Hoe wink mens ’n vreemdeling nader om jou na ’n onbekende onwerklikheid te volg? Deur die bekende werklikheid in te span. Jy laat hom glo die wildernis is mak. Jy skets alles wat hy herken in die fynste besonderhede en gee veral erkenning aan sy eg-menslikheid. Jy stel gerus, laat hom veilig voel. Lank nadat hy die drumpel oorgesteek het, maak die bome agter hom toe en die goëlkuns begin. Subtiel – ’n serp wat ritsel al is daar geen wind nie. Het hy hom dit verbeel? Terwyl hy jou een hand dophou, konkel jy met die ander hand. Jy kies die oomblik van oëverblindery versigtig – jy weet ’n kulkunstenaar se toertjies is slegs betowerend vir die een wat nog nooit ’n ware Bergengel beleef het nie, net soos ’n plantasie slegs mooi is vir hom wat nog nooit in ’n ware woud was nie. Jou doel is om hom al verder weg te lei tot by die Bergengel in die waaragtige woud. Jy wil hom in wonderwerke laat glo soos in vuurwerke: Hy hoef nie te weet hoe plofstof werk om die lig en krag daarvan te herken nie.
Die Bergengel-boekreeks (’n trilogie waarvan die laaste deel in twee aflewerings verskyn, of ’n vierluik of tetralogie) handel oor die pelgrimsreis van ’n jong Bergengel-in-wording, Eron Verberger. Dit vertel die verhaal vanaf sy geboorte tot sy een-en-twintigste jaar en bestaan uit die Die Bergengel, Die Wonderwese, Die Waterplek: Afrika en Die Waterplek: Gabriëllië en het tussen 2017 en 2024 by Protea Boekhuis verskyn.
Lesers wonder dikwels in watter stal my wilde hings tuishoort. In ’n LitNet Akademies-resensie maak dr Elzette Steenkamp melding van “spekulatiewe fiksie, allegorie, magiese realisme, bildungsroman en ekokritiek, asook die verwewing van natuur, bonatuur en die menslike elemente. Dit gee ’n intelligensie en literêre diepte wat die roman verhef tot een met meer om die lyf as ’n blote fantasievlug.” Ook skryf sy: “Spekulatiewe fiksie word dikwels as ’n breë term ingespan om fiksie wat bonatuurlike, futuristiese of fantasie-elemente bevat, te omskryf. In hierdie sin is Die Bergengel wel spekulatief: Die verhaal bevat beide bonatuurlike en fantasie-elemente. Die roman het egter meer gemeen met die literêre tradisie van magiese realisme soos gesien in die werke van Gabriel García Márquez, Isabel Allende en Kahlil Gibran. Die Bergengel ontwyk ’n maklike definisie en speel ook op die tradisie van die sprokie, Joseph Campbell se The Hero’s Journey, Bybelverhale en reismistiek in.”
Genreverwagting maak dit vir lesers makliker om die brug na die onbekende oor te steek, dit gee ’n vashouplek. Maar hier stuur ek ’n warrelwind deur die woesterny en keer die perdekar onderstebo: My verhaal druis teen talle genrekonvensies in. Anders as met suiwer fantasie, word my alternatiewe wêreld nie deur trolle, elwe of drake bewandel nie – hoogstens deur gewone mense wat hulle soos trolle, elwe of drake gedra. Die filosofie van nie-gewelddadige verset is ook heel ontipies vir fantasie en wanneer geweldsoorlog wel uitbreek is dit ’n tragedie eerder as triomf. Die heldereis is dikwels sonder ’n heldhaftigte held. Hier is spore van die volwasse sprokie, maar ek waarborg geen gelukkige einde nie, deugde word nie aldag beloon nie en skuldiges loop skotvry. So word die eerbare vaderfiguur Gibor deur ’n ryk boer omgekoop om ’n slaweklok te giet en die gewelddadige kaptein van die Perdeweermag word die leier van ’n weeshuis se veiligheidsprogram. Veral Eron Verberger, Velvel Azazel en Talia se karakters wissel konstant tussen donker en lig. Die ruggraat van die verhaal is die lewenstrewe van Eron. Dis ’n soort “coming of age”-verhaal, maar geensins ’n jeugboek nie, daarvoor is die komplekse verhaallyn, buitensporige geweld en seks eens te veel. Moontlik ís dit magiese realisme: ’n realistiese uitbeelding van die werklike wêreld met ’n onverwagse verskyning van die magiese of bonatuurlike, ’n buitengewone oomblik in ’n doodgewone dag. Of dalk is dit ’n allegorie sonder ’n eenvoudige lewensles. ’n Mooi woordverklaring vir allegorie is “uitgebreide metafoor”. ’n Metafoor bring konsepte byeen wat voorheen vreemd was vir mekaar en skep ’n nuwe beelding, ’n moontlike wêreld. So gesien is Die Bergengel-boekreeks ’n uitgebreide metafoor, ’n gedig van bykans ’n halfmiljoen woorde. Dis dan hoe dit is – ek kon die digkuns nie afsterf nie.
