die deelname en bydraes wat ons in staat stel om ’n produktiewe en dinamiese vereniging te wees.
Mag dit ’n goeie feestyd wees en alles wat mooi is vir 2019.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans