EKM Dido en Jolyn Phillips oor hul pad na debuteer

In hierdie aflewering van ons artikelreeks oor die wêreld van die skrywer het ons twee skrywers gevra om oor die volgende vrae te besin: Watter gebeurtenis(se) en/of individue het daadwerklik daartoe bygedra dat ’n skrywer kon debuteer, of aangemoedig gevoel het om aan ’n eerste manuskrip te begin werk? Watter geleenthede was van onmisbare waarde om te groei en nuwe rigtings in te slaan?

Oor aanmoediging en geleenthede – EKM Dido

Dit is geen geheim dat ek nooit gedink het dat ek eendag skrywer sou word nie. Kleintyd het my ouma my smiddae aangemoedig om my skoolwerk, of ’n brokkie nuus vanuit ’n koerantuitknipsel, vir haar voor te lees. Ek het dit gedoen. Daar is geen manier hoe selfs ’n slapende kind nie Sus en Daan is maats soos ’n resitasie kon opsê nie, maar my persepsie van woorde en sinne was uiters wankelrig, om dit sagkens te stel. Dit wat ek uitgegorrel het, was nes deeg sonder suurdeeg. Totdat die ATKV onwetend deur middel van ’n nuusbrief aan ons laerskoolonderwyser ’n nuwe wêreld vir my geopen het. Die naam van die nuusbrief is vergete. Uitspan, of so iets. Weet nie. Die kortverhaal daarin was my penwortel. My persepsies het soos multidimensionele kaleidoskope ontplof, lewe aan die geskrewe woord gegee en leesgierigheid in my brand gemaak. Later het ek die werke van my land se groot skrywers, soos Ernst van Heerden, Marlene van Niekerk, André P. Brink en Elsa Joubert, gulsig verslind. Henk van Woerden se werke het my belangstelling in Hollandse en Vlaamse skrywers aangewakker.

Ontmoeting met Engels was op hoërskool. Tussen bloed sweet en worstel met verlede tyd en toekomstige tyd en diesmeer, het my tande weggesink in Charles Dickens se wonderlike werke. So, ja, baie mense het wetend en onwetend vorm aan my gegee. Die skryf van my eerste boek was per ongeluk. Of blote toeval? Dit moes ’n kort sakebrief aan ’n koerant gewees het, maar toe verstrik my pen in woorde en is ’n manuskrip daaruit gebore. My dogter se aanmoediging was en is steeds onbeskryflik.

Niks kon my egter voorberei vir die terugvoer vanaf die uitgewer nie. Twyfel bestaan of selfs gesoute keurders werke so uitmekaar kan trek en kantlyne met so baie vrae kan vul! Verbaas dit my? Telkens. Raak ek woedend? Definitief. Dit was my werk. Ek het dit geskryf. Ek weet wat ek met elke woord probeer sê. Hoe durf iemand anders my werk bevraagteken. Wil ek tou opgooi? Die idee bereik soms rooskleurige pieke. Huil ek? Snot en trane. En dan maak ek steeds wat ek vanaf die eerste manuskrip maak. Gooi dit in ‘n laai. En gaan staan vir ‘n dag of twee langs Lot se vrou en bejammer myself tog te lékker.

Na ’n paar dae dring die onmiskenbare waarde van kritiek altyd deur die wasem van selfbejammering en misplaaste ego. Relatiewe groentjie wat ek in die skrywerswêreld is, kan ek ’n paar belangrike feite nie ignoreer nie. Uitgewers val my nie persoonlik aan nie. Hulle ken my nie eintlik nie, maar wel die werk wat ek indien. Die leser behou ten alle tye my volle respek. Die uitgewer redigeer my werk en bekyk dit uit die oogpunt van die leser. Hierdie wete is die rede waarom ek die manuskrip uit die laai haal en tydsaam aan elke vraag of kwessie werk. Hierdie keer sonder trane of verdriet, maar met bevrediging.

Wanneer die resensies verskyn doen ek steeds dieselfde daarmee. Lees die goeie of slegte resensies noukeurig deur en laat nie toe dat dit my onderkry nie. Ek gebruik daardie inligting om moontlik hoër hoogtes in die volgende manuskrip te bereik. Tog. Ek weet nog nie wat om te maak van resensies wat duidelik laat blyk dat die resensent net ’n bladsy of twee van die hele boek gelees het nie. Gelukkig is daar altyd ’n paar resensente wat hul mening opper. My mees objektiewe kommentaar kom van die lesers. Wanneer hulle praat, is my ore altyd oop. Lesers se menings is vir my ontsettend waardevol. Daarom is die strewe daar om werke so geloofwaardig moontlik te maak.

Is daar groei te sien in my werke? Te danke aan kritiek – hetsy positief of negatief – is daar definitiewe vordering in my werke te bespeur. Dink ek. Om myself te verbeter, en hopelik baie van daardie vrae en kommentaar op die kantlyn vry te spring, herskryf ek die werke verskeie kere voordat ek die manuskrip inhandig. Skryf is vanselfsprekend ’n eensame proses. Om ’n manuskrip daarna te herskryf totdat ek tevrede daarmee is, neem tyd en energie. Vriendskapsbande kwyn of verbreek terwyl die manuskrip meer verfynd raak. Maar eensaamheid verdof geensins die brandende begeerte om met woorde te speel nie. Kritiek en aanmoediging het my ook ’n nuwe rigting laat inslaan: dié van kortverhaalskrywer. Dit is opwindend en uitdagend. Ongelukkig nodig ek ’n hele paar weke om ’n konsep deur te dink.