Die proefskrif
’n Doktorale student aan die Universiteit van Pretoria, Mimie de Vries, se proefskrif onder leiding van prof Willie Burger getiteld “Wêreldskepping in Afrikaanse spekulatiewe fiksie: Die Bergengel en Die Wonderwese deur Carina Stander” het ’n paar van my kulkunsies aan my geopenbaar, veral: “Uitbeelding van uitsonderlike kulture in sekondêre wêrelde is ’n vervreemdingstegniek waar stereotipering grootliks nie kan plaasvind nie omdat die vreemde kultuur nie geplaas is binne die sosiale konteks van die primêre wêreld nie.” Voorts lys Mimie die gereedskap wat ek gebruik om ’n unieke wêreld te skep, lesers aan te moedig om die grens te kruis en al lesend die medeskeppers van dié wêreld te word, soos:
- Die paratekste dien as voorportale. Die simbolies gelaaide inksketse op die voorplatte en die landskaarte is “’n argument dat ’n verbeeldingsplek bestaan”. Die voorwoorde met die fonetiese transkribering en pseudo-akademiese woordverklarings kom oortuigend voor.
- Impressionistiese natuurbeelding (die natuurskoon en -vergrype) skep ’n sterk emosionele belewenis by die leser.
- Taal dra by tot die wêreldsiening deur byvoorbeeld die herhaalde gebruik van sekere spreuke, raaisels en profesieë asook die sterwende Oudnabiese dialek wat op eietydse taaluitwissing dui.
- Naamgewing van karakters en plekke eggo iets van die bekende, maar is gelaai met simboliek, speelsheid en misterie.
- Die mitologie en magiese sisteem het ’n onderliggende logika wat lesers help met die “opskorting van ongeloof.”
- Die hoofkarakter as gewone mens vergemaklik vereenselwiging.
Mimie de Vries is nie verkeerd nie: Ek sien lesers as medeskeppers, medereisigers en medepelgrims wat sedert 2017 die langpad deur Gabriëllië saam met my stap. Ek noem ’n paar truuks wat ek wetend en onwetend gebruik het om die wêreld vir my lesers leefbaar te maak:
Reisomswerwinge en herverbeelde geografie
In Roland Barthes se Mythologies (1957) is ’n hoofstuk “The writer on holiday”. Die skrywer op vakansie is ’n mite. Skrywers kom nie tot rus nie. Ons is aasdiere, ons lê alewig op loer. Die afgelope twee dekades het ek sowat driehonderd reisartikels geskryf. Deur reisjoernalistiek het ek die vaardigheid gekweek om oplettend te skryf oor praktiese goed wat ’n reis beïnvloed soos klimaat en die vreemde geite van elke gemeenskap. Vir die boekreeks het ek die reisplekke herverbeel en herrangskik op ’n manier wat logies sin maak. Ek het my meganiese ingenieur man gevra om my te help om die presiese tye uit te werk wat dit sal neem om per voet, moltrein, bogrondse trein, perd, fiets of seilskip deur my verbeeldingsland te reis. Ek het sowaar geen landskap betrek wat ek nie met my eie voete bewandel het nie. Ek het plekke omvorm of verdoesel, maar die reisjoernalistieke reël streng toegepas deur nie oor plekke te skryf waar ek nie self was nie.
By verre is die grootste inspirasie vir die wêreldbou van die Bergengel-reeks die magdom dagboekinskrywings tydens my reise op die woestynberge, sneeuberge, eilandberge, bergstede, bergwoude, koraalberge en vulkaniese berge van sowat dertig lande. Mense dink soms my landskapbeskrywings is verbeeldingryk, maar dis onwaar. Die natuur is vir my heiligsgoed en wanneer ek daaroor skryf, lieg ek selde. Van die buitengewoonste natuurverskynsels in die verhaal het ek met my eie oë beleef. Gloei-alge in die kus van die Tsitsikamma. Donderstorms wat ’n droogte in die Bosveld breek. ’n Blomontploffing in die halfwoestyn van Namakwa. Vloeiwarm lawa op ’n berg in Hawaii en ’n strand met sout-en-peper-sand: wit koraal en swart vulkaanklip. So is die eilandregio, Eziovlei, losweg gebou op die Fens van Cambridgeshire waar ek toegekyk het hoe honderde swanepare migreer. Bellar is die Amasone-oerwoud, waar ek (soos die boekkarakters) saam met vleespienk rivierdolfyne geswem en gekoes het vir gifpaddas en wurgslange. In ’n woud in Kalifornië het ek soos Eron die vlerkgeklap van derduisende migrerende vlinders verwar met die klank van vallende herfsblare. Galgepiek en Verminkpiek is die Skotse Hoogland, waar ek my byna morsdood geval het op ’n sneeuberg. Port-Oist het iets van Nederland se skeepskultuur. Die Berglandse dorpies herinner aan die Hoë Atlasberge van Marokko. Naba is pure Franse Pireneë, behalwe vir die ommuurde Heiligbloed wat gebaseer is op ’n Duitse dorpie. Seël herinner sterk aan die Tsitsikamma waar ek woon. Barbel is ’n somerse Italië. Nisi is België. Waknia is deels Griekeland, terwyl die boumateriale van die Akrotfort in die slotboek ooreenkomste met Efese toon. Die rotsformasies genaamd feetjieskoorstene in Kappadosië het my betower, ek het daarin oornag en dit omskep in die klipwonings van Sozo. Die antieke ondergrondse stede van Turkye word Stroomblinkerbinnevloeibergstad. Ander bergreekse wat opduik is die Alpe, die Andes, die Drakensberge, die Swartberge en Waterberge.
Omdat die trilogie ook ’n reisverhaal is, was dit noodsaaklik om die geografiese ruimtes te karteer. Gabriëllië is ’n groot, alleenstaande vasteland omring deur oseane. Ek beskryf die uiteenlopende ekosisteme van die twaalf regione se weerstelsels, plantegroei, dierelewe en landskapvorming. Besonderhede oor die bewoners se kleredrag, kostradisies, musiek, volksbygelowe, argitektuur, idiome en dialekte word gedeel. Die streekstaal tshiOlam se “g” grof klink en die “r” rol, maar dis gehard soos die Afrikalandskap en sonder die wolkerige, krullerige woorde van byvoorbeeld Oudnabies. Dit het ’n klipperige klank, soos die omgewing, en wanneer dit vinnig gepraat word, klink die woorde soos ’n trop bokke wat teen ’n berg afhardloop.