Tande tel – Jolyn Phillips

Ek sit tans in ’n kantoor op Kingsway-kampus, besig om Afrikaans 3A-eksamenantwoordstelle na te sien. Ek is ’n dosent by die Universiteit van Johannesburg. ’n Jaar gelede het albei my debuutbundels literêre pryse ontvang – Tjieng Tjang Tjerries and other stories ontvang die NIHSS-prys vir Beste Fiksie en Radbraak, my digbundel, die UJ-debuutprys. ’n Jaar gelede was ek nog ’n PhD-student by die Universiteit van Wes-Kaapland en toe loop my woorde ’n pad uit my potlood, in ’n bindsel in. Hier in Egoli is my lewe besig om nuwe woorde en stories bymekaar te maak en hulle prut in my hart.

In my tweede jaar by UWK, 11 jaar gelede, staan ek voor ’n pers poster op die noticeboard in DL7. Dis ’n A3-grootte plakkaat van Toni Morrison se gesig. Daar gaan volgende jaar ’n nuwe module in die Engelse department aangebied word, Creative Writing: “Only 15 entrants will be considered – you may submit 15 poems, 3 short stories or a chapter of a novel. Due date: 31 October 2009”. Ek het myself stilletjies herinner aan die gedigte wat ek in hoërskool gepleeg het. In November ontvang ek goedkeuring vir die kursus.

Dit is 2010, tweede semester. Vyftien van ons sit in C3. Die dosent stap in met haardos en swart uitrusting – sy lyk soos ’n jong Bob Dylan. Sy noem dat alhoewel sy ’n Afrikaanse van het, sy nie Afrikaans kan praat nie – sy het in Europa grootgeword. Ek luister aandagtig, senuweeagtig. Die hele jaar kry ek terugvoer wat sê: “You are misinterpreting the question”. Ek slaag alles net-net. Oorweeg dit selfs om aansoek te doen vir ’n nagraadse onderwysdiploma volgende jaar. Die dosent onderbreek my gedagtes met: “Do you know what a free-write is?” Sommige sê ja, ander nee en ek sê vir myself “saying nothing will keep you from misinterpreting”. Ek sukkel deur die oefening – “a free-write requires one to write without inhibition. Don’t worry about making mistakes.” Ek het my pen op my skryfblok gesit en al wat ek kon uitkry, was ’n kolletjie. Dit was een van my belangrikste lesse in skeppende skryfkuns. Ek is dankbaar vir elke woord wat ek op ’n stuk papier kan sit, want daar was ‘n tyd toe ek nie geweet hoe om “vry” te skryf nie.   Ek besef daar is woorde wat leer, wat lees, wat praat en dan is daar die wat jou hele liggaam opneem. Die storie wat duskant jou vel sit en woorde in jou inskryf.

Die volgende week moes ons die oudste storie wat ons ken, skryf. Ons moes ’n onderhoud voer met die oudste persoon in ons familie. Hierdie opdrag was vir punte. Ek het nie familie in die Kaap gehad vir wie ek kon vra nie. In daardie oomblik besluit ek, ek gaan die opdrag opmaak. Wie sal weet? Ek het ’n groot argief van my huislewe. As kind het my ma my altyd weggejaag uit die grootmense se geselskap: “Moenie kom tande tel nie. Loop speel!” Ek het genoeg tande getel en genoeg stories in my tandetel-argief om mee te werk, dink ek.  Ek sal my ma gebruik.  Ek kies vir ons ’n seisoen: somer. Die wasgoed word gouer droog en sy sal meer tyd hê vir gesels.  Dit is omtrent twaalfuur en ons sit en bak in die sonnetjie op die stoep.  Sy steek ’n Stuyvesant-entjie aan. Neem ’n blaaskans van al die gewoel en wasgoedwassery, blaas die moeg uit met elke skyf. Iemand stap verby en roep-groet. Almal van hulle het stories – ouer as ek, ouer as hulself.  Ek kies die storie van my ma se troue. Sy was iets borrowed, omdat sy geen ma gehad het nie, sy was iets blue, want sy wou meer uit die lewe en van God gehad het, en sy het sedertdien iets old geword. Ek het dit geskryf en plek gemaak vir my ma se taal, so tussen die Engels. Hier sit ek in die Kaap met die woorde van my plek, skulpe lewende fossiele. Ek weet die woorde wag vir my doer by die hawe, dit ruik na fynbos, na al die brood- en koffie-oggende van kleintyd voor skool. My eerste karakter kom in my honneursjaar aangestap  – hy loop op ’n stofpad, deurdrenk met skuldgevoelens, op pad huis toe. Hy staan by Stanford se cross, kry lift op ’n bakkie en ek sit saam met hom op die bakkie op pad huis toe.

Vandag in Johannesburg is daar ’n karakter waarmee ek sukkel en niks van my vorige skryfwerk kan my help nie. Elke nuutskryf is ’n skuit op sy eerste vaart.


Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.