Lesers word dus gelei om Gabriëllië as ’n reële ruimte te aanvaar, asook die landstuk van Olam in Afrika en die Onbekende Eilandgroep, wat ’n halfweghalte, hawe en handelspos tussen die twee vastelande is. Afrika bestaan aanvanklik slegs in die volksmitologie en word eers veel later geken as die metaalrykste vasteland op aarde, duisende seemyle vanaf Gabriëllië. Die derde boek speel grotendeels in Afrika af. Die mistige Dorp-wat-nie-bestaan is só Reunion, terwyl iets van die tropiese kuslyn van Mosambiek en Zanzibar herkenbaar is aan Azibo. Die Tugurivier is die Okovango van Botswana en die Sandwoestyn is die Namib. So word die plekke waar ek was herwin. Selfs die Hobbitagtige huisie waar Ruach Verberger groente op sy dak plant om te keer dat die herte dit vreet, is ’n beskrywing van ’n bejaarde vriend, Stuart, se woning in die Skotse Hoogland. Die flanbojante Heerseres Ulafi is skatryk en slaap al sittende omdat sy glo slegs die dooies lê – nes Madame Desbassayns wie se herehuis ek besoek het. Die Rietmense lig die stokke en verskuif hul reiteilande sodra gevaar dreig, soos die vredeliewendes van die Titicacameer in Peru. Inga waai met twee hande soos ’n Malawiër. Anav Elanov se drywende kleiklippe is geïnspireer deur ’n beeldhouer in Skotland, Lotte Glob, in wie se ateljee ek gekuier het. Lotte het honderde drywende klippe as boodskappers op riviere uitgestuur. Om die ruimte en karakters in hiperrealistiese taal te beskryf, met die hand van ’n reisjoernalis, vergroot die kans vir geloofwaardigheid wanneer die bowerklike uiteindelik verskyn.
Vraagstukke van vandag
Ek is ’n ywerige koerantleser, ek lees daagliks minstens vier nasionale en vier internasionale nuusblaaie en heelwat hedendaagse sosiale kwessies het deurgesypel na die verhaal. Demokrasie vereis selfdissipline en logika, om uiteenlopende sieninge te respekteer en te onderskei tussen reg en verkeerd. In die boekreeks word dit in teenstelling geplaas met die populisme van die sjarmante Velvel Azazel wat ooreenkomste met sekere hedendaagse leiers toon. Waarom verkies mense die gewilde toertjiemaker, die Kuller, die Verbluffende Bluffer, die roekelose kultusleier? Talia is ook ’n belowende leier, maar haar edel visie om haar mense uit wettisisme te verlos, vervorm wanneer sy haarself skuldig maak aan grusame landvergrype om haar doel te bereik. ’n Wafferse Wladimir Poetin, sien. Velvel en Talia is beslis nie die enigste booswigte nie, hulle het juis ’n inglipkans omdat die bestaande politiek van die Walvistraanmagnate en Regiohoofde gewortel is in hebsug en ekonomiese slawerny.
Die vlugtelingkrisis in die boekreeks is besiel deur nuusgebeure. Ná ’n lang seetog, nadat hulle gevlug het om hul kinders ’n lewe van geweld te spaar, word die ontheemdes, die verplaasdes, die skuilingsoekers soms stief behandel. Deur die tema van massaverplasing, met Eron se familie wat regoor die aarde versprei is, wil die verhaal vra: Wat is huis? Waar hoort ons tuis?
’n Ander belangrike subtema is die bedreiging van minderheidsgroepe soos die Kamoefleerders van Port-Oist en die Rietmense van Bellar, wie se unieke leefwyses en tradisies in die spervuur is. Die kwessie van onttaling word ook ondersoek deur die karakter van Anav Elanov, die laaste digter van die bykans sterwende taal, Oudnabies.
Geskiedenis: van die Sangrewolusie tot die Trümmerfrauen
Die Bergengel-reeks is ’n verhaal wat tydloos wil wees in die illustrasie van sekere oerbeginsels. Dis nie geskiedkundig verantwoordbaar nie, maar val vaagveg binne die tydgleuf van die laat negentiende eeu teen die agtergrond van die pre-industriële rewolusie, verstedeliking, die opkoms van ekonomiese monopolieë, landskapverkenning, die kartering van groot onbekende landmassas, die houtstormloop, die doodsnik van slawehandel en die hoogbloei van walvisjagtery.
Die verhaal is voortdurend in gesprek met die werklike geskiedenis. Só bring ek hulde aan diegene wat probeer het om op niegewelddadige wyses weerstand te bied teen onreg: Tydens die wit-papier-protes (2022) in China is velle skoon papier omhoog gehou in stille opstand teen die drakoniese regering, soos herhaal deur die kinders van die Akrotfort. Die Singende Verset van Eziovlei verwys na die Sangrewolusie (1987 tot 1991) tydens die Koue Oorlog toe honderdduisende Baltiese burgers in ’n volgehoue, vredevolle protesaksie gesing het wat uiteindelik gelei het tot die einde van Sowjet-besetting. Duisende Victory Vertical-klaviere is tussen 1941 en 1953 deur Steinway & Sons vervaardig vir Amerikaanse soldate op die slagveld – en Eziovlei sit die tradisie voort.
Die Galina Agterstam-hospitaal is ’n uitvloeisel van die versteekte hospitaaltjie, Partizanska Bolnica Franja, in ’n rivierkloof in Sloewenië wat deur ’n vroulike dokter, Franja Bidovec, tydens die Tweede Wêreldoorlog begin is en waar selfs die vyand mediese behandeling kon ontvang. Die Rommelvroue is ’n saluering van die Trümmerfrauen, die Duitse vroue wat ná die Tweede Wêreldoorlog die puinhope van ’n gebombardeerde Duitsland met hulle hande opgeruim het. Deur die Rietmense se haarvlegtradisie gee ek erkenning aan die Afro-Colombiaanse slavinne wat met hulle vlegsels geheime “kaarte” op hulle koppe geteken het om mekaar uit slawerny te help ontsnap. As aanvuring vir ’n bose vroulike leiersfiguur het ek weliswaar ook na die geskiedenis gekyk: Talia se omvorming tot Owerste Zenataliha is ligweg gebou op die intelligente dog wreedaardige Chinese keiserin Wu Zetian (gebore 624) wat van tiener “bywyf” ontwikkel het tot alleenheerser van China.
Die Engelse se verskroeideaardebeleid soos beskryf deur die Skotse geskiedskrywer Alexander Mackenzie in The History of the Highland Clearances (1881) was die denkbeeld agter die Skoonbrand in Gabriëllië, terwyl die verslae van die Russies-Oekraïense Oorlog (sedert 2022) ’n groot bron van insig vir die Uitdooftyd was. Ek wou die werklikheid ewe veel mitologiseer as wat ek die mite wou verwerklik.
Intertekste: van Dante tot James Bond
Popkultuur is speels en spaarsamig deur die boeke gesprinkel om die leeservaring vir die leser meer herkenbaar te maak. In Die Wonderwese is daar ’n vinnige kopknik in die rigting van Batman: The Dark Knight en in Die Waterplek: Gabriëllië is ’n spel met die 2012 film, Skyfall, met Eron Verberger wat by monde van James Bond praat, Talia as Raoul Silva en Sévérine as haarself. Voorts maak bekende sprokies soos “Aspoestertjie”, “Die Slapende Skoonheid”, “Die Fluitspeler van Hamelin” en “Die Ganswagtertjie” deel uit van die intertekstuele weefwerk, terwyl die Sewe Slapende Soldate ’n heenwysing is na die legende van die Sewe Slapers: ’n groep jeugdige gelowiges wat in 250 in ’n spelonk buite Efese geskuil het teen vervolging.
As reismistiek speel die boekreeks in op die drie dele van Dante Alighieri se verhalende gedig Heilige Komedie (1321). Vir Die Bergengel het ek idees geput uit Hel, in Die Wonderwese is daar die louteringsberg van Purgatorium en Die Waterplek (Afrika en Gabriëllië) sinspeel op Paradys. Dante beeld die paradys uit in konsentriese sfere en elke hoofstuk in Die Waterplek eggo ’n sfeer, byvoorbeeld Jupiter wat deur Dante verbind is met regering, Saturnus met oordenking, die maan met wispelturigheid, Mercurius met ambisie, die son met praktiese wysheid en so meer.
Om iets van ’n ou geloofstradisie te weerspieël, maak ek ook ruim gebruik van Bybelse verwysings, soos die profeet Elia wat ’n fluistering in die windstilte hoor en die sensuele ontwaking in die Hooglied van Salomo. Vir engelogie het ek gekyk na die Boek van Daniël, asook na die antieke Boek van Enog wat wemel van hemelwesens en melding maak van die “geweldenaars aan die oerbegin”, die Gibborim. Die vonk vir die Agt Geseëndes was die Bergpredikasie van Matteus 5, wat my op die spoor gebring het van Leo Tolstoy se filosofiese verhandeling, The Kingdom of God is Within you (1894). Dit was in Rusland verban, maar het die weg gevind na Mahatma Gandhi en gelei tot die niegewelddadige weerstandsbeweging satyagraha wat sterk in die verhaal betrek word.
Die waarheid gelieg
Mens kan slegs met oortuiging lieg as jy met oortuiging die waarheid kan praat. Ek het mediese kenners uitgevra oor die behandeling van brandwonde en amputasie van vingers, buisafbinding by jong meisies, die verwydering van tatoeëerings in die oudae, die simptome van skerpioenbyt, ontwatering en tropiese siektes, die reuk van gebrande mensvleis en of dit moontlik is om ’n laaste afskeidswoord te spreek met ’n fatale wond aan die keel, al dan nie. Dié beskrywings is gegrond op die allerwaarheid, alles daarvan. Ek het ook stip gelet op die invloed van mistigheid op klank en die maan op getye, die flora wat in ’n spesifieke bioom aard. Die seisoene het ek haarfyn uitgewerk. Die voorkoms en gedrag van die diere is waarheidgetrou: ’n Kraken verander van kleur terwyl dit paar, in die galbuis van ’n spermwalvis vorm klonte wat in gewig meer werd is as goud en die bekende marinebioloog, Nan Hauser, is in 2017 deur ’n boggelrugwalvis beskerm teen ’n haaiaanval, soos in die geval van skeepskaptein Anker von Suiderkruis. Agtergrondkennis oor valkery, wewery, steltstappery, skeepvaart, spioenasie, navigasie en oorlewing op land en see, walvishandel, klokgietwerk, kultusse, kielhaal, ambergrys, ondergrondse stoomtreine, Steam Punk, strydwapens, beleggingsoorloë en tsoenami’s is meestal via vakkundige artikels op die internet verkry. Vir bronsgietwerk het ek geput uit my jare as beeldhouer.
Met Die Bergengel-reeks wou ek doelbewus wegbeweeg van die selfbeheptheid van ons tyd deur myself in die skoene van ’n wildvreemde jongman te plaas (jare voordat ek self seuns gehad het) en vir hom ’n leefwêreld in ’n ander eeu op te droom. Al het ek vele persoonlike ervarings ingeweef, is Eron Verberger, soos elke ander karakter in die boekreeks, volkome ’n maaksel van my verbeelding. Ek kén persoonlik geen mens wat my herinner aan enige van die talle karakters wat deur die verloop van 1 240 bladsye hul verskyning maak nie. Omdat die verhaal nie outobiografies is nie, omdat dit nie mý lewensstorie nie en omdat dit nie (heeltemal) die wêreld is soos ons dit vandag ken nie, het dit my ironies bevry om meer getrou te wees aan my eie stem en eerliker te skryf as ooit tevore. Die afstand het my nader gebring aan die kern van wat dit beteken om in die 21ste eeu mens te wees, ek kan nie daarby verbypraat nie. Dit wat soos verbeelding lyk, is egter dikwels my werklikheidsbelewenis en dit wat as die werklikheid voordoen, is suiwer verbeelding.